Ds Johannes Cornelius Symington (78) sterf op 8 September 2026 aan hartversaking in die Milpark-hospitaal in Johannesburg. Hy was lank siek. Johann en sy vrou Hennie het die laaste tyd van hulle lewe in die Kokanje-aftreeoord by Modimolle (Nylstroom) gewoon. Johann word onthou vir sy vol lewe as predikant, moderator, redakteur van Kerkbode en LiG, rubriekskrywer in Rooi Rose, televisieaanbieder en boekmaker.
Hierdie nederige dienskneg in Koninkryksdiens is op 15 Junie 1948 gebore op Pelgrimsrus. Sy ouers was Jan en Hilda Symington en hy word groot op ’n suikerrietplaas in die distrik Pongola in Noord-Natal. Johann begin sy skoolloopbaan aan die Laerskool Pongola en matrikuleer aan die Hoërskool Piet Retief. Toe was daar reeds tekens dat hy oor besondere kommunikatiewe vaardighede beskik. Hy was hiperintelligent met vele talente en kon enige beroep volg. Maar Johann voel geroepe om predikant te word. As seun van ’n suikerboer, het hy alles gegee in belang van sy naaste en altyd ’n soet smaak agtergelaat.
LEES OOK: Oud LiG-redakteur sterf: ‘Hy het aanhou glo in God se goedheid en geglimlag tot aan die einde’
Johann studeer aan Tukkies, bly in Huis Boekenhout en een van sy Admissie-klasmaats is Hermie van Zyl, later professor in Bloemfontein. Hy getuig dat Johann as student reeds ’n aansteeklike opregte, openheid en hartlikheid uitgestraal het. In 1970 word Johann student aan die Fakulteit Teologie op Stellenbosch waar hy die BTh-graad verwerf en einde 1973 as proponent gelegitimeer word. Dit was hierdie skrywer se eerste jaar op Stellenbosch en Johann se laaste jaar op Kweekskool. Daar het ’n reis van vriendskap begin, wat verskeie lewenseisoene oorspan het. Toe hy moes aanpas as redakteur van Kerkbode, was hy deel van my telefoniese gebedsbediening.
Johann word nie in 1974 leraar van ’n groot en vername NG gemeente nie, hy verkies om ’n sendeling te word in die NG Sendingkerk op Colesberg. Hier op die diep platteland verskyn hy as onkonfessionele sendelingdominee met jeans en langer hare. Dit het die konserwatiewe gemeenskap aan die praat gehou. Maar toe die mense van Colesberg Johann se menswees leer ken, was daar ’n omdraai in hulle reaksie. Toe reeds word sy lewe ’n werkwoord, iemand met ’n oop hart, luisterende oor, glimlag, humor, geloof en ’n opregte belangstelling in elke mens wat sy pad kruis.
LEES OOK | Johann Symington sterf: ‘Hy het ons geleer om die mooi raak te sien’
Ds Johann neem demissie in Colesberg en vertrek na Nederland vir doktorale studie en navorsing. Na agtien maande se harde werk, is sy skryfwerk netjies georden. Toe tref ’n groot ramp hom tref. Hy verlaat sy werksplek in die biblioteek om asem te skep. Toe hy terugkom, is al sy dokumente en aantekeninge gesteel. Dit was ’n swaar terugslag om te verwerk. Daar was nie tyd en geld om weer te begin nie en hy keer terug na Suid-Afrika.
Op 3 April 1976 word hy leraar van die NG Gemeente Parksig in Johannesburg. Die gemeente kon ds Johann se geestelike weelde beleef, sy diepgaande kennis van die Bybel, wat altyd nuwe veelkleurige perspektiewe op die Woord open. In 1979 word hy lektor in Praktiese Teologie aan Unisa in Pretoria. Met sy buitengewone intelligensie kon hy die uitdagings kafdraf, maar sy verlange na die gemeentebediening en mense laat hom terugkeer na die openbare oog op voetsoolvlak. Mense het aan Johann energie gegee en hy het dit gemis. Daar was ook in die herfs van 1978 ’n skerp draai in die pad toe die egpaar se klein seuntjie sterf.
