Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"Ek dink gemeentes in ander streke kan saam met ons leer vanuit hierdie gebeure. ’n Mens kan net doeltreffend in chaostye help wanneer daar gesonde verhoudings reeds in plek is." So vertel ds Alex Clark van Diakonia. Hy en ds Danie Mouton (Oos-Kaap) gee terugvoer oor hoe dit gaan in hulle gemeentes weke na groot stormskade gely is. Foto: Helene Meissenheimer

Só gaan dit weke ná groot stormskade | Boere is getraumatiseer, vra voorbidding

Hoogtepunte:

  • ‘Oorweldigende reaksie’ met bydraes van R5 000 tot R100 000

  • Honderde kry veilige blyplek in kerksale, kospakkies, klere en potte vol sop

  • R90 000 al uitbetaal aan gemeentes en organisasies vir hulpprojekte

’n VKO-skooltjie en ’n kwekery tel onder die ingrype en meer as R90 000 is in uitbetalings aan NG en VGK gemeentes asook Badisa-programme gemaak, vertel ds Alex Clark van Diakonia se ramphulpaksie en uit Gqeberha in die Oos-Kaap rapporteer ds Danie Mouton dat tussen 70-100 plaaswerkers in ’n kerksaal gehuisves is en dat soveel komberse, klere en kospakkies ontvang is dat lidmate skaars kon voorbly met uitsorteer en uitdeel. 

Weke ná groot stormskade, gee twee verteenwoordigers uit die Wes- en Oos-Kaap terugvoer oor die wyse waarop NG gemeentes sigbaar was om mense en gemeenskappe in nood by te staan. Hier is hulle terugvoer op Kerkbode se ses vrae.

Kerkbode (KB): Hoe het plaaslike NG gemeentes in jou streek tot dusver gereageer op die nood in hulle gemeenskappe, en is daar enige voorbeelde van hulpverlening wat in besonder vir jou uitgestaan het?

Alex Clark (AC): Iets wat herhaaldelik op kerkvergaderings gesê word, is dat die kerk se wese en funksie duidelik word in en deur die plaaslike gemeente. Dit is natuurlik ook waar in tye van krisis. Gemeentes het hulle deure oopgemaak om mense te help en te ondersteun op verskillende maniere. Kospakkies is gepak, sop is gekook en versprei en ’n veilige hawe is gebied vir mense wat nie skuiling gehad het nie. Op Ceres is ’n kerksaal beskikbaar gestel vir ’n VKO-sentrum wie se geboue ernstig beskadig is deur die storm. Die kinders word vir ses weke geakkommodeer terwyl verreikende herstelwerk aan hulle geboue gedoen word. Die eerste oggend was die sowat 100 kindertjies nog ’n bietjie skugter en onseker oor die nuwe ruimte, maar van die tweede dag af het hulle die plek met hulle vreugdevolle stemme en energie gevul. Dit is deur aksies soos hierdie wat gemeenskappe gebou en nader aan mekaar gebring word. In ’n ander gemeenskap het lidmate ’n kwekery gehelp om bome en plante weer op hulle plek te kry sodat die besigheid kan aanhou funksioneer. In baie gevalle is dit klein aksies wat nie werklik nuuswaardig is nie, wat ’n verskil maak. Hierdie aksies help mense ervaar dat hulle nie alleen deur die storms van die lewe hoef te gaan nie.

Plaaswerkers soos Awie Miggels en sy dogter Mammie het groot verliese gely toe hulle huise oorstroom het. Hier kyk hulle deur klere wat die NG Kerk Gamtoosvallei as skenkings ontvang het van sover as Jeffreysbaai en Gqeberha. Ook komberse en kos is gestuur om verligting aan mense in nood te bring. Foto: Johan van der Watt
Daar is nog fondse beskikbaar vir gemeentes (Wes-Kaap) wat projekte van stapel wil stuur. Hulle is welkom om die Diaconia-kantoor te kontak (diaconia@kaapkerk.co.za) om die vorms te kry en aansoek te doen vir hulp. Foto: Helene Meissenheimer

