Gerhard Pietersen buk af en vroetel in ’n plastieksak agter die podium waarvandaan hy sowat 60 kerkleiers vertel oor sy lewe ná die wrede moord in 2016 op sy skoonouers op hulle kleinhoewe. Dan hou dié dominee en skrywer twee wapens om die beurt omhoog. ’n Mes en ’n kapmes. Replikas van moordwapens.

Pietersen was onlangs een van vyf gassprekers by ’n emosioneel uitmergelende halfdag-sessie tydens die laaste vergadering van die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen (ASM) in ’n land waar, gemiddeld bereken, tot 60 mense per dag vermoor word.
Prof Cas Wepener het gesê woede het waarde. Dit help ons om vrees te oorkom en dinge wat aandag moet kry wél aan te spreek, het dié dosent van Universiteit Stellenbosch aan die hand van Myisha Cherry se boek The Case for Rage verduidelik.
Dr Llewellyn MacMaster het gesê geweld is veel meer as ’n misdaadprobleem. “Dit is ’n menslike tragedie, ’n gemeenskapskrisis, ’n uitdaging aan die staat en ’n roepingsvraag vir die kerk,” aldus dié voormalige VGK-leier verbonde aan die Cape Crime Coalition.
Dr Nadine Swanepoel het gesels oor die verskillende gesigte van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord. “Dit gebeur voor ons, tussen ons en met ons … Ek wens ek kan sê hoe naby dit is,” het dié leraar van Skuilkrans NG Gemeente en navorser verbonde aan die Universiteit van Pretoria gesê.
Dr Lizette Lancaster het gesê staatskaping het regspleging verswak en vertroue in sleutel-instellings soos die SAPD verniel. Dié hoof van die Program vir Justisie en Geweldvoorkoming by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het ondermeer tien kernpunte uitgelig oor plaasmoorde as “nie-rassige, holistiese” probleem.



Konkrete gebaar
Pietersen se praatjie was egter wat Roland Barthes die punctum sou noem – die punt wat die rede systap en sekuur op gevoelsvlak deurdring tot die kyker. Dit het ’n kerklike gesprek oor misdaad – die politiek daarvan, geskiedenis daarvan, wortels daarvan, dryfvere daarvan en ontelbare gesigte daarvan skielik byna skokkend konkreet gemaak. Vroeër in sy voorlegging het hy foto’s van sy skoonouers se moordtoneel teen die muur projekteer. Maar nie eens dit het dieselfde impak op die gehoor gehad as ’n kapmes omhoog gehou in ’n smuklose siersteenlokaal nie.
Toe hy die dominees in die gehoor voor hom met verwysing na voorbeelde van onsensitiewe en grensoorskrydende small talk waaraan trauma-slagoffers dikwels binne geloofsgemeenskappe blootgestel word, gewaarsku het dat “teetyd in die kerk ’n gevaarlike plek is,” het koppe begrypend geknik. Maar die misdaadtoneelfoto’s, foto’s van die beskuldigdes en die wys van wapens het die gesprek tot teen die lyf gebring. In ’n stadium het die voorsitter van die vergadering, ds Jan Lubbe, gevra dat elkeen wat al deur geweld geraak is, sal opstaan. Hierdie lyflikheid, asook die uitkringeffek van trauma, is van die sentrale temas in die boek wat Pietersen geskryf het, getiteld Wond: Plaasmoord – dis my mense. Pietersen stel dit so: “Mense vra vir my hoe kan jy nog die wonde van jou vyand verpleeg? Ons genees die wêreld deur eers by ons eie gewonde harte te begin,” aldus Pietersen, wat deesdae die Uitvoerende Hoof (Hoof- Uitvoerende Beampte) van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is.


‘Onverdunde hel’
Pietersen, wie se boek ook in Engels vertaal is, sluit aan by die teoloog Walter Brueggemannse se insig dat die profetiese taak by rousmart (grief) begin. Slegs deur in die openbaar te rou en die pyn op die naam te noem kan ’n gemeenskap deur die ontkenning en onmenslikheid van ’n uitbuitende sisteem breek, meen Brueggemann. Oor die dood van sy vrou se ouers en die boek wat gevolg het oor die voorval en die lang, pynvolle nadraai rondom die vervolging van die misdadigers sê Pietersen: “Deur my eie familie se ‘suiwer, onverdunde hel’ te dokumenteer, voer ek die profetiese daad uit: om rou te gebruik om ‘die gevoelloosheid te deurdring’ en slagoffers toestemming te gee om te rou, dwing ‘n erkenning af van ‘n ‘landskap van geweld’ wat die samelewing verkies om te ignoreer.”

