Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In NT Wright se God’s homecoming: The forgotten promise of future renewal voer hy aan dat die Christelike hoop daaruit bestaan dat God na ons en sy skepping toe kom om by ons tuis te wees.
Die boek is ’n vervolg op Surprised by hope, waarin hy die wanvoorstelling aangespreek het dat gelowiges se eindbestemming ’n suiwer geestelike hemel is wat van die geskape werklikheid verwyder is. Volgens Wright vertel die Skrif deurgaans ’n ander verhaal. God het die goeie skepping as sy en ons gemeenskaplike tuiste geskep en in die Ou Testament sy heerlikheid in die tabernakel en die tempel laat woon.
Hy het dit egter weens die sonde en afgodery van sy volk onttrek, maar deur verskeie profete ook belowe om in heerlikheid terug te keer (Esegiël 43; Jesaja 40, 52). Met sy terugkeer sal God die ganse skepping herstel. Dié herstel behels dat gelowiges, saam met die skepping, van sonde gereinig word, eerder as dat hulle uit die skepping verwyder word.
Die evangelie is nie dat ons na God toe gaan nie, maar eerder dat Hy na ons toe kom. Die terugkeer van God het reeds in Jesus plaasgevind. So getuig die proloog van die Evangelie volgens Johannes dat die Woord vlees geword het en onder ons kom tent opslaan het. Die Griekse werkwoord eskēnōsen sinspeel op skēnē (tent), wat in die Septuaginta vir die tabernakel gebruik is. Volgens Johannes kon die heerlikheid wat in die verlede die tempel gevul het, weer in Jesus aanskou word (1:14). Jesus vervang vir hom die tempel deurdat sy woorde oor die afbreek en oprig van die tempel na “die tempel van sy liggaam” (2:19-21) verwys.
Tydens sy afskeidsgesprekke beloof Jesus die Gees wat in die dissipels sal wees en verklaar Hy dat die Vader en die Seun by dié wat Hom liefhet, woning sal maak (14:16-20, 23). Johannes se voorstelling van God se inwoning verskuif dus van die tempel na Jesus en, deur die Gees, na die gemeenskap van Jesus se volgelinge as sigbare gestalte dat Hy sy hele skepping wil herskep.
Die herskepping het reeds deur die koms en opstanding van Jesus begin. Om dié rede is Maria Magdalena nie verkeerd wanneer sy die opgestane Jesus in die tuin by die graf as tuinier aansien nie (20:15). As tuinier versorg Hy egter nie grafte nie, maar die ganse skepping wat vernuwe word.
Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch en is die assessor van die Wes-Kaapse Sinode.
