In Kerkbode se reeks oor kuns en die kerk, en met die oog op die naderende Goeie Vrydag, bespreek dr André Bartlett in hierdie bydrae Marc Chagall se skildery Wit kruisiging.
Goeie Vrydag (wat vanjaar op 25 Maart gevier word) fokus op die kruisdood van Jesus. Dit verteenwoordig die dieptepunt van die Christelike nadenke oor die betekenis van die lewe en dood van hierdie Palestynse Jood wat 2000 jaar gelede geleef en gewelddadig gesterf het.
Deur die eeue was een van die meer gevaarlike aspekte van die viering van Goeie Vrydag die feit dat daar oormatige klem gelê is op die Joodse sameswering wat aanleiding gegee het tot Jesus se gevangeneming en teregstelling, terwyl die Romeinse medepligtigheid tot ’n groot mate onderbeklemtoon en selfs verswyg is – met die uitsondering van die lafhartige optrede van Pontius Pilatus.
Hierdie kollektiewe oordeel wat tradisioneel oor Jode uitgespreek is en wat buite rekening laat dat Jesus self en die meeste van sy vroeë volgelinge van Joodse herkoms was, het ’n belangrike bydrae gelewer tot die antisemitisme en die vervolging van Jode wat een van die opvallende kenmerke van die Westerse geskiedenis van die laaste twee millennia was.
Op ’n ironiese wyse het Christene se fokus op die lyding van Jesus dus bygedra tot die lyding en vervolging van geslagte Jode wat niks met die oorspronklike kruisgebeure te doen gehad het nie. Dít terwyl Jesus se lyding verstaan kan word onder meer as ’n protes teen alle menslike lyding,
’n Kunswerk wat hierdie saak op ’n aangrypende manier problematiseer, is die bekende “Wit kruisiging” van die Frans-Russiese en Joodse skilder, Marc Chagall (1887-1985).
Hierdie skildery wat in 1938 voltooi is (en wat toevallig ook die geliefkoosde kunswerk van pous Fransiskus is), was van die begin af kontroversieel onder sowel Christene as Jode. Dit het natuurlik te doen met die feit dat Jesus nie uitgebeeld word as slagoffer van vervolging deur Jode nie, maar as ’n Jood wie se lyding ten nouste gekoppel word aan die vervolging van Jode. Hy word as ’t ware voorgestel as sinnebeeld van die lydende Jodendom van alle eeue.
In die skildery word daar besondere klem gelê op Jesus se Joodsheid: sy lendekleed is ’n Joodse tallith, die gebedesjaal wat in die sinagogediens deur Joodse mans gedra word; in plaas van ’n doringkroon dra Hy ’n tipies Joodse kopdoek, en die woorde bo-aan die kruis lees in Hebreeus Jeshua Hanotzri Melech Hayehudim (Jesus van Nasaret, die koning van die Jode).
Hierdie Joodse Jesus is gekruisig tussen kontemporêre gebeure uit die tyd wat die skildery tot stand gekom het: aan die een kant kommunistiese soldate wat ’n Joodse dorpie bestorm en verwoes, en aan die ander kant Naziboewe wat ’n Joodse sinagoge aan die brand steek (’n duidelike verwysing na die Kristallnacht van 9 November 1938 toe Joodse besighede en sinagoges dwarsdeur Nazi-Duitsland gevandaliseer is).
Van links na regs op die voorgrond is verskeie Joodse figure desperaat op vlug: sommige per boot, ander te voet, een met ’n kosbare Tora-rol in sy arms vasgeklem. Betekenisvol is die Joodse bedelaar regs voor met die blou pet en groen jas en die sak met sy skamele besittings oor die skouer – waarskynlik ’n verwysing na die Joodse oorlewering dat die profeet Elia vermom as ’n bedelaar sal verskyn om die koms van die Messias aan te kondig. Hierdie Elia is egter so geskok deur die kruisgebeure dat hy saam met al die ander Joodse figure in die skildery op vlug slaan.
Bokant die kruis word Jesus beween deur vier Bybelse figure, waarskynlik die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob, en die aartsmoeder, Ragel (met verwysing na Jer 31:15).
In teenstelling met die meeste van Chagall se kuns wat gekenmerk word deur helder, flambojante kleure, is hierdie skildery feitlik van alle kleur gedreineer en oorheersend geskilder in die naaswit kleur van die kittel, die doodskleed waarin Jode tradisioneel begrawe word.
Die enigste elemente in die skildery wat tot ’n mate in die rigting van hoopvolle uitkoms dui, is die ligstraal wat van bo af die kruistoneel belig, en die kandelaar op die voorgrond waarvan vyf van die ses kerse nog brand.
Wat Chagall met hierdie uitbeelding van die kruisiging bewerk, is om Jesus se lyding nie teenoor die lyding van die Jode te stel nie, maar om ’n direkte verband tussen die twee tot stand te bring. Jesus verteenwoordig geslagte van Jode wat geteister, vervolg en geviktimiseer word. Dit beteken dat die universele simbool van die kruis ook betekenis kry in die partikuliere en kontemporêre omstandighede van ’n spesifieke groep mense.
Deur die Christelike simbool van die kruis in ’n Joodse konteks te herinterpreteer, word die versoeningskarakter van die kruis sterker en meer betekenisvol uitgedruk: Dié twee wat vyande van mekaar was, word in Christus tot een nuwe mensheid verenig (Ef 2:14).
