Klaar met skuldverplasing?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Deur die eeue heen was daar tien­talle voorstelle van wie die “kneg van die Here” in Jesaja 52:13 – 53:12 kon wees. Een van die moontlikhede is dat die kneg in Jesaja 53 Sion/Jerusalem, is. Jesaja handel onder meer oor die lot van die stad Jerusalem. Onder Jesaja-navorsers is die konsensus dat die fokus nie soseer op die identiteit van die kneg behoort te val, as dit wat die kneg doen nie. Dit gaan dus nie oor die stad as sodanig nie, maar eerder oor die mense van God wat as gemeenskap skuld moet dra en nie verplaas nie, en selfs onregverdige ly­ding moet verduur en nie bekla nie. Alleen dan word herstel van verhoudings, genesing en bevryding moontlik.

Uit die geskiedenis sien ons dat die allerverskriklikste, die ondenkbare, die grootste verleentheid en vernedering wat die volk van die Here ooit te beurt kon val, in die jaar 586/587 vC gebeur. Die pilare van die Judese gemeenskap word onder hulle uitgeruk. Die tempel, die koning en die stad van God word vernietig. Sion/Jerusalem, God se stad wat nooit vernietig sal word nie, waarin God se koning uit die geslag van Dawid vir ewig sal regeer en waar God in sy tempel woon (sien die Natans-belofte en Salomo se tempelwyding) is geweld­dadig geskend en het ’n onaansienlike, vervloekte, vernederde en magtelose ruïne geword. Die stad is as gevolg van die volk se sondes vernietig en ly gevolg­lik. Die stad dra hulle skuld en dus die oordeel wat hulle moes tref.

Die vraag is – wie se skuld is die vernietiging van die Judese simbole en die daaropvolgende ballingskap? Jeremia sê dit is die vroue wat die Hemelko­ningin aanbid, die vroue sê dis Jeremia, Jesaja sê dit is die leiers, die leiers sê dis die volk. Niemand wil verantwoordelikheid aanvaar nie en almal verplaas skuld.

Die afgelope maand is apartheid as “misdaad teen die mensdom” en plundering van die staatskas in die nuus. Vergelykings word getref, vingers gewys en verontskuldigings aangebied. Indien ons as Suid-Afrikaanse gemeenskappe bly ontken, bly skuld verplaas, sal ons ’n gebroke gemeenskap bly. Hiervan getuig Genesis 2 – 3. Die Here konfronteer Adam, hy verplaas die skuld na Eva, wat op haar beurt die skuld ver­plaas na die slang toe. Die uiteinde – gebroke verhoudings tussen God en mens, mens en mens en mens en natuur.

Jesaja 53 roep ons op om die siklus van skuldverplasing te breek, op te hou om ons lot te bekla en lyding te verduur. Miskien is dit tyd dat ons as leiers en lidmate van die NG Kerk introspeksie doen oor dit wat die afgelope dekades in ons land en in die meer onlangse verlede in ons kerk gebeur het en aan die gebeur is. Handel ons soos die kneg van die Here in Jesaja 53 of soos Adam en Eva in Genesis 3?

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.