Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Geweld teen vroue: Waar sal ons hulp vandaan kom?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Hoe lyk ’n samelewing waarin vroue nié gehaat word nie? vra Nadia Marais.

 

 

what
massacre
happens to my son
between
him
living within my skin
drinking my cells. my water. my organs
and
his soft psyche turning cruel
does he not remember
he
is half woman?

 

(Nayyirah Waheed, “Salt”)

 

“In hierdie land is ons prooi,” sê Sakane Mokoena vandeesweek, vriendin van die 38-jarige Elizabeth Moselakgomo wat oorval en vermoor is terwyl sy gedraf het. Nege vroueliggame is – tot dusver – oor die afgelope twee maande rondom Kemptonpark, Springs en Olifantsfontein ontdek. Gendergebaseerde geweld is in November 2025 deur president Cyril Ramaphosa tot ’n nasionale ramp verklaar; tog het min in ons land verander sedert daardie aankondiging. Vroue is inderdaad prooi: op die pad, by die huis, by die werk, en dikwels ook in die kerk.

LEES OOK | Moorde in Gauteng: NG Kerk voeg stem by ander kerke vir ’n veiliger samelewing vir vroue

In 2024 wys die eerste RGN-verslag oor Suid-Afrika se pandemie van nasionale gendergebaseerde geweld dat bykans ’n derde (33,1%) van Suid-Afrikaanse vroue bo 18 jaar oud in hulle leeftyd fisiese geweld sou beleef, en bykans helfte (50%) sielkundige en emosionele geweld. Ouer vroue, vroue wat met gestremdhede saamleef, arm vroue, en vroue in LGBTQIA+ minderheidsgroepe beleef dikwels proporsioneel méér geweldpleging teenoor hulle, volgens hierdie verslag. Die meeste geweld teenoor vroue in Suid-Afrika word deur ’n intieme lewensmaat – eerder as ’n vreemdeling – gepleeg. In die 2025/2026 finansiële jaar alleen is meer as 50 000 gevalle van gendergebaseerde geweld by die polisie aangemeld.

Volgens 2023/2024 statistieke word ’n vrou elke 12 minute in Suid-Afrika verkrag. Van die aangemelde gevalle lei ongeveer die helfte tot inhegtenisneming en minder as 10% tot vonnisoplegging. Seksuele geweld is ’n enorme werklikheid in Suid-Afrika wat disproporsioneel vroue as slagoffers en mans as oortreders behels, en waarvan die attrisiekoers (die koers waarteen gerapporteerde voorvalle uit die regsproses wegval) opvallend hoog is. Die syfers vertel ’n duidelike storie: Gendergebaseerde en seksuele geweld word nié effektief aangespreek in ons land nie.

LEES OOK: Omgewing | Fay van Eeden: My yskas se trurat, en die impak daarvan

Die NG Kerk blyk grootliks stil te wees oor seksuele geweld (meer breedweg) en oor spesifieke voorvalle van seksuele geweld soos verkragting (meer spesifiek) oor die afgelope 40 jaar se vergaderings van die Algemene Sinode (1986 tot 2026). By AS 1986, AS 1990, AS 2005, AS 2019 en AS 2023 word daar glad nie in die Handelinge of Kerkorde verwys na seksuele geweld of verkragting nie. By AS 1994, AS 1998 en AS 2007 word daar telkens slegs een keer verwys na verkragting (maar nie na ander spesifieke voorvalle van seksuele geweld of die breër fenomeen van seksuele geweld nie).

AS 2002 spreek haar wel uitdruklik uit teen alle vorme van geweld (en noem verkragting spesifiek), en by AS 2011 word ’n sterk standpunt gehoor teen “geweld en seksuele geweld teen veral vroue en kinders in die Suid-Afrikaanse samelewing.” Dit is die enigste uitdruklike AS-standpunt teen seksuele geweld. By AS 2015 word afgevaardigdes aangemoedig om die Thursdays in Black-veldtog te ondersteun deur swart te dra op Donderdae. Die veldtog beywer dit vir ’n wêreld sonder verkragting en geweld.

Vanaf AS 2019 word ‘seksuele teistering’ in die gedragskode vir ampsdraers, emeriti, en predikante ingeskryf. ‘Teistering’ sluit “fisiese, psigologiese, geskrewe of verbale teistering” in, en hoewel daar nie uitdruklik na seksuele teistering verwys word nie, sluit dit wel die voorbeelde van “onwelkome seksuele gedrag en/of aanraking” asook “seksuele grappe” in. Tog word daar hier ook geen pertinente verwysing na seksuele geweld gevind nie; die taal blyk eerder versagtend te wees (seksuele teistering, seksuele gedrag, seksuele aanraking).

Die vraag is egter of kerklike verklarings en besluite genoeg is om gepas – proporsioneel tot die omvang van die krisis – te reageer. So ’n krisis vra, onder andere, ’n fyner lees van en luister na die vroue van ons geloofstradisie – veral die vroue wat self gendergebaseerde geweld beleef, soos Tamar en Dina (wie se verhale glad nie in die leesrooster opgeneem is nie) – en na die vrouestemme van ons tyd, van ons land – soos die vrouedigters Koleka Putuma en Owethu Mahlalela; of vroueteoloë Denise Ackermann, Julie Claassens, Sarojini Nadar en baie ander; of vroueorganisasies soos Women for Change en die Circle of Concerned African Women Theologians.

In die versameling opstelle Gender, violence, and justice herinner die Amerikaanse teoloog Pamela Cooper-White dat gendergebaseerde en seksuele geweld ’n daad van aggressie is. Wanneer ’n ‘klimaat van trauma’ ontstaan, waarin nie net slagoffers nie maar ook omstanders verlam word deur ’n kultuur van aggressie (veral, in hierdie geval, aggressie teenoor vroue), is ingrypende veranderinge nodig. Minstens drie drastiese ingrype word dan gevra: (1) dat slagoffers egte geregtigheid en restitusie ontvang, (2) dat veilige ruimtes geskep word waarbinne genesing (individueel maar ook oor generasies en tyd heen) kan plaasvind, en (3) dat ’n ware nultoleransie vir geweld en mishandeling in ons gemeenskappe en sosiale strukture (en kerke) geprioritiseer en afgedwing word.

Dit laat ’n mens wonder: Hoe lyk ’n samelewing waarin vroue nié gehaat word nie?

Waar sal ons hulp vandaan kom?


Prof Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is predikant by die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top