Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ná die dood van ds Keydy O’Callaghan skryf oud-kollegas by Caritas Gemeenskapsfokus: "Rus sag, ds Keydy. Dankie vir die skadu wat jy gebied het, vir die mense wat jy opgetel het en vir elke lewe waarin jy hoop geplant het."

In Memoriam: Caritas Gemeenskapsfokus bring hulde aan ds Keydy O’Callaghan: ’n Reus van ’n mens het stil geword

Ná die afsterwe van ds Keydy O’Callaghan skryf Maatje Brand, die bemarkingsbestuurder van Caritas Gemeenskapsfokus: Daar is mense wat deur jou lewe stap, en dan is daar mense wat spore in jou lewe trap. Ds Keydy O’Callaghan was só ’n mens.

 

Keydy is op 20 Desember 1960 gebore en het in Februarie 2021 by Caritas Gemeenskapsfokus aangesluit, waar hy later as Uitvoerende Direkteur gedien het. Maar Keydy was veel meer as ’n titel of posisie. Hy was ’n dominee, berader, mentor en vriend – ’n besondere mens met ’n buitengewone vermoë om verby die woorde wat mense praat, tot by die mens daaragter te sien.

Keydy het mense verstaan.

Hy het verstaan dat daar agter woede dikwels seer lê en dat daar agter stilte soms ’n verhaal skuil wat iemand nog nie die moed gehad het om te vertel nie. Hy het geweet dat gebroke mense nie oordeel nodig het nie, maar iemand wat bereid is om langs hulle te gaan sit en werklik te luister.

En Keydy kon luister – nie net met sy ore nie, maar met sy hart.

As dominee het hy sy geloof geleef eerder as om bloot daaroor te praat. As berader het hy mense deur van die donkerste en moeilikste tye van hul lewens begelei. As leier het hy geglo dat mense belangriker is as posisies, titels en strukture. Hierdie mensgerigte benadering het ook diep spore by Caritas Gemeenskapsfokus gelaat.

Keydy se grootste nalatenskap kan egter nie op ’n balansstaat gemeet of in ’n jaarverslag neergeskryf word nie. Dit leef in mense.

Dit leef in die mens wat weer hoop gekry het omdat Keydy geluister het; in die gebroke persoon wat nie veroordeel nie, maar raakgesien is; in die kollega wat aangemoedig is; en in elke mens wat ná ’n gesprek met hom ’n bietjie ligter huis toe gegaan het.

Keydy was, in die ware sin van die woord, sout van die aarde – nederig, eg en menslik. Iemand wat diep kon dink en nog dieper kon voel. Iemand wat die menslike hart en al sy broosheid verstaan het.

Hy het eenmaal die beeld van ’n kameeldoringboom gebruik – ’n boom wat skadu en voedsel gee en skuiling bied aan dié wat dit nodig het. Dalk beskryf dié beeld ook iets besonders van Keydy se eie lewe.

Hy het skadu gegee.
Vir mense wat moeg was. Vir mense wat seergekry het. Vir mense wat verdwaal het. Vir mense wat net vir ’n oomblik ’n veilige plek nodig gehad het om asem te haal.

Die stilte wat ’n mens soos Keydy agterlaat, is groot, juis omdat sy teenwoordigheid vir soveel mense iets beteken het. Ons sal hom onthou vir sy wysheid, sy geloof, sy deernis, sy humor en sy besondere insig in mense. Maar bowenal sal ons hom onthou vir hoe hy mense laat voel het – gesien, gehoor, verstaan en belangrik.

Keydy laat sy vrou en drie seuns agter, asook ’n groot kring mense wie se lewens ryker is omdat hulle hom geken het.

Van sommige mense kan ’n mens ná hul afsterwe sê: Hy het baie bereik. Van ds. Keydy O’Callaghan kan ons iets groter sê:

Hy het mense se lewens aangeraak.

Rus sag, ds. Keydy. Dankie vir die skadu wat jy gebied het, vir die mense wat jy opgetel het en vir elke lewe waarin jy hoop geplant het.

Mense soos jy kom min oor ’n mens se pad. En wanneer hulle gaan, vergeet ’n mens hulle nooit.

 Bron: Maatje Brand, Bemarkingsbestuurder van Caritas

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top