Toe Kerkbode vir ds Jampie Nel uitnooi om ’n stuk te skryf, maak sy ’n sterker teenaanbod: Sy voer sommer self ’n onderhoud met nog ’n leraar en werk daarby haar eie storie in. Hier volg haar gesprek met ds Maartje van der Westhuizen.
Jampie Nel (JN): Vertel kortliks hoe het jou pad geloop in die bediening en wanneer het jy besluit om teologie te studeer?
Maartje van der Westhuizen (MV): In my graad 11-jaar het twee goed vir my baie duidelik geword. Eerstens, dat ek ’n mense-mens is en tweedens dat ek baie lief is vir die Here. Alhoewel niemand in my familie ’n predikant is nie, het my betrokkenheid by die kerk en VSCV my laat besef dat ek uitgeknip is vir die werk van ’n predikant.
Ek het in 2008 klaargemaak met my gemeentejaar by NG Kerk Aasvoëlkop en is in Maart van 2009 beroep na NG Kerk Kameeldrif. In 2014 is ek beroep na NG Elarduspark vir gesinsbediening en werk tans daar.
Vanaf my tweede jaar het ek ook beleef dat God my roep om in die breër NG Kerk betrokke te wees en ek geniet dit steeds om op verskillende taakspanne te dien.
JN: Ek dink aan my verhaal as iemand wat met ’n roeping gebore is en die genade van die Here regdeur my lewe beleef. Ek was in graad 8 op ’n ACSV-kamp toe ek die roeping ontvang het en toe ek dit met my ouers deel, vertel hulle vir my dat ek voor my geboorte reeds aan die Here gewy is. Dit was vir hulle ’n bevestiging van die Here se belofte. Kort daarna het ’n baie bekende professor van Stellenbosch by die gemeente waar my pa predikant was, ’n reeks kom doen. Ek het natuurlik baie opgewonde met hom gedeel dat ek geroep is om teologie te studeer. Hy het lank stilgebly en toe geantwoord: “Nie in my leeftyd nie, dogtertjie.” So was daar deur die jare soms mense met dieselfde weerstand as hierdie professor en ek het altyd twee sake voor oë probeer hou: 1) Die Here het my geroep, en 2) Wees sag met mense wat van jou verskil.
Tydens die BA-jare was ek die enigste meisie saam met 54 manne en het werklik gevoel hoe hulle my as hulle sussie behandel. Hulle (en enkele dosente) het my verwelkom in ’n harde, onwelkome kerk. Die “vrou in die amp van leraar”-besluit het aan die einde van ons 5de jaar gekom (ek het steeds die telegram wat my pa vir my gestuur het) en ek was dus deel van die eerste groep vroue wat by Stellenbosch gelegitimeer is in 1991.
Ek en Marius (Nel, dosent aan die US en Kerkbode-medewerker) is in 1990 getroud en het na ons legitimasie aangebly op Stellenbosch vir verdere studies. In 1993 was ons saam in ’n proponentspos in Uitenhage Moedergemeente, die gemeente waar ek byna die helfte van my kinderjare was. Ons het spesifiek vir die gemeente gevra of ons dit saam kon doen, want ons het besef dat mense gewoond moes raak aan ’n vrou op die kansel. Dit was heerlik om deel te kon wees van ’n bediening tussen mense vir wie ek baie goed geken het en baie lief voor was. Hulle het my as hulle s’n aanvaar en opgepas.
Marius is in 1994 Doornpoort toe beroep, maar voordat hy die beroep aanvaar het, wou hy eers seker maak of daar vir my sou ruimte wees om deel van die bediening te wees. Doornpoort het my, saam met hom, met oop arms ontvang. Hulle het egter nie oor die fondse beskik om my te beroep nie. Ek het vir twee jaar as proponent – grootliks verniet – gewerk voordat die sinode toestemming verleen het dat ek georden kon word sonder dat ek onmiddellik aan die pensioenfonds gaan behoort.