LEES OOK: Huldeblyk aan Johann Symington: ’n Kerkman met verbeelding, warmte en ’n hart vir mense
Op 15 Augustus 1982 word ds Johann bevestig as leraar van die NG Gemeente Lynnwood in Pretoria, hy het dit altyd ’n verfynde stadsgemeente genoem. Die volgende agt jaar gaan sy veelsydige bediening in snelrat. Hy word ’n kerklike openbare figuur en die predikant van die massas. Hulle lees sy rubrieke in Rooi Rose, kyk na sy optrede op televisie met Bybelbloktyd. Johann word die dominee wat die Bybel met die gewone ou deel, ’n kerklike stem wat hulle situasie begryp. Hy het die Bybel verwoord in ’n menslike taal, wat die kerkvolk kon voed, verstaan en aangryp. Sy aanbiedinge op televisie maak hom ’n huishoudelike naam. Vir hom was preek ’n kunsvorm en kon hy die Woord as kerklike kunstenaar deel met ’n onsigbare landswye Afrikaanse gemeente. Hy kon waarlik met woorde toor en mense het aan sy lippe gehang. Ds Johann en Hennie se pastorie was sonder pretensie. Hy het altyd gesê ’n pastorie moet “flair” hê, daarom was die mure van Lynnwood se huis geverf in sy keuse, Wedgewood blue.
Ds Johann word op 14 Januarie 1991 leraar van die NG Gemeente Andrew Murray in Johannesburg. Dit was ’n gemeente met uitsonderlike uitdagings, wat in sy kraal gepas het. Sy oorkoms na die Engelstalige gemeente brei sy saailand uit na ’n ander taalgroep in sy visier. Hier is hy in die Goudstad ook leraar vir randfigure, mense wat anders dink en doen. Hy het nooit iemand afgeskryf nie, maar het as sorgsame herder die nege-en-negentig skape ’n oomblik gelos en na die een wat weg was, gaan soek. Hy het ’n lang tyd sy talente, gawes en prediking met die mense van Andrew Murray-gemeente gedeel.
Sy warm glimlag het mense altyd laat welkom voel. Hy kon meesterlik die ligglans weerkaats op sy naaste. Hy het jou laat voel jy is die belangrikste persoon in die vertrek. Rondom die millenniumoorgang, is hy moderator van die Sinode van Suid-Transvaal, waar ds Johann kosbare insette lewer wat kerklike vergaderings op ’n nuwe pad plaas. Oor sy rol as kerkleier het prof Nelus Niemandt reeds ’n waardevolle stuk in die kerkkoerant geskryf.
In 1995 word hy leraar van die NG Gemeente Johannesburg-Noord. Ds Johann se prediking is besaai met ryk metafore, hy skep nuwe metafore en beelde wat die luisteraars in sy eredienste wakker hou. Hy kon meesterlik verwoord wat die Blye Evangelie bedoel, van speenoud tot stokoud kon dit verstaan. Hy het die narratiewe verhale van die Bybel so toegepas en dit deel gemaak van die alledaagse lewe. So kon hy preek en die teks laat lewe op die kansel, ’n kosbare talent waarmee hy gewoeker het.
In 2004 word ds Johann redakteur van Kerkbode en Lig, by NG Kerk se Tydskriftemaatskappy. Hy het hierdie wilde kerkperd opgesaal en sou dit ry. Sy aanstelling was nie vir kerkmense ’n verrassing nie, want dit was deel van sy kerklike DNS. Hy het nie net die kerk in Suid-Afrika gelees en beleef nie, maar ook strominge van die ekumeniese kerk wêreldwyd. Hy kon op enige dag vir jou presies sê wat gebeur op kerklike gebied oor die wêreld heen. Hy was geweldig belese en het ’n uitgebreide kennis besit, veel breër as die milieu van die NG Kerk. Dit was nie ’n maklike tydstip in sy lewe nie, hy was nie gebou vir kerklike stroomversnellings nie, daarvoor was hy te sensitief.
Johann was ’n uiters sensitiewe mens, veral wanneer dit by emosies kom. Daarby was hy ook erg selfsensitief. Goed het hom diep geraak en hy kon diep wroeg oor dinge wat gebeur, dit het sy binneboek diep geraak. Hy het dit moeilik gevind om mense te hanteer wat robuust met emosies omgaan het, wanneer mense met onsensitiwiteit optree. Hy kon diep nadink oor goed en soms daarop bly broei, soos ’n hen op haar kuikens.
Ds Johann was baie lief vir kuns en altyd die mooi in alles gesien en gesoek. Hy was lief vir ’n mooi fliek, mooi uitvoerings en kunsuitstallings. Sy dogter Suna skryf: “Ons sal hom onthou as ’n wonderlike pa wat altyd vir ons die mooi uitgewys het. Ek werk in die modebedryf, en het my liefde vir skoene en klere by hom gekry. Hy het my ma, my sussie en vir my altyd van kop tot toon getooi in die nuutste modes! As jy iets doen, kan jy dit net sowel mooi doen: as jy tee maak, gebruik die mooiste koppies, as jy tafel dek, pak die hele tafel vol blomme.”
