Seksuele diversiteit: ’n uitdaging vir die kerk

DR MARIETJIE VAN LOGGERENBERG is ’n pastorale narratiewe terapeut wat die afgelope 17 jaar al honderde gay kliënte gehad het. Sy skryf oor die verwerping wat hulle beleef en oor uitsluiting en insluiting.


“Marietjie, het jy gesien hulle wil ons nou doodmaak ook?”

So vra ’n getroue gemeentelid van die gay kerk my verlede Sondagaand na die diens. Die angs en onsekerheid het hierdie vrou in ’n eksistensiële krisis gedompel.

Ek het die konteks waarbinne haar nood ontstaan het, probeer verstaan. Sy het my na ’n facebook-pla­sing verwys waar ’n gay-vriendelike predikant die argument probeer maak het dat letterlike lesers van die Bybel dit dan konsekwent moes doen en die gay mense met klippe moes doodgooi (Lev 20:13). Ek het besef dat hierdie gay persoon se angsvlakke as gevolg van verwerping reeds so hoog is, dat sy nie eens die facebook-plasing rustig kon lees nie.

Daarby is alle gay persone ook nie so op die hoogte van al die teologiese argumente ten opsigte van Skrifgesag en Skrifinterpretasie nie. Hulle is wel meesters in selfpolisiëring, en raak vinnig by die geringste aanduiding van bedreiging van hulle lewe en hul mens­waardigheid op hul hoede.

Ek het die afgelope tyd bewus geraak dat gewone gemeentelede van die NG Kerk begin sug wanneer die gaydebat ter sprake kom. Dis asof hulle besef dat die Here ons nie almal eenders gemaak het nie. Diversiteit in die skepping is ’n realiteit, maar hoe gaan ons nou vorentoe om mense wat anders is, in te skakel in ons gemeentes?

As terapeut verstaan ek die ongemak en vraende houding. Ons ken mekaar eintlik glad nie. Nie almal het die voorreg soos terapeute, sielkundiges, dokters en predikante om daagliks na mense wat sukkel se stories te luister en insig in hul menswees en hul behoef­tes te verkry nie.

Byvoorbeeld, gister kom sien ’n persoon my wat met spina bifida gebore is. Sedert sy geboorte is hy aan ’n rolstoel gekluister en sedert hy albei sy niere verloor het, moet hy drie maal per week dialise kry. Na al die jare probeer die moedeloosheid en die eensaamheid die oorhand oor hom kry. Daarby is hy nog verwerp omdat hy gay is. Hy het ’n dringende behoefte aan spirituele ondersteuning. Hy vra my: “Weet jy hoe dit voel as die vog in jou longe opstoot en jy van ’n suur­stoftekort wil versmoor?” Ek moes antwoord: “Nee, ek weet regtig nie.” “Ek is so moeg,” sê hy. “Miskien moet ek maar net ’n einde aan alles maak. Ek pas tog nêrens in nie.”

’n Vrou wat interseks gebore is (uitwendige manlike geslagsorgane, maar ook met ’n baarmoeder en eierstokke), vertel hoe die ginekoloog toe sy nog klein was, besluit het dat die “onsigbare” seksorgane verwyder moes word. Dit was ’n verkeerde besluit, want sy was eintlik ’n vrou. Later moes sy op 34-jarige ouderdom ’n transisie laat doen.

Ek moes haar moeilike vrae sukkelend probeer antwoord: “Waar pas ek in? Hier is nie plek vir my in hier­die wêreld nie. Ek wil net menswaardig behandel word. Ek is ook ’n mens.” Ek wens ek kon sê: “Kom NG Kerk toe. Ons sal jou omvou met die liefde van die Heer.” Maar selfs ek is bang, veral as ek uitsprake en innuendo’s lees oor mense wat “anders” is. Soos met die pedofiel-debakel van onlangs (Dankie aan Kerkbode vir die spoedige regstelling!).

Pedofilie – ’n afwykende seksuele aangetrokkenheid tot pre-adolessente kinders tussen 10 en 13 jaar – kom onder heteroseksuele mans en tot ’n mindere mate, heteroseksuele vroue, asook onder homoseksuele en biseksuele mans en vroue voor. Omtrent 4% van die bevolking val in die kategorie. Dis ’n seksuele versteuring (American Psychiatric Association: DSM-V 2018) wat skade aan kinders doen wanneer uiting aan die drange gegee word deur kinders te molesteer of te verkrag. Dit is dan as kriminele oortreding strafbaar deur die regstelsel.

In gesprek met ds André Muller, vorige NG predikant en stigter van die gay (Reformerende) kerk, raak ons die onderwerp aan. Hy is ’n voorloper in die stryd om gayregte in Suid-Afrika en ’n gesoute ontvanger van diskriminasie, verwerping en beledigings omdat hy gay is. In ons gesprek raak sy stem sagter toe hy sê: “Ek kan dit nie glo nie, maar na al die jare maak dit my nog seer. Ek voel hartseer dat daar weer eens iemand van die NG Kerk is wat my, en mense soos ek, probeer uitmaak as mense wat kinders wil misbruik. Dit is juis die manlikheid van ’n volwasse man wat my aantrek. Net soos wat ’n volwasse man na ’n volwasse vrou aangetrokke sou wees.”

Aan Muller en aan almal wat “anders” is, wil ek soos Jeanne Goosen (1990: Ons is nie almal so nie) sê: “Ons is regtig nie almal so veroordelend en uitsluitend nie.” Of dalk moet ek maar ook my kop in skaamte laat sak en sê: “Soms is ek wel.”

Maar hoe help ons mekaar dan om insluitend en omarmend te wees? Hoe maak ons dit emosioneel en fisies veilig sodat alle mense aan die rand van die samelewing tuis sal wees in die NG Kerk? Hoe maak ons dit ook vir mense wat sukkel moontlik om op die geloofsreis in die NG Kerk te bly? Wat het ons in gemeen wat dit vir ons moontlik sal maak om geïntegreerd kerk te wees? Watter struikelblokke sal nog oorkom moet word om integrasie moontlik te maak?

Miskien moet ons opnuut aan Jesus se voete gaan sit en weer luister na sy liefde en genade. Dalk is daar nuwe maniere om dit te hoor en te verstaan.