Alhoewel ek van die eerste vroue is wat georden is en vir baie lank die enigste vrou op rings- of sinodale vergaderings, het ek bitter selde die ervaring gehad dat ek nie welkom is nie. Die enkele kere wat daar insidente was, het my geliefde kollegas (ring en sinodaal), dit met groot liefde hanteer. In die gemeente het ons as kollegaspan gewoon die gemeente in drie blokke verdeel en al drie van ons het alles gedoen met betrekking tot die bediening. Dit het die gemeente en vir my gehelp om te leer dat die vrouedominee ’n dominee is en nie net geskik is vir sekere take nie.
In 2011, toe Marius na die Fakulteit Teologie by US beroep is, het ek deur die hand van die Here, die beroep na Oostersee ontvang. Genade op genade.
Lees ook Op die baan wat hulle oopgemaak het: Vrouepioniers in die Afrikaanse kerke
JN: Wat is die dinge of wie is die mense wat jou op jou pad bygestaan het?
MV: Toe ek begin teologie studeer het, was die idee van die vrou in die amp darem nie meer so vreemd soos in die begin nie. Ek sou nie sê dat elke gemeente of lidmaat op daardie stadium daarvoor sou kans gesien het om ’n vrou te beroep nie, maar in Pretoria veral was daar al ’n paar vrouedominees.
In my gemeentejaar, sowel as in albei gemeentes waar ek bevestig is het ek altyd kollegas gehad wat my opgebou en ondersteun het. Ek kon myself wees en selfs toe ek my twee kinders gehad het, was hulle ondersteuning ontsettend baie. My kollegas, ook in die breër kerk, het my nog altyd ondersteun om meer aan te pak en om groot te droom.
Ek is getroud met Zander van der Westhuizen, wat ook ’n predikant is, en dit het vir seker gemaak dat ek voel iemand verstaan my leefwêreld en ’n mens kan altyd saam perspektief kry oor dinge in die kerk wat jou vies maak en pla.
Ek was ook bevoorreg om ’n paar vrouedominees, wat voor my klaargemaak het, te kon bevriend. Hulle het my geleer dat ’n mens nie moet vaskyk in geslag nie en dat as jy jou werk doen en jouself is, sal dit OK wees. My ervaring was dat baie van die kritiek wat ek soms gekry het, meer oor my ouderdom was as oor my geslag. Ek kan egter nie praat vir ander vrouedominees nie.
JN: My ouers se liefde en swaarkry ter wille van my, sal ek my lewe lank koester. My lewensmaat en geesgenoot, Marius, het my gehelp om myself te vind en hy bly steeds my klankbord, wysheer en plek van afpak. Sy sin vir humor is dikwels my grootste bron van ontspanning. Dan is daar altyd op elke plek geesgenote, kollegas, ’n vriendin en lieflike mense wat saam met my op reis is. Ek is oneindig dankbaar vir die mense in my lewe. Ek is dankbaar teenoor die kerk saam met wie ek op reis is en saam met wie ek kan groei.
Lees ook 30 jaar van vroue in die amp
JN: Hoe het die teenwoordigheid van vroue (nie net dominees nie) in kerklike vergaderings bygedra tot ’n nuwe kultuur van inklusiwiteit, diversiteit en ’n viering van die liggaam van Christus? (Hier kan ’n mens iets oor die bydrae noem, maar ook dalk byvoeg dat ons nog nie heeltemal verteenwoordigend is nie.)
MV: Ek dink dat die teenwoordigheid van vroue in die kerkvergaderings ’n ongelooflike positiewe bydrae het. Alhoewel vroue, net soos mans, ontsettend baie verskil en nie oor dieselfde boeg gegooi kan word nie, bring vroue tog ’n ander hoek na die tafel toe. Die feit dat ek ’n ma is, het gemaak dat ek byvoorbeeld ’n klomp ander dinge op die tafel kon sit oor die gesinsbediening, dinge wat ’n manlike kollega dalk nie aan sou dink nie.
