Saadjies wat die sendelinge van die NG Kerk ’n eeu gelede in Nigerië gesaai het, dra vandag nog ’n reuse-oes. Ernst Muller vertel die storie aan die hand van Sam Kputu se verhaal.
Buti Sam noem hy homself, Buti Sam Kputu.
Dié “buti” is nie ’n Nigeriese woord nie, maar Sam se weergawe van die Afrikaanse “boetie”, ter gedagtenis aan die invloed wat Afrikaanse onderwysers ’n halfeeu gelede op sy lewe gehad het.
Afrikaanse onderwysers in Nigerië? Inderdaad. Sam se storie herinner ons aan ’n amper-vergete hoofstuk in die uitreikgeskiedenis van die NG Kerk.
Gedurende die eerste helfte van die vorige eeu was daar ’n groot en omvattende uitreik vanuit Suid-Afrika na die Tiv-bevolkingsgroep van Nigerië.
Dit was deel van die sogenaamde Soedan-sending, ’n strewe deur kerke van oor die wêreld heen, om ’n band van Christelike gemeenskappe dwarsoor die breedte van Afrika te span, deels om die suidwaartse opmars van Islam teen te staan, deels om basisse te vestig vanwaar die evangelie noordwaarts gedra kon word.
Die Tiv-land bediening was omvattend: Naas talle gemeentes wat gestig is, en die vertaling en plaaslike druk van die Bybel in Tiv, is daar ook skole, klinieke, hospitale en inrigtings vir gestremdes opgerig, en opleiding van plaaslike verpleegsters, onderwysers en leraars aangepak.
’n Piet-mango
Om die soetste veselperskes in die wêreld te proe, sê Sam, vra vir ’n groot “piet-mango” of ’n klein “judy-mango”, vernoem na Suid-Afrikaners wat dié een voorbeeld uit talle landbouprojekte gevestig het.
Soos wat die wiel van die geskiedenis draai, kry Nigeriese gelowiges nou geleentheid om hierdie seëninge in Suid-Afrika terug te ploeg. ’n Eeu nadat die eerste Suid-Afrikaners in Tiv-land aangekom het, is Sam byvoorbeeld deur sy Nigeriese sendingorganisasie gestuur om ’n tak en opleidingsentrum in Pretoria te vestig. Dit is hier waar die tweede NG verbintenis ontstaan het: Capro SA huur ’n ongebruikte pastorie in Villieria as hulle plaaslike hoofkantoor.
Persoonlik, vertel Sam, het die Here hom verskeie kere die voorreg gegun om Suid-Afrikaners van verskillende kultuurgroepe, insluitende “middelklas-Afrikaners” terug na Christus te lei. Capro se studentegroepe vertoon ook al die mooi skakerings van reënboogkleure van die Suid-Afrikaanse nasie.
In 2003 is Sam teruggeroep na Lagos vir sy beurt om as internasionale direkteur van die Nigeries-gebore Calvary Ministries of Capro, toesig te hou oor die 700 missionêre werkers (vanuit 27 verskillende denominasies), wat evangeliebediening in 36 lande wêreldwyd doen. Kyk ’n mens verby die vreemde sensasionele kerkverskynsels uit Nigerië wat dikwels die nuus haal, vind ’n mens, soos in baie ander Afrikalande ook, ’n kern van sterk evangeliese kerke, wat hande neem om met Jesus se liefde na ongelowiges en minderbevoorregtes in hulle eie land en elders uit te reik.
Vandag is een uit vier Afrikane ’n Nigeriër, en verteenwoordig dié land se gelowiges ’n groot en invloedryke persentasie van Christene in Afrika. “Saam met ander kerke het die NGK, in haar 50 jaar van diens, van 1911 tot 1961, bygedra om dit ’n werklikheid in Nigerië te laat word,” vertel Sam.
Juffrou Van den Berg
Vir boetie Sam het dit in Juffrou Van den Berg se klein laerskooltjie in Gboko begin.
“Maar nie net vir my nie,” vertel hy geesdriftig. “Verskeie van die huidige goewerneurs, senatore, ambassadeurs, tegnologiese en sakeleiers, het saam met my in dié, en soortgelyke skole, se banke gesit en by Afrikaanse onderwysers geleer”.
Na sy aankoms in Suid-Afrika het hy moeite gedoen om sy oorlewende onderwysers persoonlik te gaan besoek. “Daar is ’n groepie van destydse werkers wat steeds weekliks bymekaarkom om vir Nigerië te bid.”
Die werk in Nigerië was nie altyd maklik nie. Vir die eerste kwarteeu was daar weinig sigbare vrug op die arbeid. Maar ’n kragtige herlewing wat die Here in die vroeë 1930’s beskik het – nie vanuit die sendingstasies nie, maar vanaf afgeleë nedersettings – het soos ’n veldbrand deur die gebied versprei en alle fasette van die lewe in Tiv-land getransformeer.
Dit herinner aan die ietwat enerse geskiedenis van die Afrikaners se eie heidenvoorgeslagte in Europa: Hulle het die evangelie ééue lank weerstaan, maar, ná hulle ommekeer in die 700’s, vir nog meer eeue lank as geesdriftige draers van die Goeie Boodskap gedien.
“Die CRC, die NGK se susterskerk in Nigerië, het my sopas versoek om hulle te help om ’n proses te fasiliteer waarin hulle uitreikvisie van ’n plaaslike na ’n globale skaal kan groei,” vertel Sam.
“Het jy ’n boodskap vir die lesers van Kerkbode?” vra ek hom tydens sy laaste blitsbesoek aan Suid-Afrika (’n land wat diep in sy hart ingekruip het, en waar twee van sy kinders ook tans studeer. “My seun speel rugby in Stellenbosch en praat Afrikaans soos ’n boerseun”).
“Ja, vertel hulle dat die mosterdsaadjies wat die NG Kerk destyds in my deel van Nigerië gesaai is, tot vandag toe nog ’n ryk oes dra, en reuse voortbring, nie net op kerklike terrein nie, maar ook in die politieke, diplomatieke, besigheid-, landbou-, industriële en tegnologiese sfere. Hier is één voorbeeld van hoe werk wat in die Here gedoen is, nie tevergeefs is nie!” aldus boetie Sam.
▶ Lees meer oor CAPRO by: www.caprosa.org.za