Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Skrywer nooi leser om dieper te kyk na maniere waarop mag geloof inspan, ook in die kerk

When saying no to God is an act of faith deur Siya Khumalo

Uitgewer: Tafelberg, 2026

Resensent: Angelique Havenga

Die Duitse film Never look away vertel die verhaal van ’n kunstenaar wat grootword in die skadu van Nazi-Duitsland. Reeds as kind word hy aangemoedig om nooit weg te kyk nie – veral nie van dít wat pynlik of ontstellend is nie. Dit word uiteindelik die vertrekpunt van sy kuns: om eerlik te kyk na dít waarvan mense eerder sou wou wegkyk. Siya Khumalo se When saying no to God is an act of faith rig ’n soortgelyke uitnodiging aan die leser – nie net om nie weg te kyk nie, maar ook om dieper te kyk, veral wanneer jy ongemaklik raak.

Die titel ontlok reeds reaksie. Wat beteken dit immers om vir God “nee” te sê, en hoe kan so ’n “nee” ’n daad van geloof wees? Wanneer ’n mens die boek oopmaak, ontdek jy egter ’n klein asterisk by die woord “No”. Dit is asof Khumalo die leser van meet af waarsku dat hierdie “nee” meer ingewikkeld is as wat dit aanvanklik lyk en die betekenis daarvan ontvou met elke hoofstuk.

Met sy aweregse, kreatiewe omgang met Bybelse verhale, van Genesis tot by Jesus se kruisiging, ontsluit Khumalo telkens onverwagse perspektiewe op bekende tekste en gevestigde teologiese argumente. Hy daag die leser uit om verby die oppervlak te kyk en die magsisteme raak te sien wat ons (en sy eie – die boek bevat plek-plek ook outobiografiese elemente) verstaanswêrelde ongemerk vorm.

Hy skroom nie om eerlike, soms kontroversiële voorbeelde uit die hedendaagse politiek en samelewing te gebruik nie. Sy kritiek op die kerk en die maniere waarop geloof deur mag ingespan word, sny soms tot op die been. Tog bly dit nie bloot by kritiek nie. Telkens word die leser uitgenooi om nader te staan, weer te kyk (en nie weg te kyk nie!) en self te onderskei.

Beskikbaar by Takealot.

Dr Angelique Havenga is ’n predikant by Moederkerk op Stellenbosch.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Gesels saam

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.