Een van die gevolge van die Kerkhervorming van vyf eeue gelede, was dat dit die gereformeerde tradisie gestroop gelaat het van beeldende kuns. In reaksie op die manier waarop die Katolieke Kerk skilderye en beeldhouwerk gehanteer het, het die reformatore heeltemal daarmee weggedoen. In die lig van die viering van vyfhonderd jaar van gereformeerde tradisie aanstaande jaar, het Kerkbode vir dr André Bartlett gevra om vanjaar ’n reeks te doen oor religieuse kuns, om te kyk hoe dit tog ons gereformeerde belewenis van ons geloof kan verryk. Hy sluit aan by die kerklike jaar.
Die kerklike fees van Verheerliking (ook bekend as Transfigurasie) word op die laaste Sondag voor Lydenstyd gevier, vanjaar dus op 7 Februarie. Dit is tegelyk ook die afsluiting van die kort seisoen van Sondae ná Epifanie – ’n seisoen waarin daar nagedink word oor die betekenis van God se verskyning (epifanie) in die lewe en werk van sy Seun, Jesus Christus.
Die fokus van die fees van Verheerliking is op die verhaal van Jesus wat saam met drie van sy dissipels, Petrus, Johannes en Jakobus, na ’n hoë berg gegaan het en sy voorkoms wat toe op dramatiese wyse voor hulle oë verander (“getransfigureer”) het. Gemeentes wat die Revised Common Lectionary volg, sal die verhaal vanjaar in Lukas se weergawe (Luk 9:28-36) lees.
Die kunswerk Erklärung van die Duitse priester-skilder, Sieger Köder, wat verlede jaar oorlede is, is ’n baie treffende uitbeelding van hierdie verhaal.
Köder verdeel sy kunswerk in twee horisontale “panele”. In die onderste gedeelte sien ons die drie dissipels wat Jesus vergesel het en getuies was van sy transfigurasie. Hulle verbystering en verwarring oor dit wat hulle aanskou, spreek duidelik uit hulle gesigsuitdrukking.
In die boonste gedeelte van die kunswerk word die verheerliking self uitgebeeld: Jesus se getransformeerde gestalte en die twee Ou-Testamentiese figure, Moses en Elia. Volgens Lukas se weergawe van die verhaal het dié twee met Jesus gepraat oor “sy uittog wat Hy in Jerusalem sou voltooi” – ’n verwysing na sy lydensweg, sy kruisdood en sy opstanding uit die dood.
Die kontras tussen die gewone, alledaagse werklikheid van die dissipels se bestaan en die buitengewone, bonatuurlike gebeure van die verheerliking word op verskillende maniere aangedui:
• die aardse kleure van die onderste deel van die skildery teenoor die helder, verblindende kleure van die boonste deel;
• die meer realistiese voorstelling van die dissipels teenoor die meer mistieke, bo-realistiese voorstelling van Jesus en sy twee gespreksge-note; en
• die feit dat die boonste gedeelte twee derdes van die kunswerk beslaan teenoor die een derde van die onderste gedeelte.
Met die titel Erklärung word aangedui dat die verhaal verstaan word as ’n “verhelderende uitleg”. Aan die een kant bied dit insig in die lewe van Jesus waaroor daar in die seisoen ná Epifanie besin word. Aan die ander kant bied dit vooruit ’n verklaring vir die lydensweg van Jesus wat die fokus is vir die seisoen van Lydenstyd.
Köder se “verhelderende verklaring” is dat God in ons gewone aardse werklikheid inbreek, maar op ’n wyse wat hierdie werklikheid op verbysterende wyse transendeer.
Hierdie kunswerk kan met groot vrug saam met Sheila Cussons se gedig Verheerliking gebruik word as daar op Verheerlikingsondag saam met Jesus se eerste dissipels besin word oor die betekenis van die ervaring op die berg. Cussons sê onder andere op treffende wyse oor die verheerliking van Jesus: “dat ons vir een kort uur/ gesien het hoe hierdie Jesus lyk vir God …”
▶ Dr André Bartlett is hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling by die Universiteit Pretoria se fakulteit teologie.