Danie Mouton (DM): Die NG Gemeente Gamtoosvallei in die Hankey-Patensie-omgewing, het tussen 70 en 100 plaaswerkers in hulle kerksaal gehuisves. Dié gemeente, en NG Kerk Gamtoosvallei-Oos, het baie donasies van matrasse, klere, komberse en voedsel vanaf die gemeenskap ontvang. Ander gemeentes het kospakkies geskenk asook baie klere, wat via dié gemeente na die plaaslike gemeenskap gekanaliseer word. Aangesien Gamtoosvallei se kerksaal vir huisvesting gebruik is, het Gamtoosvallei-Oos hulle kerksaal vir berging en sortering gebruik. Die hele kerksaal was op ’n stadium vol donasies en lidmate moes spring om voor te bly met verspreiding.

Die gemeente het ook ’n tweedehandse klerewinkel begin. Hoëkwaliteitklere is vir spotgoedkoop (R5) verkoop en die fondse teruggeploeg in hulpverlening. Iemand het selfs ’n halwe brood geskenk, dit was al wat hulle gehad het (dink weduwee wat die oortjies ingegooi het).

Nog ’n gemeente het sowat 100 pakkies met komberse en waslappies met handgemaakte kaartjies gegee met ’n boodskappie.

Ander denominasies en onafhanklike kerke uit die breër omgewing van Humansdorp tot Nelson Mandelabaai het ook sakke en sakke vol klere, komberse en beddegoed gebring.

Die emosionele lading op boere se skouers is tans baie swaar. Tog moet die werk voortgaan. ’n Groot stuk oorlewing en heropbou lê nog voor. Foto: Wilmi Wheeler

KB: Hoe was die reaksie vanuit die breër NG Kerkfamilie?

AC: ’n Mens bly dankbaar daarvoor om deel van ’n groter kerkverband te wees, veral weens die oorweldigende reaksie wat ons gekry het. Die bydraes het gewissel van individue wat geskakel het en gesê het hulle het nie veel om te gee nie, en dan ’n bedrag van R5 000 inbetaal, tot die Algemene Sinode se bydrae van R100 000. Hierdie is gawes wat ons werklik opreg waardeer. R90 000 is reeds uitbetaal aan NG sowel as VG gemeentes, asook Badisa-programme.

Daar is nog fondse beskikbaar vir gemeentes wat projekte van stapel wil stuur. Hulle is welkom om die Diaconia-kantoor te kontak (diaconia@kaapkerk.co.za) om die vorms te kry en aansoek te doen vir hulp.

DM: Ons het ook baie ruim geldelike donasies ontvang via ons sinodale rampfonds. Mense gee graag. Gemeentes en gelowiges is oorweldigend vrygewig. Naas basiese lewensmiddele is koffie, tee en ketels ook geskenk – iets wat mense kon help om warm te wees en ’n blaaskansie te geniet, ’n Kit-kat-oomblik.

Luister ook: Kollig-podsending | Gesprek oor die kerk se ramprespons

KB: Watter uitdagings ervaar gemeentes en predikante steeds?

AC: Mense se aandag skuif na die volgende probleem of wat op vandag se koerantvoorblad verskyn. Persone wat in die rampgebiede woon word ook moeg en kan met groter irritasie begin optree. Daar is dele van ons breër gemeenskap wat na drie weke steeds nie elektrisiteitstoevoer het nie. Dit beïnvloed mense se gemoed. Die gevolge van die storm is steeds vir hierdie gemeenskappe tasbaar terwyl die nuussiklus al aan beweeg het.

DM: Na die eerste paar weke waar oorlewing op die voorgrond was, is emosionele spanning en uitputting nou ’n groot faktor. Die emosionele lading op boere se skouers is tans baie swaar.

Tog moet die werk voortgaan. ’n Groot stuk oorlewing en heropbou lê nog voor. Hoewel groot skade gely is, is daar steeds ’n oes wat ingebring moet word. Daar is ’n bottelnek by pakstore, want hulle was weke buite aksie. Vrugte aan bome moet nou afkom voor dit verlore gaan. Paaie word self herstel, maar met reën wat nogmaals dreig wonder mense of die tydelike paaie en bruê weer gaan wegspoel.

Daar is ook kommer oor Julie en later se vrugte-oes. Dit is dus ’n ontplooiende tragedie wat nog oor tyd gaan afspeel.

