Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

durbanville gemeente 200
Die NG Kerk Durbanville Moedergemeente vier vanjaar 200 bestaansjare ondermeer met ’n feesboek en video wat hierdie Kaapse gemeente se storie vanaf ossewa tot Fortuner-dae vertel. Joernalis Lizette de Bruin en dr Andrew Kok het tydens die bekendstelling vertel hoe ’n moeilike proses hierdie projekte was. Foto's: Wilmi Wheeler, KaapKerk

Durbanville se ‘moeder’ word 200 | Mikrogeskiedenis van makrogemeente knap vertel

Op Saterdagaand 1 Augustus is ’n feesboek en video bekend gestel wat op knap wyse ’n voorstedelike Kaapse gemeente se storie vanaf ossewa tot Fortuner-dae oor 200 jaar vertel.

 

Die NG Kerk Durbanville is die 16de gemeente in die NG Kerk om die 200-jaar kerf te haal en die 11de in die streeksinode van Wes-Kaapland. So het dr Andrew Kok, lidmaat hier en voorheen verbonde aan die NG Kerkargief, by navraag vertel.

In die 2026 Jaarboek van die NG Kerk sien ’n mens hierdie is ’n makrogemeente met meer as 2 400 belydende lidmate. Hulle is een van nege gemeentes in die Ring van Durbanville.

LEES OOK: Kerkspieël 2026 onthul die stippellyne wat gemeentes sélf moet trek

Met die bekendstelling van die feesboek, Fontein van lewe, is ’n eksemplaar aan elkeen van die huidige leraars sowel as van hulle voorgangers oorhandig.

Die aand was vol stories

Saterdagaand is gehoor hulle hou drie eredienste op ’n Sondag en het vier voltydse predikante. Ook is vertel van die talle maniere waarop lidmate van hierdie gemeente in die gemeenskap betrokke is, byvoorbeeld by die Durbanville-kinderhuis, sopkombuise, ’n ID-projek en ook wyer met jaarlikse jeuguitreike na die Oos-Kaap.

Met die bekendstelling van die feesboek, Fontein van lewe, is ’n eksemplaar aan elkeen van die huidige leraars sowel as van hulle voorgangers oorhandig. Uit laasgenoemde groep was emeritus-ds Gawie Gouws (medeleraar by Durbanville-gemeente vanaf 1988 tot 1996) gevra om die aand te open. Hy het vertel hy kry hoendervel as hy dink aan God se trou in hierdie gemeente oor geslagte heen. Met verwysing na Psalm 138 se laaste vers oor God wat sy handewerk nie laat vaar nie, het hy gesê: “Dit het God vir 200 jaar gedoen en sal dit nog vir geslagte lank doen”.

Die aand was vol stories. Gaste het gehoor ’n boer wat sy ossewa te na aan die kerk parkeer het en toe daar vuur gemaak het was die rede vir die muur wat destyds om die oorspronklike kerkgebou van 1826 gebou is – dieselfde muur en kerkgebou wat vandag steeds staan met die kerkgebou wat natuurlik al ’n paar keer vergroot is. Ook van ’n ongewone doop in die konsistorie, ’n pastorie wat amper weens ’n opsitkers afgebrand het en van ’n meer onlangse dominee wat met soveel water baba’s doop ’n seuntjie het vir hom gesê “jy mors!”.

So twee jaar terug is Kok, saam met ander, getaak met die uitdaging om twee eeue se lief en leed in ’n volkleur-feesboek te verpak. Terselfdertyd is nog ’n lidmaat, Lizelle de Bruin, aanbieder van RSG se Binnekamer-reeks, gevra om ’n video van 30 minute te maak wat op die ou einde bietjie langer is.

Die twee het tydens die bekendstelling vertel hoe ’n moeilike proses hierdie projekte was. Nie net was daar Boeings en vlieë wat gepla het met van die buitelugskote vir die video nie, maar daar was soveel materiaal en stories om van te kies. In twee eeue lê baie stories. Hoe kies jy wat kom in en wat moet korter of uit? “Julle moet ons vergewe as jou foto of onderhoud nie in is nie,” het hulle gevra. In die gehoor was huidige en oud-leraars, lidmate en ook gaste soos ds Marinus Theron, moderator van die NG Kerk in Wes-Kaapland asook ds Karien Muller van die VGK-gemeente in Durbanville.

Dit het begin by ’n groepie boere en ’n fontein

Soos die meeste gemeentes van toeka het ook Durbanville-gemeente hulle ontstaan te danke aan ’n groepie boere wat ’n eie gemeente van die Kaapse goewerneur gevra het. Dit is hoe dinge in die 19de eeu gewerk het. Vir hierdie groepie van elf uit die omgewing van vandag se Tygerberg het ’n nader opsie beter geklink as om op ’n Sondag te perd of in ’n ossewa te reis na een van die vier NG gemeentes wat in 1824 in hulle omgewing was, naamlik Groote Kerk, Stellenbosch, Paarl en Swartland op Malmesbury.

Kok het vertel die plek waar vandag se kerkgebou staan is gekies omdat dit naby ’n fontein was waar reisigers destyds graag uitgespan en gerus het. Lord Charles Somerset het toestemming gegee en so ontstaan “de gemeente aan de Tijgerbergen”. Die gemeente se naam het in 1886 verander na Durbanville Gemeente.

Wat die oorspronklike groepie boere nie kon geweet het nie was hoe groot en wyd hierdie gemeente se impak sou word. Uit hierdie een gemeente het nege ander direk afgestig en uit hulle weer nog 46. Kok het vertel daar word daarom ook na die Durbanville-gemeente as die moedergemeente van gemeentes in die noordelike voorstede verwys.

Hy het gesê toe hy Saterdagaand al die mense so om die kerkgebou sien staan het dit hom herinner aan wat iemand in 1826 in die South African Chronicle (Kerkbode was nog nie daar nie) geskryf het na die amptelike inwyding: “This beautiful little church, refreshing to the eye of the traveler, like an oasis in the desert, and of incalculable importance to the dwellers of the country, as a light shining in a dark place, has at length been opened for public worship. Nothing could exceed the beauty of the spectacle in the goodly crowds of anxious and greeting people who had assembled on the occasion. The building was overflowing at an early hour, and many persons could not even get standing room.”

  • Die feesboek, Fontein van lewe: Durbanville Gemeente 1826-2026, kos R500 en kan by die kerkkantoor bestel word.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top