Hy het in 1957 by die NG Moedergemeente Potchefstroom belydenis van geloof afgelê, vertel Hennie van Deventer. Hy kyk nostalgies, maar darem nie net ongekwalifiseerd nostalgies nie, terug na preekstyle en kanseltaal.
’n Uur voor die erediens kondig die eerste gelui van die kerkklok in die toring met die hoenderhaan (weerhaan) op sy punt die Sondag amptelik aan: die Sabbat. Die stemming is vandag anders; die tempo rustiger as elke ander dag van die week.
Winkels is oor die algemeen toe, ook kafees en bioskope. Sportvelde staan verlate.
Tuis kom die kisklere uit die kas: hoede, sykouse en stringe pêrels of krale vir vroue en dogters, donker pakke klere en dasse vir mans en seuns. Driestukpakke is gewild by die ouer garde.
’n Halfuur voor die diens is die tweede gelui. Gesinne begin opstap by die trappe van die witgekalkte kerk wat generasies al sy omgewing oorheers.
Die meeste lidmate, doop- en belydend, dra Bybels en Psalm- en Gesangeboeke. Gemeentelede neem skuifelend hulle plekke in. Mevrou Dominee en haar kinders kom by ’n sydeur in en beset die pastoriebank.
Die orrelis klap die deksel van die orrel op die galery op. Stemmige Sondagmusiek vul die gebou uit die piramide van orrelpype wat feitlik die muur bo die kansel beslaan. Hoe nader aan die winter des te sterker die gepaardgaande crescendo van die kollektiewe gemeentelike kugte.
Met die derde gelui swaai die deur van die konsistorie oop. Die leraar verskyn uitgedos in sy deftige swart toga met fluweelinsetsels en tossels. By die trappies na die kansel gaan hy staan en laat sak sy kop in stil gebed. Agter hom tou die swartspan die kerk binne, maklik twintig of dertig ouderlinge en ewe veel diakens. Almal mans. Hulle sit in dwarsbanke. Party dra manel (“gatjapon”); ander net ’n gewone swart pak. Net wit dasse waar jy kyk. By enkeles is die ketting van ’n goue sakhorlosie sigbaar, gewoonlik ’n erfstuk.
Viering van 180ste jaar
Op die kansel is ’n enorme Kanselbybel (1933-vertaling) met leeromslag en goudbeslag. Dit is waaruit die Skriflesing kom. Op die blou fluweel kanselkleed staan in sierletters in goud geborduur: “So spreek die Here.”
Vir ’n wyle dwaal die herder se oë met welgevalle oor sy versamelde kudde wat die karaktervolle gebou volsit. Wat hy sien, is goed vir sy siel. Ook die stemmingsvolle struktuur. Die ontwerp is “tradisioneel” met ’n hoë plafon waaruit kandelare hang. Oregondenbanke, plankvloere wat kraak onder jou voete, ornate vensters en ’n outydse preekstoel rond die prentjie af. Die liturgiese ruimte is skoon en oop.
“Goeie more, broeders en susters,” groet die dominee. Die gemeente antwoord met die knik van die kop.
Die liturgie volg ’n vaste patroon: votum, lofsang, wet, geloofsbelydenis (ook skuldbelydenis en -vergifnis), Skriflesing, preek, kollekte (danksegging), slotsang en seën. Wanneer gebid word, staan die mans op en vir elke lied staan almal.
Elke preek het drie punte. a, b en c. Welluidend word die boodskap oorgedra. Geen klankversterker is in sig nie. Die sang is beperk tot die Psalm- en Gesangeboek, gewoonlik net twee of drie versies.
Vir die uitspreek van die seën aan die einde – presies of baie na aan ’n uur na die derde gelui – strek die leraar sy arms dramaties na bo, die enigste keer in die erediens. As sy “amen” wegsterf, is die diens verby.
So onthou ek kerk in my kinderdae 60, 70 jaar gelede. Die herinneringe het koers gekry toe die NG Moedergemeente Potchefstroom enkele weke gelede sy 180 ste verjaardag gevier het. Dit is die gemeente waar ek op 27 April 1957, drie maande ná my sestiende verjaardag, belydenis van geloof afgelê het by die befaamde ds Beyers Naudé.
Ds Naudé was by die Hoër Volkskool se kinders bekend as Oom Bey. Die Volkies was lief vir hom en het hom in elke opsig gerespekteer. Hy het soms smiddae onverwags by ons koshuis, Jack Pauw, opgedaag en ’n paar balle saam met ons rondgeskop. So verower ’n leraar ’n skoolkind se hart.

Die medeleraar was ds Nico Smith, die latere prof Nico Smith – ’n man met ’n mooi stem en ’n onvergeetlike preekstyl. Die twee sou in later jare omstredenheid verwerf weens hulle rol op die voorpunt van die stryd vir groter geregtigheid vir Suid-Afrika se geknelde swart bevolking. Maar wat ’n span.
Soms is buitengewoon treffende preke van ”Ds Bey” of “Ds Nico” op spesiale versoek herhaal. Vir sulke geleenthede is stoele uitgepak, ook buite die kerk, en luidsprekers aangebring. Mense het vroeg gekom om plek te kry.
