Hierdie skrywe is deel van Kerkbode se gespreksforum. Hierdie afdeling is in ’n toetsfase. Bydraes word nie voor publikasie deur Kerkbode se proefleser versorg nie en die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte van Kerkbode of die NG Kerk nie. Skrywes word wel voor publikasie aan ons gespreksriglyne getoets. – Red.
Philip Coetzee van die Strand skryf: My belangstelling in hierdie onderwerp het oor ’n tyd gegroei. Vir drie jaar het ek my besig gehou met Bybelinterpretasie, met ’n besondere aandag aan eksegese en hermeneutiek. Dit het my opnuut bewus gemaak van iets wat ons maklik miskyk wanneer ons die Bybel lees, dit is nie bloot net woorde op ’n bladsy nie, want ons moet probeer verstaan wat die teks sê, wat dit in sy oorspronklike konteks beteken het en hoe ons dit vandag moet verstaan. En juis daar begin ’n belangrike vraag: Hoe kom ons by ons verstaan van die Bybel uit?
Eksegese help ons om die teks so noukeurig moontlik binne sy historiese, literêre en teologiese konteks te verstaan. Ons vra wat die skrywer gesê het, waarom dit gesê is, aan wie dit gerig was en wat die betekenis daarvan binne die groter verhaal van die Skrif is. Hermeneutiek gaan nog ’n tree verder. Dit vra na die beginsels waarmee ons die teks verstaan en na die manier waarop ons vanuit die wêreld waarin ons vandag leef, die betekenis daarvan probeer hoor.
Maar daar is iets waarvan ons bewus moet wees: ons kom nooit heeltemal neutraal na die Bybel nie. Ons bring ons agtergrond, opvoeding, kerklike tradisie, lewenservaring, oortuigings en wêreldbeskouing saam met ons wanneer ons die Skrif oopmaak. Selfs die vrae wat ons aan die teks vra, word dikwels deur ons wêreld gevorm.
Dit is waarom hermeneutiek veel meer is as ’n akademiese onderwerp. Dit raak die hart van hoe ons glo, want ons leef in ’n wêreld waarin verskillende denkstrominge ons manier van kyk na waarheid, menswees en gesag beïnvloed. Liberalisme, behoudende, en humanisme is drie voorbeelde hiervan. Hulle het elk ’n bepaalde verstaan van die mens, rede, vryheid en waarheid ontwikkel. Wanneer so ’n wêreldbeskouing die lens word waardeur die Skrif gelees word, kan dit noodwendig ook ’n invloed hê op hoe ons sekere Bybelse uitsprake verstaan.
Die vraag is egter nie bloot of liberalisme, behoudende, of humanisme goed of sleg is nie. Die dieper vraag is: Wat gebeur wanneer enige menslike wêreldbeskouing die finale maatstaf word waarmee ons God se Woord beoordeel?
Dit is ’n vraag wat ons almal behoort te vra, ook dié van ons wat onsself as vernuwe, konserwatief of Bybelgetrou (behoudend) beskou. Want die gevaar van hermeneutiek lê nie net aan een kant van die teologiese spektrum nie. Ons kan almal met vooropgestelde idees na die Bybel kom. Ons kan selfs so vertroud raak met ons eie interpretasie van die Skrif dat ons later nie meer maklik onderskei tussen wat die Bybel werklik sê en wat ons geleer het om daarin te sien nie. Daarom is een van die belangrikste vrae wat ons kan vra nie bloot: Wat beteken hierdie teks vir my? Nie, maar eerder: Wat het hierdie teks bedoel om te sê, en is ek bereid om my eie denke daaraan te onderwerp?
Dit vra nederigheid; ware Bybelinterpretasie beteken nie dat ons ons verstand by die kerkdeur moet los nie. Inteendeel. Die Bybel vra van ons om te dink, te ondersoek, te onderskei en die teks ernstig op te neem. Daarom is eksegese so belangrik. Ons moet nie eenvoudig ’n teks uit sy konteks haal en dit laat sê wat ons graag wil hê dit moet sê nie. Ons moet luister na die teks voordat ons besluit wat ons daaroor wil sê.
Maar daar is ook ’n ander gevaar. Ons kan so gefokus raak op die menslike vermoë om die Bybel te verklaar dat ons vergeet voor Wie ons eintlik staan. Die Skrif is nie bloot ’n antieke dokument wat ons met genoeg akademiese vaardighede kan ontleed nie. Dit is die Woord en die Heilige Gees waardeur God Homself aan ons bekendmaak.
