Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Theo Badenhorst: Wat het die NG Kerk nou nodig?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Theo Badenhorst van Brackenfell skryf: Ons nader weer die Pinkstertyd in die NG familie. Dit is ook ’n geleentheid om na te dink oor die identiteit van ons NG Kerk, waaroor daar baie gedink en gesê word oor die afgelope jare. In die verlede is die NG Kerk deur sommige op ander maniere gekenmerk as oor ons gereformeerde tradisie – apartsheidskerk, liberaal ens. Tog is ons kerk by tye ook gesien as ’n sendende kerk, en daarmee saam ’n kerk wat soek na groeiende lewe, veral deur middel van ons gebedstradisie, waar ons Pinkstergebruik veral na vore kom. Dit is by laasgenoemde dat ons ons identiteit in ’n groot mate vandag moet soek.

Die redes vir bogenoemde is velerlei, byvoorbeeld dat die kerk van Christus (insluitende ons kerk) in ’n geestelike nood verkeer. In die tradisioneel Christelike wêreld gaan die kerk se aanhang agteruit, met hier en daar ’n uitsondering. Wat ek veral in die NG Kerk opmerk is nie net ons dalende getalle nie, maar die drastiese afname van studente wat hulle aanbied vir teologiese opleiding.

Verder word daar wêreldwyd gespekuleer oor die getalsuitbreiding in die Islam, veral in die tradisioneel Christelike wêreld. (Dink nou maar aan ’n Moslem eerste minister vir Skotland.) Daar is vrese dat die Westerse wêreld ge-Islamitiseer kan word. Ek wil nie hierdie vrese graag deel nie. In plaas van om sulke vrese te hê, is ons uitweg juis: herlewing vir die kerk van Christus.

Ons kry en verneem van talle strategieë op sinodale vlak met betrekking tot evangelisasiemetodes en ’n missionale gerigtheid – wat verblydend is. Tog, as daar nie ’n ernstige soeke na God self is daarmee saam nie, is al ons mooi pogings tevergeefs. Ons moet ook nie vergeet nie dat ons Pinkstergebruik (en meer) voortgekom het uit die herlewings van die 1860’s.

In die huidige tydsgewrig moet ons Pinkstergebedstyd myns insiens gekenmerk word deur ’n soeke by God na herlewing. In die hierdie soeke is ’n diep besef van die volgende myns insiens noodsaaklik. Ek noem ses sake (en die lys kan uitgebrei word):

  1. die heiligheid van God
  2.  ’n ingrypende berou oor ons eie swakheid en sondigheid
  3.  ’n opregte vergewingsgesindheid
  4.  ’n behoefte aan groei, veral deur middel van die Bybelwoord
  5.  die onontbeerlike werking van die Heilige Gees om ons meer Christusgelykvormig te maak as dissipels van Christus
  6.  ’n verloregaande wêreld wat die Woord van verlossing nodig het.

Mag God ons in die Pinkstertyd seën met ’n soortgelyke besef, en uiteindelik die vrug daarvan.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top