Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Jannie Pelser van Krugersdorp skryf:
Vergun my ’n paar gedagtes te wissel oor die merkwaardige potensiaal van die enneagram.
Ek het met die enneagram te doen gekry terwyl ek die Spirituele Begeleidingskursus onder leiding van dr Willem Nicol bygewoon het. Vir my het dit voortgevloei uit die Geloofsvormingskursus wat deur Goudland Sinode aanbeveel is.
Persoonlik is ek jare op reis in ’n soeke na ’n beter verstaan van myself en my emosionele welsyn. Emosionele intelligensie was nie ’n begrip waarmee ek bekend was nie. Gedurende ons vormings- en opleidingsdae het die intellektuele in alles die voorrang geniet. Die volwasse lewe met sy uitdagings, veral die bediening in die NG Kerk, het nie alleen moontlikhede gebied nie, maar ook uitdagings waarop ek nie voorbereid was nie.
Die enneagram het my op ’n pad van ontdekking geplaas en vormend en genesend ingewerk op lidmate wat die opleiding deurloop het.
In wese kom die enneagram daarop neer dat mense in terme van hulle persoonlikheid in nege tipes ingedeel kan word. Waar baie ander modelle vra na jou optrede kyk die enneagram na die innerlike motivering van ’n mens, wat jou doen, dink en voel betref.
Persoonlikheid is eintlik die manier waarop ons geleer het om in hierdie lewe te oorleef. Ons het die verdedigingsmeganismes van kleintyd aangeleer en so gewoond geraak daaraan dat ons inderdaad glo dat dit ons definieer.
Die waarheid egter is dat ons ware menswees, essensie, iewers verskuil is en wag om ontdek te word. Essensie is in wese wat God se bedoelings met ons as individue is. Ongelukkig het ons so met ons persoonlikheid en oorlewingsmeganismes begin identifiseer dat die ware EK nie ten volle na vore kan tree nie.
Die potensiaal en persoonlike bevryding wat die enneagram in my persoonlike lewe asook interpersoonlike verhoudings gebring het kan nie oorbeklemtoon word nie. Ek het as narratiewe enneagramfasiliteerder gekwalifiseer en is beskikbaar om dit vir gemeentes en ander belangstellendes aan te bied. Dit is lewensveranderend.
Die enneagram kan gemaklik via byvoorbeeld Zoom gefasiliteer word, selfs vir groepe mense.
Uiteraard het ’n persoonlike ontmoeting ander voordele.
- Ds Jannie Pelser kan gekontak word by 083 601 9094.
