Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Daniel Louw van Johannesburg skryf: Die persverklaring (15 Feb 2023) “‘Kreatiewe spanning’ tussen akademiese teologie en kerklike teologie is noodsaaklik, sê dosente by Maties” verwys. Ek bevraagteken die stelling dat daar ’n akademiese en ’n kerklike teologie is.
My opinie is dat daar in ’n gereformeerde kerk slegs ’n gereformeerde teologie is en dit in spanning staan teenoor enige ander beweerde teologie. Ek sien gereformeerde teologie as akademiese sowel as kerklike teologie as een en dieselfde saak. Die dosent wat in ’n akademiese pos staan, moet sy akademie kerklik beoefen en die predikant in die praktyk moet sy kerklike bediening akademies verantwoordelik beoefen. Wat is VBO vir predikante anders as dit? Ek is verseker uit die oude doos en agtergeblewe maar die oue gereformeerde uitgangspunt dat ’n dosent vir ten minste drie jaar voltyds in ’n gemeente moes dien voordat hy/sy dosent kan word behoort nog geldig te wees. Soos predikante VBO-punte moet verwerf behoort dosente VBO-punte te verwerf vir betrokkenheid in die kerklike praktyk. Nog ’n aspek wat ’n teenstrydige destruktiewe spanning kan skep, is dat kerklike dosente studente en predikante in diens tydens VBO-konferensies akademies moet leer, lei en toerus.
Deesdae is, soos ek verstaan, studenteklasse ’n groot ruim oop ekumeniese situasie, so ek is skepties oor wat in die klaskamer gebeur wanneer die aspek van suiwere bediening van die Woord, die bediening van die sakramente soos Christus dit ingestel het en die toepassing van die kerklike tug (gereformeerde kerkorde) doseer word? Ek wonder regtig daaroor en is onrustig daaroor hoe dosente die Bybelse familiemetafoor, wat baie sterk soos ’n goue draad deur die Bybel loop, hanteer? Hoe sou die metafoor in Openbaring dat die kerk die bruid en die vrou van die Lam is wat die Seun van die mens is en ook die Seun van God (die Vader) is akademies verantwoordelik nagevors en doseer word en wat is die gesagvolle akademiese bronne wat voorgeskryf word vir studente?

Dankie Daniel. jy verwoord baie mense se kommer. Dit lyk asof sommige dosente hul studente se geloof wil toets deur twyfelagtige idees voor te hou as moontlikhede. Geen wonder dus dat sommige eerstejaars uitstap as ateïste. Ook val die getalle wat inskryf dramaties.