Baie ringe praat tot vandag toe nog van ’n “broederkring”, dit is baie eksklusiewe taal. As ’n vrou in die vergadering sit, raak dit later baie ongemaklik om van ’n broederkring te praat en so word ’n groep dalk aangemoedig om die naam te verander. Dit kan dalk weer lei tot verdere insluiting en luister na ander stemme.
JN: Diversiteit is ’n geskenk van die Here aan sy kerk, of dit nou met geslagte, met generasies, met seksuele oriëntasie, of selfs taal en kultuur te make het. Vroue is maar een aspek daarvan. Ek is onlangs aangespreek as “broer voorsitter” – dan bid ek telkens vir die grasie om ander saam met my te neem, eerder as ’n gekrenkte ego te hê wat wil aanval. Op ons reis leer ons elke dag om nuwe taal en nuwe gewoontes aan te leer. Dit is soms bitter moeilik, maar ons kan terug kyk en met groot dank sien hoeveel mylpale reeds bereik is. Aan God die eer.

JN: Wat is jou droom vir die kerk?
MV: My droom is dat die kerk al hoe meer sy potensiaal sal ontdek. Ons sien dit nou in die tyd van Covid-19 en ook met ander rampe soos die droogte, dat wanneer gemeentes hande vat kom daar regtig verandering.
My droom is dat ons mekaar sal versterk en bemoedig om in Jesus se voetspore te loop. Ek glo regtig dat die kerk Jesus se hande en voete is, tog val ons so maklik vas in sinlose debatte wat ons weg hou van ware kerkwees.
Om Jesus te volg is die beste manier om te leef. Jesus het nie vasgehou aan sy eie ego nie. Nee, Hy het soos Filippense 2 sê Homself verneder tot die dood aan die kruis. Hy het mag weggegee, Hy het grense oorkruis, Hy het verskillende mense omarm en na ander se stories geluister. My droom is dat ons dit in die kerk onder mekaar moet oefen, sodat ons dit oor ons eie grense kan uitleef.
My droom is ook dat ons nie bang sal wees om diversiteit te omhels nie. Om ander te omhels, verryk jy ook jou eie menswees.
JN: Watter snaakse dinge het jy al in die bediening beleef wat jy eendag vir jou kleinkinders wil vertel?
MV: Ek het een Sondag vir ’n gesin buite die gemeente gewag, ek wou hulle ontmoet voor ek hulle baba doop. Ons is ’n makro-gemeente en ek was nog nuut, so hulle het my nog nie geken nie. Toe ek hulle buite kry, vra hulle of ek die doopkoördineerder is.
Lees ook Oor stereotipes en energie
JN: Ek doen een oggend in die Kaapse stormweer huisbesoek en die tannie vra vir my: “Wat maak jy hier in hierdie weer, my hartjie?” Ek sê vir haar: “Ek is die dominee, Tannie, en ek doen my werk.” Sy antwoord: “O, ek weet jy is die dominee, maar watse werk doen jy?”
Ek moes in 1998 vir ’n operasie gaan en toe ek by die hospitaal opdaag, het hulle my in ’n mansaal ingeboek – hulle het gereageer op my titel en nie verder gelees nie. Gelukkig kon die hospitaal dit regstel.
In Doornpoort het ek gereeld gehoor: “Jampie, sê groete vir die dominee.” Dit was vir my ’n kosbare bevestiging dat hulle met my ’n verhouding het en dat ’n titel ons nie skei nie.
▶ Ds Jampie Nel is predikant by NG Oostersee in die noordelike voorstede van Kaapstad. Sy is 23 jaar reeds ’n predikant, maar werk al as predikant vir 29 jaar.
▶ Ds Maartje van der Westhuizen is predikant by NG Elarduspark in Pretoria en reeds twaalf jaar ’n predikant.
