Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Hanré Janse van Rensburg in haar kantoor. Foto: Nico Smit

‘Dit is die Here se verhaal met my …’


Hanré Janse van Rensburg is ’n Nuwe-Testamentikus wie se geloof in volkleur op haar arms pryk. Nico Smit het met haar gesels.

“My tatoeëermerke, is die Here se verhaal met my,” sê Hanré Janse van Rensburg.

Hierdie verhaal pryk in ’n helder kleurespel op haar rug en arms.

In 2000, toe sy Teologie begin studeer het, het Hanré haar eerste tatoeëermerk op haar rug gekry. Dit was die Latynse woorde Sola Gratia. Dit beteken Deur genade alleen, een van die slagspreuke van die gereformeerde tradisie.

So het al Hanré se tatoeëermerke besonderse Christelike betekenisse. Sy het spoedig daarna haar BTh en toe haar meestersgraad in Antieke Tale en Kultuurgeskiedenis verwerf. Vandag is sy ’n geliefde lektrise, by studente bekend as Han. Sy is vir die afgelope agt jaar ’n proponent en vanaf 2014 senior navorsingsassistent in Nuwe-Testamentiese Wetenskap by Tukkies.

Sy was in ’n stadium onseker of sy regtig ’n leraar wou wees. Sy het ook getwyfel of sy kans sien vir die politiek oor haar tatoeëermerke. Haar uitgangspunt is nou dat indien almal wat anders is of lyk (soos sy) die kerk sou verlaat, daar niemand sou oorbly nie.

Han het die graad MDiv voltooi waarna sy gelegitimeer is as proponent in die NG Kerk. Sy was slegs vir ’n jaar lank leraar met opdrag jeugbediening tot haar pos geskrap is, omdat die gemeente haar nie meer kon bekostig nie.

Daarna was sy eers junior lektor by Unisa, en toe by 13th Floor wat Bybelgefundeerde dramatiese kunste aanbied deur middel van musiek, sang en drama.

Na die aanstelling by Tukkies het sy wéér haar passie ontdek – om konstant te soek waar teologie en geloof mekaar aanvul en verryk en dit sigbaar uit te leef, veral teenoor studente wat as leiers op pad is in geloofsgemeenskappe in. Sy is gelukkig tussen die studente en veral om te kan klas gee.

Danielle Laubscher, ’n sesde jaar teologiestudent van Tukkies het opgemerk: “Han se kennis en vrolikheid, maak my opgewonde oor mý bedieningspad.”

Vir Han is navorsing net so goed soos wat dit bruikbaar is. Haar navorsing oor Openbaring gaan oor Wat kan Openbaring vandag nóg vir ons sê? Sy het reeds haar doktorale proefskrif hieroor voltooi.

Han meen mense is negatief oor huidige wêreldgebeure. Baie voel en tree byna dieselfde op as diegene wat in Openbaring ter sprake was. Dit het haar laat wonder hoe die mens nog hoop kon hê, want vir haar is hoop ’n innerlike ervaring. Hoop is nie intellektueel nie. Han het oor Openbaring navorsing gedoen om aan mense te bewys dat daar in die heersende omstandighede steeds hoop is.

Haar tatoeëermerke is nie ’n teken van rebelsheid nie, sê Han. “Dis my verbond en verhaal met God.”

Die tatoeëermerke is vir haar ’n bewys van God se permanensie en sý sigbaarheid op haar liggaam. Dit herinner haar deurentyd daaraan. Jesaja 49 is haar anker en veral vers 16: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer.” Met haar verbond en tatoeëermerke, is God nou óók in haar gegraveer.

“Maak nie saak hoe ék die dag voel nie, die Here se waarheid bly: Hy bly konstant.” Haar tatoeëermerke is ’n getuienis van hoe die Here in haar lewe werk.

“Ek is ’n beplanner, maar ek besef die Here se planne werk anders as myne,” vertel sy. Die tatoeëermerke was en is ook vir Han ’n genesingsproses.

Op haar regterarm pronk ’n pou. Die pou is een van die oudste Christelike simbole, selfs ouer as die kruis. Grieke het geglo dat pouvleis nie sleg kan word nie en die legende is oorgeneem deur vroeë Christene. Daarom simboliseer die pou die ewige lewe.

So verklaar sy elke tatoeëermerk se betekenis en rond dit af met haar besliste oortuiging dat slegs God se genade ewige lewe kan gee. Sy stem saam met Karl Barth dat sy eerder sal fouteer met te veel genade as te min.

Haar raad aan ouers met kinders wat ook belangstel in tatoeëermerke: Kinders moet verkieslik bo 18 wees, self vir professionele tatoeëring betaal en seker wees hy/sy gaan vir die res van sy/haar lewe daarmee kan saamleef.

Han is oortuig dat “kerk” op verskeie maniere gestalte kan kry. Dit beteken nie dat tradisies oorboord gegooi moet word of dat dit nou onbelangrik is nie. Maar daar is ander maniere ook om kerk te wees.

Die kern van “kerk” is die belangrikste: evangelie, liefde, verlossing. “Ons moet maniere kry om dit sinvol uit te druk – al is dit nie hoe mense tradisioneel daaraan gewoond is nie.”

Daarmee sê sy nie die kerk moet ophou bestaan nie. “Ons hoef nie eers dood te gaan, voor ons verander nie,” sê sy beslis.

Vir Han is God “huis”. Ten spyte van wat in ’n mens se lewe aangaan of gebeur het, bly God vir haar “huis” – ’n veilige, rotsvaste hawe. Sy sien dit so omdat Hy vir ander óók “huis” kan wees.

God is vir Han ook die Stem wat haar lei om haar medemens se dag beter te maak, hetsy dit studente in die klas of iemand in die verbygaan is.

Hierdie getatoeëerde teoloog, is op ’n plek in haar lewe waar sy waarlik gelukkig is. Haar sterkste boodskap is: Niks kan ons skei van die liefde van Jesus Christus nie.

Hanré Janse van Rensburg durf die lewe aan in die wete dat niks God se sigbare verhaal van haar kan wegneem of uitwis nie.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top