Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Dis die wit, dis die swart:
dis die stryd, dis die rou;
dis duiwe wat draai bo die graf van ’n vrou –
dis al.
Dis ’n eeu, dis die dag.
Dis ’n woord, dis die wag.
Dis dié wat ly en dis dié wat weet –
dis al.
Ná drie dae van baie praat – die 9e vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) te eMseni – en baie sugte oor die vier perde van die apokalips wat uitjaag oor ons land en wêreld, sit ons die Saterdagoggend in die koelte van ’n kareeboom neffens die Vrouemonument.
Dit is ’n honderd jaar ná 27 Oktober 1926, op hierdie selfde plek. ’n Hommeltuig draal soos ’n lastige brommer op ’n snikhete dag oor ons kop. Sy beelde op die groot skerm oorkant geprojekteer, wys die stoet aankom; nie in somber gelid nie, maar tóg wiegend van een been na die ander, bewus van iets grootser.
LEES OOK: Algemene Sinode Moderamen vergader in Gauteng: Skrywer kom getuig oor verwonding en genesing toe kerkleiers oor geweld in Suid-Afrika besin
Nét soos destyds: 200 dogters uit Eunice- en Oranje Meisieskole (beide gebore uit die NG Kerk) in wit geklee met hulle palmtakkies; dan ’n groep vroue met gestyfde kappies en studente en dosente van die universiteit geklee in swart manelbaadjies; nog sewe dogters, almal met die naam Emily, en ’n enkele seun (só was dit ook toe: hy’t Emile geheet, vernoem na dié merkwaardige vrou waaroor dit hierdie Saterdag gaan). Vóór hulle, ses meisies wat die kissie as op ’n draagbaar en lanferdoek dra. Heel vooraan die optog, die blaasorkes gelei deur Dingaan Chabalala. Van ver af, die hele ent, die hele uur, kom die gedrae treurklank van die “Dodemars uit Saul” (GF Händel) afgemete aan; die bastrom in vierslagmaat, die natgeswete blasers. Onder kareebome en rondom die plaveisel voor die monument wat in die somerson lê en bak, wag ’n skare met ingehoue asem. In die ry voor ons, raak ’n grysaard ontroosbaar aan die snik. Gód weet wat gebeur het.
God wéét. God ken die name van hulle wat hier in die konsentrasiekampe gesterf het, suigelinge en bejaardes, wit en swart vroue, duisende familliename. God ken die naam van die uitgeteerde Carolus wat op 2 Mei 1901 op die perron van die Springfonteinstasie sy laaste asem uitgeblaas het, op sy moeder se skoot, haar blik stom die verte aan ’t intuur – vir ewig vasgevang in dié beeld van Anton van Wouw op die voorkant van die monumentsuil. God ken die naam van die viermaande oue seuntjie wat verlede jaar vermoor is nadat sy ma verkrag is – saam met 81 ander name voorgelees op Swart Donderdag, 29 Oktober, by ons ASM-vergadering. Saam met die naam van die beesboer wat net die vorige oggend tussen Ventersdorp en Potchefstroom aangeval en wreed vermink is. “Vandag sal 60 mense in Suid-Afrika doodgemaak word,” het dr Lizette Lancaster van die Instituut van Sekerheidstudies die gesprek oor geweld in ons land ingelei. Bendegeweld, politieke geweld, geslagsgeweld, passiemoorde, handgemeenheid en haat. Suid-Afrika huil oor haar kinders. Afrika huil oor haar kinders, van hier tot in Soedan. God wéét van die kinders van Gasa en Israel. God wéét van die seuntjies van Betlehem, “twee jaar en jonger”, afgemaai in Herodes se moordtog agter die Seunskind aan Egipte toe, sê prof Cas Wepener in sy liturgie Donderdagmiddag.
Ek’t rondom my gekyk en gesien hoeveel ASM-lede staan bewoë op, hulleself of geliefdes of lidmate in gemeentes al slagoffers van geweld gewees. “Al wat sin maak, is God wat soos óns lyk. Met ’n regte ma, wat alles gadeslaan. Die gebroke God van gebroke mense”, lees dr Gerhard Pietersen aan ons voor uit sy boek Wond (oor die plaasmoord op sy skoonouers). God wat huil oor wat met sy beeld – imago Dei – op aarde gebeur, oor wat hulle mekaar aandoen (Jeremia 8:18). “’n Stem is uit Rama gehoor, ’n weeklag; Ragel huil oor haar kinders” (Matteus 2:18). Ons is ’n diep verwonde land in ’n struikelende wêreld.
As jy dít dan weet, wat doen jy (ná jy die trane afgevee het)? Hoe breek jy dié siklus van woede en geweld wat van generasie na generasie oorgedra word? Waarom is ons besig om as nasie selfdood te pleeg?
Met dié vrae, het ek Vrydagmiddag laat terug in Bloemfontein geland, net betyds vir die teaterproduksie The story of Emily. ’n “Vrou wat na haar binnestem geluister het”, sê die verteller, aktrise Amanda Strydom. Met minimale dekor, slim beligting en briljante choreografie het regisseur Nico Scheepers en komponis Janine Neethling die teks van Deon Opperman meevoerend uitgebeeld, vele kinders deel daarvan. Kate Normington as Emily Hobhouse; Dawid Minnaar, Lord Milner; Greg Viljoen as die gehate Kitchener. Gebaseer op haar briewe en ook die bekende toespraak van 1913, wat sy by die inwyding van die Vrouemonument sou kom lewer: “Many nations have foundered on this rock … that liberty is the equal right and heritage of every child of man, without distinction of race, colour or sex.” En haar waarskuwing onomwonde: Moenie aan ander (in julle land) gaan doen wat aan julle gedoen is nie! Skryf Scheepers in die programnota: “We are not Emily. We are those who have inherited the memory of what she witnessed.” En vervolg dan in Afrikaans: “Emily Hobhouse kon nie die oorlog beëindig nie. Sy kon nie elke kind red nie. Maar sy het geweier om weg te kyk.”
Dít is wat my die volgende oggend met die herdenking van haar teraardebestelling so diep geraak het: ’n skare van oor die tweeduisend wit, bruin en swart mense – ánders as ’n eeu gelede! – wat nie weggekyk kry nie. Wat haar stem van rede, gewete en wilskrag oor die Vrystaatse grasveld en klipkoppie na óns toe – in hierdie tyd – hoor terugkom. Ook in die toespraak van generaal Jan Smuts die dag in 1926 (puik vertolk deur akteur Chris Vorster): “Patriotisme is nie genoeg nie. Toe sy sien dat haar Engeland ’n beleid kies in stryd met die hoër morele wette, het sy téén haar eie mense gekies en ons só herinner aan ’n edeler roeping wat alle nasies saamsmee … ons behoort bo alles aan die grotere stad van God” (dis Augustinus terloops, en Psalm 46!). Wat Elsabé Brits en Karen Meiring as projekleiers hier reggekry het, deur by die historiese bronne te bly, het ons help onthou bó die grense van verdeelheid uit. Nie ’n volksfees om Emily Hobhouse as “óns” heldin te kaap nie, maar ’n herdenking om haar profetiese stem téén magsmisbruik en geweld vry te laat blý opklink, waarookal. Vredesonthalwe. Vir menslikheid. Dis al.
Sewe “Boerekrygers” het nadergestaan, soos in 1926, vir drie salvo’s – ’n treursaluut. En wit duiwe is vrygelaat, wat die hemel ingesirkel het. Dis al.
Ds Jan Lubbe is predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal en voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen.
