Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Een van die donkerste tekste in die Ou Testament is Rigters 19. Phyllis Trible het dit ’n “text of terror” genoem. Die verhaal skets ʼn prentjie van patriargie op sy donkerste.

Verstaan die Ou Testament | Sias Meyer: Wat doen ons met ’n teks soos Rigters 19?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Een van die donkerste tekste in die Ou Testament is Rigters 19. Phyllis Trible het dit ’n “text of terror” genoem. Kom ons vertel eers die verskriklike verhaal.

’n Leviet uit die bergland van Efraim het ’n byvrou uit Betlehem gehad. Sy gaan (vlug?) terug na haar pa se huis, en ná vier maande gaan haal hy haar. Die pa hou die Leviet dae lank by hom met kos en wyn. Laat op die vyfde dag vertrek die man, sy byvrou en sy dienaar. Hulle trek by Jebus verby, want dit is ’n vreemde stad, en saal eerder af in Gibea in Benjamin. Hier, onder hulle eie mense, sal hulle veilig wees, of so dink hulle.

LEES OOK: Verstaan die Nuwe Testament: Die noodsaak van krip en kruis

Toe nie. ’n Ou man, self ’n inkommer in Gibea, bewys gasvryheid aan hulle. In die nag omsingel mans van die stad die huis en eis dat die Leviet uitgelewer moet word. Hulle wil hom verkrag. Die gasheer weier – gasvryheid is heilig – en bied eerder sy eie maagdelike dogter en die byvrou aan. Dan gryp die Leviet sy byvrou en stoot haar by die deur uit. Die hele nag word sy verinneweer. Teen dagbreek val sy neer by die deur van die huis waar haar man die nag deurgebring het, haar hande op die drumpel.

Kort daarna maak hy die deur oop om huis toe te gaan. Hy sê: “Staan op, kom ons gaan.” Daar is geen antwoord nie. Hy laai haar op sy donkie, en by die huis sny hy haar in twaalf stukke en stuur dit deur die hele Israel. Die Hebreeuse teks sê nie duidelik presies wanneer sy dood is nie. Terwyl sy by die deur lê? Op pad huis toe? Toe hy haar opsny? Dit lei tot ʼn burgeroorlog in Israel en die stam Benjamin word byna uitgewis. Uiteindelik in Rigters 20:47 is daar net 600 mans in Benjamin oor. Hoofstuk 21 vertel die wrede verhaal verder. Om die stam te red, word Jabes in Gilead uitgewis, en 400 jong vroue word vir die oorlewendes gevat (21:12). Die oorblywende 200 mag die mans van Benjamin by ʼn fees in Silo ontvoer (21:21-23). Die verkragting van een vrou loop uit op die verkragting van nog seshonderd.

LEES OOK: Verstaan die Ou Testament: Die weerloosheid van vroue

Maar om terug te keer na die Leviet se byvrou. Sy het nie ’n naam nie en sy spreek geen woord nie. Niemand praat oënskynlik ooit met haar nie. Sy word rondgestuur, uitgestoot, verkrag, opgetel en opgesny. Die verhaal skets ʼn prentjie van patriargie op sy donkerste. Tog sien Trible iets positiefs in die verhaal. Die verhaal help ons om die vrou te onthou. Sy het ook voorgestel hoe ons dit moet lees, naamlik in memoriam, ter nagedagtenis. Ons kan niks meer vir hierdie vrou doen nie. Maar ons kan haar onthou. Ons kan weier om haar verhaal te vergeet. Soortgelyke goed, en erger, gebeur elke dag met ander vroue, ook in ons land, en ons hoor nooit hulle stories nie. Ten minste het ons hierdie vrou se verhaal gehoor, ’n verhaal van gewelddadige misbruik.

Daar is ongelukkig ook ’n ander donkerder kant aan hierdie verhaal. Aan die begin van hierdie verhaal, in vers 1, hoor ons: “Daar was geen koning in Israel nie.” Ons hoor dit ook in die vorige hoofstuk in 18:1 en dan is daar ook ’n langer vorm wat in 17:6 en 21:25 voorkom: “Daar was geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.” Dit is asof die chaos aan die einde van die boek Rigters al hoe erger word. En vier keer hoor ons dat hulle nie ’n koning gehad het nie. Die boek eindig in hoofstuk 21 en daarna kom die boek 1 Samuel wat later vir ons die verhaal van die eerste koning van Israel vertel, koning Saul, hoeka van Benjamin. Uiteindelik in 1 Samuel kom Dawid natuurlik op die toneel wat die tweede koning van Israel word. Die chaos aan die einde van die boek word gebruik om die behoefte aan ʼn koning te motiveer.

Maar hoe verander dit ons lees van die terreurteks van Rigters 19? Wel, die verhaal vertel ons van die vrou van die Leviet wat misbruik word, maar dan word die verhaal self misbruik om die politieke agenda van konings te ondersteun. Die vrou word uiteindelik twee maal misbruik: Eers sy en dan haar verhaal.


Prof Sias Meyer doseer Ou Testament aan die Universiteit van Pretoria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.