In Tafelgesprekke na die sessie is afgevaardigdes uitgenooi om saam na te dink oor wat hulle gehoor het. “Hoe staan ons op ’n publieke wyse in solidariteit by lidmate wat slagoffers is van geweld. Sonder dat ons ervaar word asof ’n Afrikaner se dood belangriker is,” het een laat hoor. ’n Ander sê weer: “As ons nie kan praat en sê plaasmoorde is ’n probleem wat aangespreek moet word in dieselfde mate as bendegeweld (op die Kaapse Vlakte) is ons bloot toondoof!”
Oop gesprek
Die geleentheid was ’n prentjie van ’n kerkvergadering op sy weerloosste. ’n Instelling wat nie vry is van die impuls om goed te lyk en seker te klink nie, maar wat tegelyk bely dat geloofsonderskeiding per definisie ’n oop proses moet wees eerder as om te sit en skaaf aan standpunte en persverklarings. “Die ASM is ’n ruimte vir gesamentlike geloofsonderskeiding, verantwoordelike leiding en die koördinering van die kerk se roeping,” skryf dr Nioma Venter in die inleiding tot die agenda wat die byeenkoms gerig het. “Mag ons gesprekke daarom gekenmerk word deur teologiese diepgang, eerlike gesprek, onderskeiding en ’n bereidheid om saam verantwoordelikheid te aanvaar.”

Tydens Oktober se ASM-vergadering was daar Skriflesing, sang, insette deur kundiges, tafelgesprekke, nagmaal en, soos die Protestantse werketiek bepaal, ’n magdom ander sake op die tafel vir 48 uur by die eMseni-oord en konferensiesentrum. Van 12 nm Woensdag tot 12 nm Vrydag.
Holistiese benadering
Die moderator het aan ASM-lede die nuus gebreek dat vier mense (een professor in Nuwe Testament en drie gemeente-dominees van die NG Kerk) op ’n feitesending na die Midde-Ooste gestuur is en teruggekeer het met ’n verslag wat by die vergadering bekendgestel is. Die uitgawe om prof Marius Nel (foto onder), en di Elmarie Dercksen, Anton Mieny en dr Christo Benade van 18-24 Oktober na Jordanië, Israel en Palestina as gaste van die Churches for Middle East Peace af te vaardig, is gedek deur die geld wat die NG Kerk vir slagoffers van geweld in Gasa geoormerk het, maar weens internasionale bankregulasies nie aan kerke in Israel / Palestina geskenk kon kry nie.
“Ons het met kerkleiers, rabbi’s, navorsers, burgerlike organisasies en ’n Amerikaanse militêre skakelbeampte gepraat. In Jordanië het ons met Prins El Hassan bin Talal ontmoet,” skryf die afvaardiging in hul omvattende verslag.

Dit skop omsigtig af: “Ons het bewustelik ’n holistiese eerder as ’n sogenaamd gebalanseerde benadering gevolg, want waar daar ’n diep wanbalans van mag, grond en regte is, kan die voorstelling van twee gelyke kante onreg verdoesel. Ons vertrekpunt is verder dat elke mens na die beeld van God geskape is. Ons kan dus deernis hê met die vrees en trauma van Israeli’s en terselfdertyd die doodmaak van burgerlikes en die vernedering van Palestyne veroordeel.”
En dit eindig hoopvol: “Ons het mense ontmoet wat ondanks alles weier om vyande te wees. Die welsyn van Israel en dié van die Palestyne is onlosmaaklik met mekaar verweef. Die een se veiligheid kan nie op die ander se vernedering gebou word nie, en vrede wat net vir een groep bedoel is, is uiteindelik vir niemand vrede nie. Niemöller se waarskuwing teen stilswye as ander vervolg word, wat ons by Yad Vashem (Joodse menseslagtingmuseum) gesien het, herinner ons daaraan dat ons geloofwaardigheid vra dat ons almal se menswaardigheid verdedig, ook wanneer die bedreigde mense buite ons eie nabye gemeenskap staan. Ons bid vir die vrede van Jerusalem, en vir almal wat daar woon.”

