Isolasie kan oor die langtermyn selfs groter skade aan gemeenskappe as die virus self aanrig, skryf dr Gideon van der Watt in ’n dokument wat leiding aan die wyer kerkgemeenskap tydens die Korona-pandemie probeer gee.
“Mense benodig God, maar hulle het ook mekaar nodig. In die nabye toekoms sal dominees moet help om verantwoordelike, gebalanseerde antwoorde vir hulle plaaslike gemeenskappe te gee oor maniere om van die ontwrigting (van isolasie) te herstel en te genees. Kom ons bid bewustelik vir wysheid,” luidens Van der Watt, voormalige uitvoerende amptenaar van die NG Kerk Vrystaat en tans redakteur van Christelike Lektuurfonds (CLF).
Intussen probeer CLF se dokument, Tools for pastoral care in COVID-19 lockdown time, pastorale sleutels vir leraars tydens grendeltyd gee.
Die dokument, waarvan Van der Watt redakteur was, is deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) aangevra te midde van ’n magdom ander platforms, soos Bybel-Media se Kieskerk, wat poog om die uitdagende tyd, wat die kerk en sy gemeenskap tans beleef, effe makliker te maak.
Die vraag oor waar God tydens die pandemie is, wenke vir pastorale “gesprekke”, die hantering van verlies en huishoudelike geweld is net van die uitdagings wat in die dokument van 17 blaaie, waaraan vier kundiges meegewerk het, bespreek word.
Lees ook: Vyf G’s in die tyd van Covid-19
Sowat 2300 gevalle van geweld teen vroue en kinders is in die eerste week van grendeltyd in Suid-Afrika aangekondig, skryf ds Dawid Mouton, leraar aan die VGK Keetmanshoop in Namibië in sy hoofstuk wat poog om leraars met lidmate wat geweld in hulle woonplek ervaar, by te staan.
Verder het die New York Times op 6 April oor die toename van wêreldwye huishoudelike geweld berig. Mouton gee 11 wenke vir leraars om slagoffers van geweld by te staan.
Prof Jan-Albert van den Berg, dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), vertel hoe hy en ’n medeleraar om ’n “virtuele tafel” gaan sit het om wenke vir pastorale begeleiding tydens grendeltyd op te stel.
Nuwe maniere van pastorale betrokkenheid, die erkenning van jou eie vrese en om werklik te luister is van die sleutels wat uiteengesit word.
Verder bespreek Van der Watt die teologiese vrae rondom God en die bose. “In plaas daarvan om te maklik van swaarkry te probeer ontsnap, of te maklike antwoorde te soek, moet ons eerder leer om die onverklaarbare swaarkry, en ons eie broosheid en sterflikheid te aanvaar,” sê Van der Watt. En dat ons laastens ons swaarkry, angs en hulpeloosheid na God sal bring.
Dr Juanita Meyer van die Fakulteit Teologie aan die UV gee raad oor hoe om die belangrikheid van die rouproses te herontdek.
Van der Watt het afgesluit: “En miskien help die krisis ons om te besef: kerk gaan nie so baie oor kerk toe gaan nie, maar om kerk te wees.”
[scribd id=456551114 key=key-YBVwHHMK7rNvwKbfSu4n mode=scroll]

Goeie dag,
Waar kan ek die artikel “Tools for pastoral care in COVID-19 lockdown times” in die hande kry?
Groete
Hallo Marius, ons het nou die oorspronklike dokument (as pdf) bygewerk in die berig hierbo. Of jy kan gaan na https://clf.co.za/christian-resources/ en soek onder “Tools for Pastoral Care”. Nog ‘n handige bronneblad is https://www.coronachurch.org.za – Red.
Hallo – wat is die storie met ScribeD?
Help my asb – hoe lees mens die artikel van een van ons voorste denkers, geestelike leiers en teoloë sonder om ver(mis)lei te word deur doolhowe van nog ‘n platform? Dankie!
Hallo Muller,
Scribd.com is derdeparty sagteware en gewoon ‘n middel tot ‘n doel. Dit doen vir pdfs wat YouTube vir video doen, naamlik bied webwerwe ‘n manier om langer brondokumente te “embed” – en juis sonder om elders heen te kliek.
As lesers sukkel daarmee, raai ons aan dat hulle die pdf aflaai en die dokument op hul rekenaar lees:
https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/04/Tools-for-pastoral-care-in-Covid.pdf – Red.