Koshuiskinders en verpligte kerk
Nagmaalnaweke is die voorbereidingsdiens Saterdagaand en die nabetragting Sondagaand goed bygewoon. Op die tradisionele Oujaarsdienste was vir geen muis plek nie. Die trane het gerol weens die ritueel om die afgestorwenes van die afgelope jaar se name dramaties af te lees en die naastes te laat opstaan terwyl die horlosie die laaste minute van die ou jaar aftik.
Vir ons koshuiskinders was kerk verpligtend, soggens en saans. Die meisies van Ons Hoop-koshuis moes in gelid (’n rank is dit genoem) soontoe marsjeer in hulle verruklike wit rokkies; soveel mooier as die fyn blommetjiemateriaal (somer) of die swart tuniek (winter) van die skooldrag.
Ons seuns was sonder uitsondering in pakke klere uitgevat. Myne was tot in standerd agt ’n kortbroekpak – iets wat weldra uitgesterf het. In standerd nege het ek ’n spoggerige ligblou dubbelborspak gekry en die eerste eie Sondagdas wat nie uit my pa se klerekas kom nie.
Soggens het ons Sondagskoolkinders verspreid in die kerk in klasgroepies gesit en swoeg met die Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls. Ons moes hele hoofstukke uit die Bybel uit die kop ken, onder meer Jesaja 55: “O almal wat dors het, kom na die water …” en Jakobus 3: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders.” (albei ou vertaling). Die Bybelboeke moes ons in snelvuur kon opnoem van Genesis tot Openbaring. Dit het nogal konsentrasie geverg. Vir aanddienste is ons om die beurt na die Moederkerk, die Mooirivierkerk en die historiese Hervormde kerk.
Kanseltaal en ‘n bulderende stem
Die Mooirivierkerk het nogal ’n pakkende geskiedenis. Dit is in twis en tweedrag tydens die Rebellie van 1914 gebore. In 1917 is van die Moedergemeente afgestig. Die bestaande kerkgebou het toe die naam “Rebellesie”-gebou gekry. Tydens en nog lank ná die Tweede Wêreldoorlog het Mooirivier as die Barrish-kerk (die leraar was ’n ds Barrish) of die Sap-kerk bekend gestaan terwyl die Moedergemeente die Worst-kerk was (die leraar was ds GD Worst).
Eersgenoemde het al die Sappe (lede van die Suid-Afrikaanse Party) gehuisves omdat laasgenoemde net Natte (lede van die Nasionale Party) toegelaat het.
Kyk ’n mens vandag terug op daardie jare – nostalgies, maar darem nie net ongekwalifiseerd nostalgies nie – steek jou gedagtes by allerlei insidentjies vas.
- Doop, nagmaal, huwelike en sterfgevalle het elkeen sy eie formulier gehad wat volledig voorgelees is. Doop had selfs twee, vir kinders en volwassenes. Een Sondag lees die leraar die verkeerde doopformulier. Toe dit ontdek word, is ’n ouderling op die been. Kos die stomme dominee om die hele doop te herhaal.
- Van ds Worst is vertel, dalk apokrief, dat hy hom in ’n ongemaklike situasie ’n keer bekend gestel het as “Worst van Potch”. Die weerwoord was glo iets soos: “Man, ek gee nie om of jy Polonie van Benoni is nie!”
- ’n Gemeentelid het dit gewaag om dr AJ van der Merwe, formidabele kerkman van die Kaap, oor huisbesoek te treiter. Die verwyt was dat hy te min huisbesoek doen. “U weet, dokter,” het die gemeentelid gekla, “u moet darem onthou u is ons herder, en ’n herder moet sy kudde besoek.” Waarop dr AJ met sy forse stem geantwoord het: “Nee, broer, jy maak ’n fout. Ek is nie jou herder nie. Die Here is jou herder. Ek is maar net die brandsiekinspekteur.”
- ’n Dominee met die reputasie vir ’n bulderende stem is een oggend vol op dreef. ’n Verskrikte meisietjie vra haar pa: “Pappie, hoekom raas hy so? Ek sit dan reeds stil.”
- Dan en wan het ons skoolseuns op ’n Sondagaand stokkies gedraai en met onwaardige bymotiewe die Apostoliese kerkie in Nieuwestraat besoek. Die handeklappery, ophef van arms en vrolike sang en musiek was vir ons toe nog ’n aardigheid.
Kanseltaal kon nogal formeel en verhewe wees, onthou ek: “Ons buig eerbiediglik die hoofde”, “elkeen spreek in sy hart aldus”, “ons lees uit Habakuk 2 en wel van vers 10 af”, “die beker van danksegging wat ons met danksegging seën.”
Om nie die stywe taal van sommige psalms en gesange te vergeet nie. Persoonlike gunstelinge was Gesang 12: “O goedheid Gods, hier nooit volprese!”, Psalm 146: “Prys die Heer met blye galme” en Psalm 33: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”.
In al drie was uitdrukkings wat vandag, in die lig van toegankliker berymings van TT Cloete en andere, nogal vreemd op die oor val, maar wat destyds deur niemand bevraagteken is nie. Nee, “snood ondankbaar” het ons gesing sonder ’n tweede gedagte oor wat “snode” ondankbaarheid presies beteken. Insgelyks het die “blye galme” nie gepla nie en het niemand gevra nie: wat op aarde beteken daardie “uit aandrif van die skoonste kuns”?
Sou nogal kostelik kon wees om daardie stokou lirieke met moderne kitaarbegeleiding te probeer versoen.
Hennie van Deventer is ’n voormalige koerantredakteur.
