Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Alan Storey skryf in die gees van gister en vandag se profete. Sy stem is persoonlik, maar ook diep teologies en deurdrenk met ’n pastorale bewussyn van mense se werklikhede. Foto: Verskaf

Profiele van pryswenners 2025: Alan Storey | Vir hom is vrees die kerk se grootste vyand

Cecile Murray-Louw gesels met Alan Storey, vanjaar se wenner van die Andrew Murray-Desmond Tutuprys, vir sy boek The bell, banners and blasphemy. Uitgewer: A Slow Walk Books, 2024

 

“A church that is silent in the presence of injustice is no church at all.” So skryf Alan Storey in sy boek The bell, banners and blasphemy. As wenner van die 2025 Andrew Murray-Desmond Tutu-boekprys, is dié boek ’n uitdaging aan die kerk om die radikale geregtigheid van die evangelie te beliggaam in vreeslose solidariteit met onderdruktes.

LEES OOK: ‘SA kort ’n opvolg-wonderwerk’, pleit Storey by Teologiese Dag

Storey skryf in die gees van gister en vandag se profete. Sy stem is persoonlik, maar ook diep teologies en deurdrenk met ’n pastorale bewussyn van mense se werklikhede. Hy herinner ons daaraan dat Jesus nie vir Saul gevra het: “Waarom vervolg jy hulle?” nie, maar: “Waarom vervolg jy My?” Geloof, sê Storey, beteken om saam met die kwesbares te ly – die weduwees, weeskinders en vreemdelinge.

Een van die mees opspraakwekkende baniere wat in die boek ter sprake is, het die kerk se skynheiligheid oor seksualiteit uitgedaag. Vir Storey is sulke uitings nie godslasterlik nie, maar profetiese getuienis – dit ontbloot hoe ons te dikwels aan die kant van mag bly staan, eerder as aan die kant van gemarginaliseerdes.

LEES OOK: Peter Storey: ‘Ons hande is vuil’

“Wette en regulasies bevoordeel dikwels die bevoorregdes,” sê hy. “Om in solidariteit te staan met uitgeworpenes beteken soms om die wet te oortree – nie uit rebellie nie, maar uit gehoorsaamheid aan geregtigheid – sodat die stemlose gehoor kan word.” Só word geloof aktief en sigbaar.

Vir Storey is geloof en politiek onafskeidbaar. Politiek is, volgens hom, “die wetenskap van saamleef”, en die kerk moet opstaan vir dit wat ons glo oor mense. “Glo ons alle mense is na God se beeld geskape? Dan moet ons wette dit reflekteer – ook vir vreemdelinge, die armes en uitgeslotenes.”

Hy beskou vrees as die kerk se grootste vyand – vrees wat ons laat stilbly en selfsensuur toepas, en so die liefde van die evangelie verontagsaam. “As die Jesus wat ons op ’n Sondag verkondig nie kruisiging sou ontlok het nie,” vra hy, “watter soort Jesus verkondig ons dan?”

As hy vandag ’n nuwe banier moes opsit, sou dit vra: “Wat verstaan jy nie van die goeie nuus vir die armes nie?” Want totdat armoede aangespreek word deur regverdige beleid, sê hy, is almal bedreig – selfs die rykes.

Sy hoop? Dat The bell, banners and blasphemy gemeentes en individue sal inspireer om dapper te staan – saam met die gebrokenes, met ’n klok wat nie ophou lui nie.

Beskikbaar by A Slow Walk.

Ds Cecile Murray-Louw is ’n diensleraar by Durbanville-gemeente.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top