Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Van Bosmanstraat na Afrika


Die Bosmanstraatkerk was dekades lank ’n baken van die NG Kerk se teenwoordigheid in die middestad van Pretoria. Vandag huisves dié gebou, wat om die helfte deur die plaaslike NG en VG gemeentes besit word, ook ’n bediening wie se invloed tot diep in Afrika strek. Ernst Muller vertel.


Hoe sou ou dr Hermanus Bosman hierdie ervaring beleef het?”, het ek gewonder, terwyl ek na die geesdriftige gemeentesang in Frans, Swahili, Tswana, Zoeloe en Engels luister.

Die geleentheid was ’n feesdiens van die International Church of Pretoria in die Bosmanstraatkerk. Die hoof-aanbiddingstaal van dié geloofsgemeenskap is Frans en word Sondae gevolg deur die VGK-gemeente Melodi ya Tshwane se eredienste in Tswana en Engels.

Dr Bosman het ’n allemintige 50 jaar lank (1876-1926) in die NG gemeente Pretoria gedien, aanvanklik vanuit die eerste kerkgebou op Kerkplein (tot dié in 1883 afgebrand het), toe die tweede (wat in 1904 ge­sloop is) en daarna vanuit die bekende “Groote kerk” op die hoek van Bosmanstraat (wat na die einste dominee vernoem is) en Madiba- (vroeër Vermeulen) straat.

Toe prof Piet Meiring van UP se fakulteit teologie in 1990, tydens ’n missiologiese kongres in Nairobi, met ds Emmanuel Tshilenga van die Demokratiese Republiek van die Kongo kennis maak, het hy hom genooi om sy doktorale studies by UP (“in the city of David Bosch”) te kom doen.

So gesê, so gedaan: in 1993 verhuis die hele Tshilenga-gesin sak en pak, en nie sonder ’n goeie dosis benoudheid nie, na ’n destyds onstuimige Suid-Afrika – aanvanklik net vir die tydperk wat dit Pa sou neem om sy studies te voltooi, wat hy wel in 1999 onder leiding van prof Dons Kritzinger gedoen het. Die prikkelende tema van sy proefskrif was Collective sins in Africa.

’n Franssprekende kerk

Hulle was skaars in Pretoria toe hulle ontdek dat daar talle herderlose Franssprekende gelowiges elders uit Afrika hier woon; en binne twee weke na hulle aankoms sien die International Church of Pretoria die lig. In 1994, in dieselfde week wat pres Nelson Mandela in Pretoria ingesweer is, begin die ICP in Bosmanstraat se kerkgebou aanbid.

Vandag is die Thsilengas steeds hier, diep ingeburger in die Suid-Afrikaanse kerkgemeenskap, waar hierdie groeiende en florerende gemeente in 2013 reeds hulle 20ste bestaansjaar met groot dankbaarheid kon vier. Die ICP fokus sterk daarop om veral na Afrika-studente en ambassade-personeel uit te reik, en ook na minderbevoorregtes om te sien.

Maar die storie het nog méér opwindende dimensies: Naas sy plaaslike gemeentepligte, is dr Emmanuel ook stigter-president van Opération Africaine (Operaf/Operation Africa), wat sedert 1993 leiers in ­Afrika toerus. Dié opleiding is primêr gerig op senior staatslui en sakeleiers.

Onder hulle studente tel Operaf verskeie presidente, kabinetslede, goewerneurs, ambassadeurs en ander politieke swaargewigte wat Christene is. Hulle woon nie net seminare van Operaf by nie, maar raadpleeg Tshilenga gereeld oor die toepassing van Christelike beginsels en etiese riglyne in moeilike situasies. Tydens spitsberade word dié nederige leraar soms genooi om bidure en Bybelstudiesessies vir groepe van dié gelowige leiers te lei.

Terwyl ek besig is om met hom te gesels, lui sy selfoon, en hy vra verskoning om die oproep te beantwoord. “It’s from Burundi,” fluister hy, voordat hy in snelvuur-Frans oorskakel. Wanneer Afrika roep … Tshilenga werk saam aan ’n projek om hoopvolle suksesverhale uit Afrika te versamel en te verwerk met die oog op ’n boek, ter inspirasie van gelowiges wat dit moeilik vind om hulle geloof in besigheids-, staats- en politieke milieus uit te leef.

Vier boeke uit sy pen het reeds die lig gesien, terwyl die heruitgawe van Collective sins in Africa en drie ander vir publikasie voorberei word. Afrika het sulke insette en verhale uit die hart van inheemse leiers broodnodig.

Intussen het die kinders grootgeword: Christian en David woon steeds in Suid-Afrika, terwyl Jonah en Esther in Engeland gevestig het. Mev Elizabeth Tshilenga is ’n bedienaar in haar eie reg, in besonder onder die vroue en kinders van die ICP, sowel as die eggenotes van ambassade-personeel.

Ek vermoed dat ’n tydreisende dr Bosman, ná die aanvanklike skok oor wat alles in die 83 jaar ná sy dood in dié eens rustige dorp verander het, baie tevrede sou wees met wat hy waarneem: Die evangelie word steeds met vuur en oortuiging verkondig, die sendingveld van vroeër het deel van ’n reuse sendingbeweging geword, bekwame inheemse kerkleiers neem al hoe meer verantwoordelikheid vir Afrika, met al sy uitdagings, seëninge en geleenthede – en in die “Bosmanstraatkerk” word die Here steeds met oorgawe geprys – onder meer in die taal van die Hugenote.

“Voortreflik!” kan ek my voorstel dat die ou Afrikaanse dominee uitroep as hy oor die lofsingende skare gelowiges kyk; en “Merveilleuse!” stem dr Emmanuel saam.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top