Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Vir so lank as wat ek kan onthou, doen ons skuldbelydenis in die kerk. Ons bely allerhande soorte sondes: grotes en kleintjies, publiekes en privates, bedoeldes en onbedoeldes.
En wanneer ons ons sonde bely, daar in die kerk, saam met ons susters en broers, binne-in die liturgie, dan glo ons saam in die vrymakende krag van vergifnis en ons raak ontvangers van verlossing.
Lees ook: Jaap Durand (1934-2022) | Teoloog wat grense oorsteek en beperkings uitdaag
Ons voel vrygemaak en vrygespreek.
Maar as ons bely, is ons nie net individue nie. Ons is ook gesinne, groepe, gemeenskappe en denominasies. Wie ons is as enkeles, is altyd verweef met die plekke waar ons behoort (nou en in die verlede) en die mense met wie ons assosieer. Skuldbelydenis is ALTYD ’n verhouding-saak.
Iemand stuur onlangs ’n videogreep aan van die episode waar Hannes Koornhof, Frederick Marais en Bethel Müller destyds voor die WVK verskyn. Hannes lees ’n verklaring, Bethel praat ook, hulle bely – in die teenwoordigheid van aartsbiskop Tutu, ander beamptes van die WVK en ’n saal vol gemeenskapslede (ek vermoed dit was op Stellenbosch) – die sonde waaraan hulle en die NG Kerk deel gehad het. Hulle draai nie doekies om nie, hulle noem die sonde van ontmenslikende teologie en die bedoelde en onbedoelde swye in die teenwoordigheid van onreg. Hulle bely dat apartheid sonde was.
Lees ook: Wat beteken Tutu se tipe teologie?
Tutu reageer. Hy meng (tipies van hom) erns en humor en hy aanvaar die verskoning en die belydenis.
Na die amptelike gedeelte van die byeenkoms wys die videogreep hoe Tutu afstap van die verhoog en hoe hy Koornhof, Marais en Müller gaan omhels. Nie halfhartig nie, maar met sy héle hart. Müller is sigbaar aangedaan. Genade het bene en arms en oë en ore; voelbaar.
Nou wonder ek: Is daar klaar bely toe hulle die saal (destyds) verlaat het? Wat van my as NG lidmaat en predikant, die gemeente waarvan ek deel is hier in die Johannesburg van 2022, waar die gevolge van apartheid amper drie dekades later daagliks aan die kerktrappe knaag en die NG Kerk (in die breë) allesbehalwe floreer en vry voel? Wat van ons?
Lees ook: Klaar met skuldverplasing?
Ons moet ook bely. Ons moet verlossing soek en ontvang. Want dit is so: Ons wil graag verlossing vind sonder om te veel te bely; ons is bang dat wanneer ons gaan bely ons net slegter en slegter gaan voel. Is die waarheid nie juis dat as ons meer en meer gaan bely, ons vryer en vryer gaan voel nie?
En wat gaan dit (aan ander, aan God) kommunikeer as ons aanhou saam bely, daar in die erediens met gereelde gebare en gebede?
Gaan ons nie mettertyd nederiger en nederiger en gesonder en gesonder word nie? Gaan ons nie vrygemaak voel nie?
Nou kan ek hoor hoe iemand (weer) sê: ‘Hoe lank moet ons nog sorry sê en wat van die Zumajare en korrupsie en Ramaphosa se traagheid?’
Dan antwoord ek hom: As ek deel was van etlike eeue se onreg, dan is die minste wat ek kan doen, om vir ten minste ’n paar eeue die knie van my hart (en dalk selfs my been) te buig in opregte erkenning, gereed om genade, vergifnis en vryheid te ontvang.
En dan weer te loop probeer om my naaste lief te hê soos myself.
- Ds Rudi Swanepoel is ’n leraar by die Andrew Murray Gemeente in Johannesburg.

Ons glo dat wanneer ons in opregte berou voor God staan God ons sondes vergewe.
Die gebed wat Christus ons leer praat ook van wedersydse vergiffenis. Maar die mens
En my Kerk en sy Leiers en vertel nee jy moet bly noem dat jy jammer is.
So leer ons jong mense dat die een geregtig is om wraak te neem terwyl die ander leer dat
hy minderwaardig is a.g.v. die sondes van die vaders.
Ek dink Rudi soek aandag. Wil hy nie sommer ook bely dat die meeste mense – blank en nie-blank – ‘n baie beter lewe gehad het in die sg apartheidsjare nie. Ek dink selfs die kerk het beter gegroei in daardie tyd ook. Ek het vanaf 1985 vir ‘n hele paar jaar in die middestad van Johannesburg gewerk vir die MES aksie en die Johannesburg-Oos gemeente en apartheid of die sg gevolge daarvan het geen rol gespeel in ons bediening daar nie.