Van die boere is baie getraumatiseerd. Sommige word deur vrees oorweldig. Post-traumatiese stres.

Lees ook: Trauma na vloedskade: Meer as komberse is nodig en die kerk kan help

KB: Wat het hierdie ervaring jou geleer oor wat in plek moet wees voor ’n ramp of krisis tref?

AC: Die werk word op grondvlak deur gemeentes gedoen. Die hande vuilmaak en direk by persone betrokke wees gebeur plaaslik. Die sinodale strukture help met koördinering en netwerke. Jy weet nie wat jy nie weet nie, en die groter kerklike strukture help om mense bymekaar uit te bring wat kan help en ondersteun. Dit is nie billik om van die sinodes te verwag om die werk te doen nie, maar hulle help gemeentes sodat die werk gedoen kan word. Ek is van mening dat die struktuur in hierdie omstandighede die kerk en die breër gemeenskap goed gedien het en is dankbaar vir die hulp en ondersteuning.

DM: Ons sinode het vooraf rampopleiding gedoen, wat ’n goeie responsnetwerk vir ramphulp geskep het. Dit was baie tydig, want dit ontsluit baie hulp, maar ons moet beter weet hoe om hulp wat ontvang word te bestuur. Dit moet gesorteer en na die werklike nood gestuur word. Ons moet weet en planne hê hoe om hulp op die beste manier op die regte plekke te kry. ’n Mens wil verseker hulp kom by die regte ontvangers uit. Die bestuur van ramphulp is krities belangrik en vaardighede hieroor moet in ons sisteem verbreed word.

Alex Clark: “Ek wil graag namens Diaconia (wat ’n samewerkende bediening is tussen die NGK Wes-Kaap en VGK Kaapland) baie dankie sê vir elke persoon, gemeente en sinodale struktuur wat in die laaste paar weke uitgereik het na mense wat deur hierdie storm geraak is. Ons is liggaam van Christus en het al die ledemate nodig. Ons wil julle op dieselfde wyse bystaan wanneer julle nood beleef.” Foto: Wilmi Wheeler

KB: Enorme strukturele skade en swaar landbouverliese is gely. Daar lê nog ’n lang herstelpad voor. Wat is volgens jou die kerk en gemeentes se ‘regte baan’ om hiermee te kan help?

AC: Die kerk se rol bly eerstens die verkondiging van die evangelie. Ons rol is om mense te herinner aan God se teenwoordigheid, selfs binne hierdie tye van chaos. Gemeentes moet saam met mense sit en troos bring en help trane afvee. Ons rol is dus pastoraal. Hiermee saam kan gemeentes help om deur hulle netwerke mense en organisasies bymekaar te bring, sodat hulp meer effektief op die regte plekke kan uitkom.

DM: Bemoediging, pastorale ondersteuning, ligdraers, om die kerk se netwerk van donateurs, wat graag hulp verleen, te bly ontsluit, en onderskeiding oor wat die beste manier is om vorentoe te gaan. Onder meer hoe om mense te ondersteun wat alles verloor het.

KB: Hoe kan kerke en gemeentes elders in Suid-Afrika die herstelproses in die komende weke en maande bly ondersteun?

AC: Ek dink gemeentes in ander streke kan saam met ons leer vanuit hierdie gebeure. ’n Mens kan net doeltreffend in chaostye help wanneer daar gesonde verhoudings reeds in plek is. Dit is waar vir families sowel as vir groter gemeenskappe. Verhoudings moet in die mooiweertye gebou en in stand gehou word, sodat mense tydens die storm op mekaar kan steun.

Ek wil graag namens Diaconia (wat ’n samewerkende bediening is tussen die NGK Wes-Kaap en VGK Kaapland) baie dankie sê vir elke persoon, gemeente en sinodale struktuur wat in die laaste paar weke uitgereik het na mense wat deur hierdie storm geraak is. Ons is liggaam van Christus en het al die ledemate nodig. Ons wil julle op dieselfde wyse bystaan wanneer julle nood beleef.

DM: Voorbidding. Aanhou om al die mooi uit te lig. Die Here se sorg en steun te bly raaksien.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top