“Ons moenie naïef wees om te dink as ons sê ‘die Bybel (sê só),’ dan gaan almal saamstem nie,” het dr Llewellyn MacMaster vandeesweek by die Woordfees op Stellenbosch in ’n uurlange paneelgesprek oor Christelike Nasionalisme en “die kerk se profetiese stem” gewaarsku.
Die afgetrede VGK-teoloog en aktivis het teenoor gespreksgenote ds Rudi Swanepoel en die sanger en pastoor Heinz Winckler gesê: “Ons het dit goed geleer deur die geskiedenis. Dit vat iets meer as net om dit te sê.”
Swanepoel is bekommerd oor wat hy beskryf as “die ongelooflike groot invloed wat die regse VSA op die wêreld, op die Weste en ook op SA het.”



Die NG dominee van Johannesburg het ’n uitgebreide beeld van ’n pad met verskillende padtekens daarlangs gebruik om uit te kom by dié punt, wat ’n beroep op sy eie kerkverband insluit: “Daar moet nou ’n pertinente, onignoreerbare stopteken wees rondom wit Christelike Nasionalisme.” Hy het bygevoeg: “En ek dink regtig, en ek moet dit dalk sagter sê, die NG kerk is een van die stemme in die wêreld wat nou moet sê, moenie op daai pad (wit Christelike Nasionalisme) loop nie. Dit het nie gewerk nie en ons pluk nou nog die vrugte van daai pad.”
LEES OOK: Pryswenner se dubbele oproep: NG Kerk moet sê daar is geen volksmoord … en niemand moet ooit weer ‘Kill the Boer’ sing
Winckler het met ’n meer a-historiese verstaan van Christelike Nasionalisme gewerk om te sê Christene “volg Jesus” en nasionalisme is die strewe om die welstand van alle burgers te bevorder. “So Christelike Nasionalisme beteken nie noodwendig of enigsins rasgebaseerde nasionalisme nie. Trouens rassisme is lynreg teen Bybelse Christenskap …”


Sowat 150 mense het Maandagmiddag 5 Oktober om 14:30 na die gesprek kom kyk. Die gespreksleier, dr Johan van der Merwe van Moederkerk, het ter inleiding gesê dit is ’n geleentheid om te dink oor sake en dit dan ook te korreleer met geloofsperspektiewe in die hoop dat ’n mens “dan iewers in die proses vorentoe gaan”.
Van der Merwe wou onder meer by sy gaste hoor hoe dit moontlik is dat mense kan verskil as die Bybel die fondament vorm van wat hulle sê? Winckler se antwoord was dat mense “verskil wanneer hulle gunstige vooroordeel (confirmation bias) het voor hulle die Woord lees. Dan soek hulle die goed wat hulle raamwerk pas en hulle leefstyl pas en dan kry hulle konflik.”
Van der Merwe vra toe: “Kan jy ontslae raak van jou confirmation bias?”
“Ja, as jy meer tyd deurbring in die Woord,” het Winckler begin en uitgebrei op die tema van bekering en heiligmaking. Waarop Van der Merwe na MacMaster gedraai het: “Stem jy saam, Llewellyn, dat as ons net lank genoeg met die Woord besig bly gaan ons almal saamstem?” MacMaster het gesê hy glo die Here wil hê ons moet worstel met die Woord. “Ons soek maklike maniere en dis nie altyd so nie. Ek is ’n afgetrede Sassa-dominee, maar ek leer nog elke keer as ek die Bybel oopmaak.”


Die Toyota Stellenbosch Woordfees duur van 3 – 11 Oktober op Stellenbosch.