Daarom kan goeie eksegese en ware spiritualiteit nie vyande wees nie. Hulle behoort mekaar te ontmoet. Hoe beter ons die teks verstaan, hoe meer behoort ons te vra wat God deur sy Woord vir ons wil leer. Die doel van Bybelinterpretasie is nie om die Bybel onder ons beheer te bring nie, maar om onsself onder die gesag van die Woord en Gees te plaas.
Dit bring ons uiteindelik by Christus. Jesus het nie gekom om bloot nog ’n interpretasie van die Skrif aan ons te gee nie. In Hom kry die hele Skrif sy vervulling. Hy wys ons hoe die Woord van God verstaan moet word, nie as ’n koue versameling reëls en voorskrifte nie, maar as die getuienis wat na Hom wys. Daarom kan ons baie weet van die Bybel en tog die hart daarvan miskyk as ons nie by die volheid van Christus uitkom nie.
Miskien is dit ’n vraag wat die kerk vandag dringend aan homself moet stel: Wanneer ons die Bybel lees, laat ons toe dat die Woord ons verander, of probeer ons om die Woord te verander sodat dit by ons wêreld en die wêreld daar buite pas? Dit is maklik om die probleem by ander te sien. Ons kan wys na liberalisme, humanisme, sekularisme of enige ander denkstroming en sê: Daar is waar die probleem lê. Maar hermeneutiek dwing ons om ook na onsself te kyk. Watter bril dra ek wanneer ek die Bybel lees? Watter aannames bring ek saam? Watter gedeeltes van die Skrif aanvaar ek maklik, en met watter gedeeltes begin ek verskonings soek? Dalk is dit waar ware spiritualiteit begin: nie wanneer ek seker is dat ek alles reg verstaan nie, maar wanneer ek nederig genoeg is om te vra of die Woord dalk besig is om my te interpreteer.
Want uiteindelik is dit die wonder van die Skrif. Ons maak die Bybel oop met die gedagte dat ons die teks gaan lees en verstaan. Maar terwyl ons lees, gebeur daar iets dieper. Die Woord begin óns lees. Dit bring ons motiewe, ons aannames, ons sondes, ons vrese en ons onsekerhede na die lig, en konfronteer ons en troos ons. Verder korrigeer dit ons en roep ons, en as ons dit toelaat, bring dit ons telkens terug na Christus.
Maar is ons nie misskien die leër wat nie meer saamstem oor die Koning nie?
Hoe kan ons sê dat ons almal agter Christus aanloop wanneer ons nie meer saamstem oor Wie Christus is nie? Hoe kan daar sprake wees van een hemelse leër (Op 19:14) wanneer diegene wat beweer dat hulle die Koning volg, onderling verskil oor sy Woord, sy opstanding, sy gesag en selfs sy identiteit, maar ook die bestaan van Satan? Letwel, omdat Jesus na sy volgelinge verwys as vriende (Joh 15:14-15), hoe kan ons hulle wat Jesus openlik ontken, ons vriende noem (2 Joh 1:9-11)? Kan ons werklik saam op die triomftog wees wanneer ons nie meer dieselfde waarheid verdedig nie?
Die vraag is dus nie bloot of ons Christus volg nie. Die vraag is: Watter Christus volg ons? Die Christus wat deur die Skrif aan ons geopenbaar word, of ‘n Christus wat ons volgens ons eie tydsgees, ideologieë en voorkeure herskep het?
En hier kom ons by die eintlike Damaskuspad-gedagte: Saulus was ook oortuig dat hy God dien. Hy was godsdienstig, ywerig en seker van sy saak. Maar op die pad na Damaskus ontdek hy dat sy ywer en kennis hom nie noodwendig in die regte rigting geneem het nie. Dus, dit is moontlik om opreg te wees en tog verkeerd te wees. Dit is moontlik om te dink dat jy God verdedig terwyl jy juis teen sy bedoeling optree. Die belangrikste vraag ontstaan dus, nie hoeveel mense saam met ons stap nie, maar of ons werklik die Christus volg wat Homself in die Woord aan ons openbaar.
Daarom behoort die uiteindelike doel van eksegese en hermeneutiek nie te wees dat ek kan sê: “Ek verstaan die Bybel”, nie. Miskien behoort dit eerder te wees dat ek, nadat ek die Woord gelees het, met groter nederigheid kan sê: Here, help my om U Woord reg te verstaan, en gee my die genade, wysheid, en insig om dit wat ek daarin hoor, ook te gehoorsaam. Want die belangrikste vraag is uiteindelik nie net hoe ons die Bybel interpreteer nie, maar eerder of ons bereid is om deur die Woord van God geïnterpreteer, gevorm en verander te word.
