Sê dit in ’n verklaring met net een sin: Daar is nie ’n wit volksmoord in hierdie land nie. Dít was eerw Alan Storey se beroep op die NG Kerk op die aand wat dié Metodiste leraar en aktivis met vanjaar se Andrew Murray-Desmond Tutuprys bekroon is.
“Declare to this nation tonight that is there is no genocide of white farmers in South Africa. Because we know that that is the truth and only the truth will keep us free,” het Storey vanaf die podium tydens sy ontvangsrede by die Kunstekaap op Vrydagaand (30 Mei) gesê.
LEES OOK: ’n Hedendaagse klaaglied: ‘Jesus en die kinders van Gasa’
Storey se oproep was ’n dubbeldoor. Gebind aan die versoek vir die NG Kerk om ’n openbare getuienis rondom hoëprofielbewerings van ’n volksmoord te lewer, was die oproep dat niemand ooit weer “Kill the Boer” sal sing nie. “There is no loving way to say those words. It is hate speech in the clearest form that has sadly escaped our constitutional court’s wisdom,” aldus Storey. “And so tonight I call upon all people in this country who believe in the sacred worth of every human being to refuse to ever, ever, ever sing that song.”
LEES OOK: Profiele van pryswenners 2025: Alan Storey | Vir hom is vrees die kerk se grootste vyand
Vanjaar se wenners van die onderskeie pryse en toekennings van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prysfonds is op 29 April aangekondig. Die pryse en toekennings ter waarde van altesaam meer as R80 000 is oorhandig met die wenners wat genooi is om kort ontvangsredes voor ’n gehoor van sowat 120 gaste te lewer. Gaste was hoofsaaklik uit die akademiese, kerklike en mediawêreld.


The bell, banners and blasphemy
Storey se oproep tot aksie was volgens hom ’n praktiese illustrasie van hoe die Metodiste-geloofsgemeenskap wat hy vir jare hier in die Kaapse middestad gelei het, deur middel van groot geel baniere aan die kerkgebou aan te bring getuig het. “Let me enact a yellow banner,” het Storey gesê tydens ’n rede wat sowat tien minute geduur het: “What is the word that needs to be spoken right now?” Uit juis daardie vraag is die openbare teologie oor jare heen gebore wat aan bod kom in Storey se wenboek The bell, banners and blasphemy.
Ander wenners van vanjaar se pryse en toekennings sluit prof Cas Vos in. Hy het die Andrew Murrayprys vir die boek Geloofsgedigte gewen en dr Ruhan Fourie se Christian nationalism and anticommunism in twentieth century South Africa is met die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys bekroon.

Jeug en omgewing
Dr Lucille Meyer, wat die Jaap Durand-Denise Ackermann Toekenning vir Eenheid, Geregtigheid en Versoening ontvang het, het op aangrypende wyse oor haar werk onder weerlose jongmense gepraat. “Wat ookal een in die samelewing direk beïnvloed, beïnvloed almal anders indirek,” het Meyer, die onlangs uitgetrede hoofuitvoerende beampte van Chrysalis Academy, verduidelik.
Prof Jacques Beukes, vanjaar se wenner van die CLF-Elise Tempelhoff Toekenning vir Omgewingsbewaring en Geregtigheid, het klem gelê op die insluiting van jongmense by omgewingsgeregtigheid.

“Die pryse dien veral as aansporing en erkenning vir skrywers om gehalte publikasies op teologiese en Christelike gebied in al ons landstale te lewer,” het Bettina Wyngaard, die voorsitter van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prysfonds, vroeër in ’n verklaring aan die media gesê.
Storey se skrywerstem is persoonlik, maar ook diep teologies en deurdrenk met ’n pastorale bewussyn van mense se werklikhede, het Kerkbode berig in ’n onlangse onderhoud met hom. “Hy herinner ons daaraan dat Jesus nie vir Saulus gevra het: ‘Waarom vervolg jy hulle?’ nie, maar: ‘Waarom vervolg jy My?’” Geloof, sê Storey, beteken om saam met die kwesbares te ly – die weduwees, weeskinders en vreemdelinge,” skryf ds Cecile Murray-Louw in haar gesprek met Storey.