Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gawie Pistorius van Bloemfontein skryf: Dana, ek verwys na jou skrywe ‘Ek kan nie meer só glo, bid’ in die Kerkbode van 24 Januarie 2020. Ek is so dankbaar vir die woord ‘só’ met ‘n skuinsstrepie op die ‘o’ in die opskrif. As dit nie daar was nie het die opskrif beteken dat jy nie meer kan glo of bid nie, maar nou beteken dit dat jy net nie weet hoé om te glo of te bid nie.
Jy sê jy kan nie meer bid nie omdat jy jou onskuld al op te veel maniere verloor het. Gelukkig hoef jy nie sondeloos te wees om te mag bid nie. Niemand is sondeloos nie. Alle gelowiges erken en bely juis hul baie sondes deur gebed en verkry daardeur vergewing en verlossing. Gebed is dus juis vir ek en jy en almal wat hul onskuld verloor het die oplossing.
Jy sê jy kan nie meer soos ‘n kind glo nie want die wetenskap het al soveel vroeëre geheime verklaar. Feit is dat hoe meer die wetenskap en tegnologie ontwikkel hoe groter moet jou geloof en bewondering word vir Hom wat vanaf die begin van die skepping reeds die elemente waaruit die tegnologie bestaan geskape het, asook om die mens se verstand so te lei om deur die jare al die moontlikhede te ontdek en te ontwerp. Al alternatief hiervoor is om te glo dat die hele skepping maar op sy eie en toevallig ontstaan het. Die absolute orde en wese van die skepping, van die brein van ‘n mier tot die steeds groter wordende uitspansel, maak die moontlikheid van ‘toevallig’ totaal absurd. Hoe dit alles uit niks kon ontstaan, kan die wetenskap glad nie verklaar nie; die omskakeling van niks na materie in die eerste 10-43 sekondes na die oerknal is en bly ‘n wonderwerk bokant alle menslike begrip.
Moet ook nie jou geloof en gebed baseer op die optrede van ‘n lekeprediker, rugbyspeler, oom Andries, tannie Martie of wie ook al nie. Gebed is ‘n persoonlike gesprek tussen jou en God. Dit word ook nie beperk deur plek of liggaamsposisie of toe oë of wat ook al nie. Jy kan in jou motor ry en met oop oë vir die Here dankie sê vir die mooi natuur, of jy kan in die aand op jou knieë langs jou bed jou hart voor Hom uitstort. Hy is ALTYD beskikbaar om sy VOLLE aandag aan jou gebed te gee.
Jy sluit jou skrywe as volg af: ‘Soms wil ek sommer net met U gesels … Ek glo U verstaan. U ken my hart’. Doen dit, Dana, enige tyd en plek wanneer jy die behoefte daartoe het. God is vir jou oneindig lief en sien onvoorwaardelik uit na julle geselsies.
