Idai se nadraai: Kerk se groot werk lê voor

Met die dodetal wat steeds styg in die nadraai van sikloon Idai, het die kerk in Mosambiek ’n reuse-rol om te vervul, het ds Carl Louwrens, die NG Kerk se sinodale verteenwoordiger vir Mosambiek, gesê.

“Behalwe om mense van hulle mees basiese te voorsien, is dit ook nodig om mense in die tyd te verseker van God se liefde,” het Louwrens luidens ’n verklaring gesê. Hy werk as leraar in Skukuza en dien as Oostelike Sinode se verteenwoordiger in Mosambiek.

Die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) is ’n susterkerk van die NG Kerk in die rampgeteisterde buurland. Die IRM het reeds aksie geneem om agt gemeentes wat direk geraak is by te staan, aldus Louwrens, en drie IRM-pastore sal binne die volgende week na hulle kollegas reis om te help en te ondersteun. Daar is ook ’n noodfonds gestig vir finansiële bydraes, het Louwrens gesê.

Die dodetal in die natuurramp was teen die afgelope naweek reeds 600, het IOL berig.

Die sikloon het Beira op 14 en 15 Maart bereik en uiteindelik sowat 2 miljoen mense in Mosambiek, Zimbabwe en Malawi geraak. Veral die hawestad Beira het dit ontgeld in wat as die sterkste opgetekende sikloon in die suidelike halfrond beskryf is, het World Vision berig.

Benewens die grootskaalse waterverwoesting en dodetal wat na sommige skattings tot so hoog as 1000 kan styg, wys die twee foto’s hieronder die kontras van voor en na Idai se verwoesting. Die eerste foto is die kerkgebou van die IRM gemeente in Beira. Dis geneem in Augustus 2017 tydens ds Louwrens se besoek aan die ringsgemeentes in die Manica en Sofala provinsies. Die tweede foto is gestuur in die nadraai van Idai.


  • Raak betrokke: Om uit te vind hoe jy of jou gemeente betrokke kan raak, kontak ds Louwrens by crl@telkomsa.net