Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dawie de Wet van Die Strand skryf: Die Kaapse Hooggeregshof het bevind (02.06.2026) dat die NG Kerk se tugliggame baie onkerklik opgetree het in die Coetzee-saak. Behalwe vir ’n kort amptelike verklaring waarop reeds gereageer is (DK 11.06.2028), bly die leierskap van die NG Kerk stom en die vrae onbeantwoord rakende hierdie uitspraak.
Lees ook: Hooggeregshof stel tugsaak teen Marius Coetzee ter syde; nuwe ondersoek gelas
Die kwellende vraag is: Hoe het die geestelike peil in die NG Kerk só gedaal dat die burgerlike hof dit nodig geag het om tugliggame van die NG Kerk tereg te wys oor hulle gebrek aan “fairness and justice?” Is dit dan nie wesenskenmerke van die kerk nie?
Die enigste verklaring vir hierdie tipe optrede in die kerk is myns insiens dat die tugliggame die denke van die ideologie van sosiale geregtigheid (of “wokeness”) slaafs navolg. Dit is algemeen bekend dat hierdie ideologie stelselmatig in die Kerk veld gewen het ten koste van die Woord van God en die belydenisgrondslag van die kerk.
Lees ook: Hofbevel of halwe aanhaling? Sedgefielder vra sinode om duidelikheid
Hierdie denkwyse probeer elke sosiale probleem oplos deur die toepaslike “onderdrukkers” en die “slagoffers” aan te wys. Hulle word dan gestereotipeer. Soos in: alle rykes is onderdrukkers en alle armes is slagoffers (klassieke Marxisme). Die “onderdrukkers” moet “gekanselleer” word deur nie met hulle te onderhandel of enige platform te gee nie, en die “slagoffers” is altyd onskuldig en dra geen blaam nie.
Die lys “onderdrukkers” word in “wokeness” na elke sosiale vlak deurgetrek, soos na mans, die polisie, heteroseksueles, onderwysers, ouers, ens. Die “slagoffers” is dan respektiewelik vroue, kriminele, LGBTQIA+ mense, leerders, kinders, ens. Die fokus is op die gevoelens van die slagoffers.
Die kerklike weergawe daarvan is dat Jesus Christus voorgehou word as die ideale mens. Sy liefdevolle voorbeeld van empatie, deernis en goeddoen aan randfigure word Bybels verkondig, maar sy oproepe tot bekering en oordeelsaankondigings word liewer verswyg.
Die betekenis van tekste word deur die gevoelens van “slagoffers” bepaal. Sonde en skuld voor God, berou en bekering en die eise van dissipelskap word geïgnoreer, want dit laat (onskuldige!) slagoffers ongemaklik voel.
Alle leraars en kerkrade wat ‘woke’ sinodebesluite kritiseer, word in hierde denke as ‘onderdrukkers’ gesien wat gekanselleer en wie se platforms weggeneem moet word. Dit was duidelik hoe die tugliggame die applikante in hierdie saak beskou het.
Derhalwe het die kerklike tugliggame se hantering van die saak vir die burgerlike hof eerder na ’n ‘kerklike tribunaal’ (soos die inkwisisie tydens die Hervorming) gelyk as na ’n Gereformeerde tugaksie waarin die eer van God en behoud van die sondaar voorop behoort te staan.
Die implikasie van die hofuitspraak, in die konteks van my oorvereenvoudigde redenasie, is dat die hof die applikante as die eintlike ‘slagoffers’ uitgewys het.
Kom ons leer uit hierdie saak, want die groot verloorder is die koninkryk van God.

Inderdaad
Die kerklike leierskap moet aangespreek word en tot verantwoording geroep word. Dis skandelik dat ‘n wêreldse hof dit moet doen en dat daar tot nou toe nog geen optrede van kerklike kant teeoor hierdie onreg gekom het nie.
Of gaan dit net stilweg aanvaar en onder die mat ingevee word?
Wat van die miljoene rande wat uit die kerklike offers (lees: gewone gemeentelede se kollekte en dankoffergeld) vir hierdie nalatigheid gegee moet word: Koninkryksgeld wat onnodiglik vermors word.