Aborsie as breër gesprek
Mediese etiek is nog iets waaroor ASM-lede tydens die vergadering in ’n aandsessie moes besin. Voortvloeiend uit die groter opdrag deur die 2023 Algemene Sinodesitting aan die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake het ’n gespreksdokument oor reproduktiewe gesondheid deur drr Nina van Müller van Velden en Nadia Marais by die afgelope vergadering aandag en bespreking geniet. Die laaste deeglike verslag oor aborsie wat by ’n Algemene Sinode gedien het, was ’n 1982-studiestuk deur ’n man met die naam Danie du Toit. “Sedertdien het daar reuse skuiwe plaasgevind op elke denkbare front in terme van reproduktiewe gesondheid, plaaslik sowel as globaal,” merk die skrywers inleidend op.
“Na (raming) vind daar tans wêreldwyd 25 miljoen onveilige aborsies plaas per jaar, waarvan ongeveer 39 000 gevalle lei tot sterfte, en miljoene gevalle van hospitalisering weens komplikasies na onveilige prosedures. Die meerderheid van sterftes kom voor in laer-inkomste lande, waarvan 60% in Afrika en 30% in Asië – en boonop dan ook binne die kontekste van die mees weerloses en armstes,” luidens die verslag. “Navorsing toon dat beperking van veilige aborsie-opsies nie ’n afname in aborsies toon nie; inteendeel, beperkinge dryf eerder vroue en meisies daartoe om onveilige prosedures te ondergaan.”
Die skrywers van die dokument is krities oor die wyse waarop die saak in die NG Kerk verskraal word deur die klem op aborsie in besonder te plaas ten koste van verwysing na reproduktiewe of seksuele gesondheid in geheel. Die navorsing stoei daarteen om gesien te word as ’n netjiese, klinkklare “antwoord” of “standpunt”. “Hierdie dokument dien as getuienis van veelvuldige stemme uit verskillende teologiese velde, asook wyer; kundiges, sowel as grondvlak-gesprekke; kerklike diskoerse, sowel as verder. Dit is interdissiplinêr en multidissiplinêr van aard, aangesien die saak van aborsie nie netjies in slegs een teologiese of sosiale konteks geplaas kan word nie,” verduidelik Müller Van Velden en Marais.
Wanneer die skrywers vanuit die perspektiewe van die Ou en Nuwe Testament besin oor aborsie, is dit “vanuit die staanspoor nodig om te erken dat daar geen eksplisiete verbod op aborsie in die Bybel voorkom nie,” luidens die verslag. “Daar is ook geen eksplisiete goedkeuring van aborsie in die Bybel nie. Dit beteken nie dat die Bybel irrelevant is vir ons gesprekke oor aborsie nie – allermins. Dit is egter nie ’n tema wat met ’n bewys-teks of twee tot stilswye gedwing kan word, of na een of die ander kant gedruk kan word nie.”

Nuus uit Karatara
Die vergadering het ook na spanning binne die kerkverband geyk. Die aantal gemeentes wat tans doleer (treur oor die 2023 Sinode se besluit ten gunste van selfdegeslagverbintenisse vir gay paartjies) of vir verskillende redes in regsaksies met kerkrade verwikkel is of daarop afstuur. “In drie gemeentes was/is daar die afgelope twee jaar litigasieprosesse onderweg,” luidens ’n verslag deur ds Lubbe as voorsitter van die Dagbestuur van die ASM oor werksaamhede sedert die vorige vergadering in Februarie 2026. “In die saak van MX Coetzee en Karatara-gemeente, het die hof die hersieningsaansoek toegestaan en beslis dat ds Coetzee se bevoegdheid herstel moet word. Die sake van Bethulie en Tafelberg dien in November 2026 en Maart 2027 in die howe.” Die verslag verwys ook kortliks na die aantal gemeentes (sewe) wat “verband met die AS opgeskort” het. Vanuit Hoëveld Sinode is daar met groot dankbaarheid nuus gedeel van ’n versoeningspad wat die Ring van Standerton met dié streeksinode begin stap het.

Daarna het twee lede van die Taakspan Navorsing op grond van nuwe data daarop kom wys dat NG gemeentes toenemend kleiner word, wat lidmate betref. Sowat 42% van die sowat 1000 gemeentes het minder as 300 lidmate en daar is drie maal die hoeveelheid gemeentes wat minder as 100 lidmate het teenoor die aantal wat in 2012 daardie boksie moes afmerk.
ASM-lede moes ook stem uit vier opsies vir waar volgende jaar se sitting van die Algemene Sinode sal plaasvind, ’n jaar na die SAAMkoms op Goudini bewys het dat ’n mooi omgewing voordele het wat die korporatiewe milieu van 2023 se venue (Birchwood Hotel) na ’n besliste buiteperd laat lyk het. Die gesprek duur voor en wag vir koste-skattings om die rondom 400 afgevaardigdes byeen te bring.
Begin net
Terug by die tema van ’n land “verwond deur geweld”, het dr Nadine Swanepoel, die gasspreker verbonde Skuilkrans NG Gemeente, ASM-lede raad gegee oor maklike inisiatiewe om by betrokke te raak indien die onderwerp te oorweldigend of “ver” voel. “Begin waar jy is,” het sy gesê. “As dit woede is, begin daar, as dit ontkenning is, begin daar.” Sy meen die voordeel van die NG Kerk is sy “voetspoor” regoor die land, geboue en fassiliteite wat veilig (vir slagoffers van geweld) is.
Die uitgesproke en voortgaande doel van die ASM is vir leiers uit al nege van die NG Kerk se samestellende sinodes om die kerk se roeping binne konteks te verstaan.
