Vyf G’s in die tyd van Covid-19

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

In hierdie tyd van Covid-19 en al die maatreëls wat mense uit mekaar hou, moet ons nuwe maniere vind om ons roeping uit te leef. Christene het nog nooit in tye van nasionale of internasionale rampe gedink dit gee ons ’n vakansie van ons roeping nie. Inteendeel, dit was nog altyd ’n kans vir volgelinge van Jesus om na vore te tree.

Die tyd van inperking vra van ons nuwe kreatiwiteit hieroor. Hieronder is vyf gedagtes oor hoe ons ons roeping as gestuurdes kan uitleef:

  1. GEBED. Die meeste van ons het nou meer tyd op ons hande. Ons natuurlike reaksie in ’n tyd van bedreiging is om meer en dringender vir ons eie behoeftes en ons eie geliefdes te bid. Jesus leer ons egter om eerstens te bid vir die koms van God se koninkryk, vir sy eer en vir sy wil. Laat ons daarom bid vir die wêreld, vir die vind van effektiewe behandeling van mense wat reeds siek is en vir ’n entstof. Laat ons ook bid vir gesondheidswerkers, vir ons eie land, vir die owerheid, vir die ekonomie. Laat ons veral bid dat God hierdie krisis sal gebruik om mense nader aan Hom te trek en dat die kerk haar roeping sal onderskei en vervul.
  2. GEE OM. Dit is opvallend hoe mense in hierdie tyd meer en beter omgee vir mekaar. Die krisis bring mense nader aan mekaar. Jesus se volgelinge behoort hierin die toon aan te gee. Ons omgee moenie net beperk wees tot die mense in ons vriende- en familiekring nie. Iemand vertel op Facebook hoe hulle bure vir hulle skons op die tuinmuur neergesit het en hoe hulle dit waardeer. Wees jy daardie buurman/vrou wat hoor hoe dit met jou bure gaan. Is daar gemeenskapsprojekte in julle omgewing? Begin deur by die plaaslike CMR uit te vind hoe julle van hulp kan wees.
  3. GESELS: Praat met mense met wie jy kontak maak – by die winkel, in die apteek, op die parkeerterrein, per telefoon: “Hoe gaan dit met jou, is jy OK? Dankie vir die diens wat jy lewer. Pas jouself op.” Daar is waarskynlik mense in jou nabye buurt wat in hierdie tyd alleen is. Vind uit wat is sy/haar telefoonnommer en vra of jy van tyd tot tyd kan bel: “Hallo, ek wil net hoor hoe dit gaan en of jy iets nodig het? Is daar iets waarvoor ek vir jou kan bid?” Dink veral aan mense wat nie noodwendig in die binnekring van die kerk is nie.
  4. GEE. Jy het moontlik in hierdie tyd minder persoonlike uitgawes. Hou aan om jou bydrae vir jou plaaslike gemeente te gee. Daar gaan vir seker meer mense wees wat in hierdie tyd finansiële ondersteuning nodig het. Oorweeg ook ’n bydrae aan die nasionale solidariteitsfonds.
  5. GETUIG: Ons het oor die algemeen ’n baie verskraalde idee van wat dit beteken om ’n getuie te wees. Baie gelowiges dink dit beteken net om te vertel van Jesus wat ons sonde wegneem. In die regte wêreld gaan getuienis oor baie meer. Ek het nou net ’n oproep gehad van iemand met ’n navraag. Hy het egter sommer die gesprek gebruik om my te bemoedig en te vertel dat hy glo God sal alles ten goede laat meewerk. Ek het dit so waardeer.

Dit is Lydenstyd. Jesus inspireer ons om te sorg en om te gee: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was …” (Fil 2:4-5).

  • Dr Lourens Bosman is die algemene bestuurder van die NG Kerk getaak met die missionale roeping van die kerk.