Hoe lyk die NG Kerk se pad vorentoe met ekoteologie? In die skripsie vir sy meestersgraad maak ds Fouché de Wet van die Stellastraatgemeente in Pretoria ’n paar voorstelle. Hy het met NEELS JACKSON daaroor gepraat.
“Ons kom al meer agter dat daar ’n behoefte in die kerk is,” sê Fouché. “Ons weet ons moet iets doen, maar ons weet nie wat nie.”
Die gemeentes het praktiese hulp nodig oor hoe hulle kan leef op ’n manier wat goed is vir God se aarde. Dis waaroor sy studie gegaan het.
Fouché se pad met die ekoteologie kom nou al ’n entjie. As student het hy betrokke geraak by Nova, ’n nie-winsgewende entiteit wat deur teoloë begin is om navorsing te doen wat in die praktyk kon neerslag vind.
So was hy betrokke by ’n projek wat huishoudings gehelp het om te funksioneer op ’n manier wat gesonder is vir die omgewing. Hulle sou byvoorbeeld meet hoeveel krag gebruik ’n huishouding, kyk hoe hulle dit gebruik en maniere voorstel oor hoe om dit te verminder.
Later het Nova die versoek gekry om gemeentes te help om betrokke te raak by omgewingsorg. Dit het gelei tot sy studie oor “Die missionale gemeente en ’n ekologies volhoubare gemeenskap”.
Maar in watter mate het die ekoteologie in gemeentes se hart tuisgekom?
Nie baie nie, sê Fouché. In die gereformeerde denke suig die ekoteologie aan die agterspeen. En solank sorg vir die omgewing nie deel is van ’n gemeente se kernteologie nie, sukkel jy om dit deel te maak van die gemeentelewe.
Dit is belangrik om met ’n sensitiwiteit vir die omgewing te lewe, sê ds Fouché de Wet. As jy koud kry, is dit byvoorbeeld belangrik dat jy nie die dakbalke gaan uitbreek om vuur te maak nie. En tog is dit presies die soort ding wat gebeur as ons steenkool myn op ’n manier wat ons waterbronne vernietig.
Die gereformeerde teologie, verduidelik Fouché, is baie mensgedrewe. Vir baie lidmate gaan dit net oor persoonlike redding. En selfs vir dié wat missionaal dink, gaan dit oor hoe jy mense kan help, hoe jy mense se nood en pyn kan verlig. Daar is ’n baie mensgerigte fokus in die verstaan van hulle roeping.
Dít, sê Fouché, is om twee redes gebrekkig.
In die eerste plek ignoreer dit ’n baie lang tradisie dat die aarde, soos Psalm 24 sê, aan die Here behoort.
In die tweede plek kyk dit die feit mis dat menslike nood baie nou verwant is aan die gesondheid van die omgewing. Nood word dikwels deur omgewingsfaktore veroorsaak.
Dit is op hierdie punt dat die teoloog Steve de Gruchy gekom het met sy gedagte van ’n olyfagenda. Dit is ’n agenda wat die groen en bruin kwessies by mekaar uitbring.
Groen kwessies gaan oor die bewaring van die omgewing. Dit sluit iets in soos die veldtog teen renosterstropery, of die veldtog vir die bewaring van vleie, of die skoonmaak van spruite.
Bruin kwessies is gemeenskapsgedrewe projekte soos werkskepping of armoedeverligting. Gemeentes wat kospakkies maak vir armes, val in hierdie kategorie.
Deur anders te dink, kan jy die omgewing én die armes help, sê Fouché. ’n Groentetuinprojek is ’n voorbeeld hiervan.
Die olyfagenda vra dat ’n mens bewus moet wees daarvan dat alle aspekte van die lewe ’n impak op die omgewing het. Dit sluit in die manier waarop ons Sondae kerk hou, hoe ons projekte aanpak, hoe ons vergaderings hou.
As jy met integriteit wil lewe – en dit geld gemeente en individu – moet jy bewus van jou verantwoordelikheid teenoor die skepping lewe. Jy moet na jouself kyk en vra wat is die voetspoor wat jou manier van lewe op die omgewing laat.
Die uitdaging is nou om gemeentes daarmee te help om as ’t ware ’n olyfkerk te word.
Die gedagte is om te begin met ’n proses om gemeentes te help om sensitief te lewe. Iets amper soos die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes.
Safcei (die Southern African Faith Communities’ Environment Institute) het ’n beweging vir ekogemeentes, maar dit is vir die vroeë bewegers, dié gemeentes wat die voortou neem en hulle eie energie genereer.
Elders – in Nederland, Engeland en die VSA byvoorbeeld – is daar sterk begeleide prosesse wat gemeentes help om meer ekologies sensitief te leef.
Dit is so ’n proses met sterk begeleiding wat Fouché in sy studie voorstel.
Daarvoor het hulle reeds goedkeuring van die Algemene Sinode gekry. Nou moet dit net ontwikkel word.
Fouché voorsien ’n proses met roetemerkers eerder as een resep wat vir almal geld. Hy weet stadsgemeentes sal dit anders doen as plattelandse gemeentes, om een voorbeeld te noem.
Die gedagte is om te begin met ’n proses om gemeentes te help om prakties en meetbaar ’n verskil te maak aan die omgewing.
So ’n proses kan verskillende modules hê. Een sou byvoorbeeld kon gaan oor water- en energieverbruik. Dan doen ’n mens ’n oudit van ’n gemeente se verbruik sodat jy dit kan verstaan. As ’n gemeente sy eie verbruik verstaan, kan hy werk aan maniere om dit te verminder.
Dis belangrik dat ’n mens nie net moet inspring en dinge begin doen sonder om mooi te verstaan wat jy doen nie.
Hulle werk met die konsep van ’n huishouding. Almal is deel van ’n groot huishouding en die manier waarop elkeen daarin leef, het ’n impak op die ander.
Die plan is om reeds in 2017 met die begeleidingsproses te begin. Gemeentes moet nou al begin dink of hulle daarby wil inskakel, sê Fouché.
▶ Belangstellendes kan ds Fouché de Wet by fouche@stellastraat.co.za kontak.