In die kerkgeskiedenis sal ds Johann Symington ook bekend staan as ’n klankbord en vader van afvlerkmense wat seergekry het in die kerk, wat in terme van hulle geloof dikwels nie in die middel van die pad was nie, maar buite die grense en ruimte beweeg het wat die NG Kerk toelaat. Hy het aan hulle die ruimte gebied om opnuut saam te dink oor hulle geloof, menswees en vasgelooptheid. Daar is min televisiepersoonlikhede, filmsterre en kunstenaars met wie hy nie ’n persoonlike verhouding beleef het nie. Hy het gehelp om hulle geloof te herdefinieer, om nuut oor God se genade te dink. Hy het hulle geleer dat ’n mens in ’n verhouding met God kan leef en vrede kry, al het die kerk jou seergemaak en is die verwonding nog sigbaar. Hy was hulle kerklike “celebrity”, oral het hy mense geken en hulle omhels en aanvaar in liefde. Oral waar hy gegaan het, het mense hom herken of hy het hulle herken.
In 2008 word ds Johann leraar van die NG Kerk Welgemoed, waar hy geborgenheid, beskutting en liefde beleef. Aan die ander kant was Johann en Hennie ’n gasvrye leraarspaar, mense het graag by die pastorie gekuier. Hulle was baie gewild in Welgemoed, hulle gasvryheid en omgee en saamloop het mense aangetrek soos bye om ’n heuningkoek. Ds Johann en Hennie was twee uitsonderlike mense, met uitsonderlike kwaliteite wat in die gemeente Welgemoed nuwe lig en hoop gebring het.
Hy was ’n lojale predikantskollega, iemand wat nie net saam met jou op die kansel gestaan het nie, maar ook langs jou wanneer die pad moeilik geword het. Hy het vreugdes saam beleef, maar ook help laste dra. Hy het swakhede gerespekteer en getrou gebly wanneer ander dalk wegstap. So ’n kollega word nie maklik vergeet nie, dit bly deel van bedieningsherinneringe en deel van die lewe.
Toe ds Johann Symington emeritaat aanvaar, is dit nie ’n aftree nie, maar ’n aantree. In 2013 doen hy aansoek as senior pastor en word aanvaar by die Tokyo Union Church, ’n internasionale, Engelstalige Protestantse gemeente in die Omotesando-gebied van Tokio. Hierdie gemeente het uit talle denominasies, lande en kulture bestaan, wat bedien moes word. Ds Johann se besondere vermoë om met mense te kommunikeer, te luister en hulle op hulle eie vlak te ontmoet, het hom geskik gemaak vir hierdie soort bediening. Hy het nie net die gemeente bedien nie, ook mense uit verskillende kulture leer ken en hulle het mekaar gehelp om ondanks verskille, ’n geloofsgemeenskap te vorm. Met hulle vertrek na ses jaar in 2019, het hulle swaar afskeid geneem van “Pastor Johann” en sy vrou Hennie.
Terug in Suid-Afrika gaan woon die egpaar op Sandbaai by Hermanus. Hier word hy weer ingespan by die NG Kerk Hermanus, waar hy betrokke is by prediking en pastorale sorg. Die laaste hoofstuk van sy lewe speel af in die Kokanje-aftreeoord by Modimolle, waar hy en Hennie gaan woon met hulle finale aftrede. In die tyd ontwikkel Hennie dementia, wat hierdie sprankelende vrou se lewe verander in ’n skaduwee. Dit is ’n bitter swaar tyd vir ds Johann, wat haar kameraadskap mis en nie daarsonder wil lewe nie. Intussen word hy ernstig beseer, toe hy op sy kop val. Hy het na verskeie operasies ’n opdraande stryd gevoer, wat sy menswees en die venster na buite verduister het. Sy sterf in Maart 2026 en ’n huldigingsdiens word in die gemeente Welgemoed gehou. Intussen verswak ds Johann se toestand en na ses maande sterf hy op 8 September 2026. Daar is drie kinders, wat hulle gene voortdra: ’n seun Pieter-Jan Symington, wat in Amerika woon, asook twee dogters, Suna en Claire in Suid-Afrika.
Mag ds Johann Symington se heengaan ’n uitnodiging wees aan almal om voort te gaan met dit waarvoor hy geleef het. Ons groet jou, Johann, en dankie vir jou hartlike lag en glimlag, wat steeds weerklink nadat jou aardse wedloop voltooi is.
Dr Gerdrie van der Merwe is ’n kerkhistorikus.
