Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Ons almal lees die Bybel met die hulp van ’n leesbril. Meer spesifiek, ’n hermeneutiese leesbril met twee lense.
Dié lense daarvan is nie van geslypte glas gemaak om ons sig te verbeter nie. Die een lens bestaan uit ons kennis van die wêreld en gebruike van die Bybel en die ander uit ons verstaan van ons eie tyd. Daarom is dit ’n hermeneutiese leesbril.
Hermeneutiek is naamlik die studie van alles wat ons verstaan van tekste beïnvloed. Ons hermeneutiese leesbril help ons om die Bybel, wat meer as tweeduisend jaar oud is, toepaslik te lees.
’n Goeie voorbeeld hiervan is Efesiërs 5:21 – 6:9 waarin riglyne vir die inrigting van huishoudings gegee word. Almal van ons sal die gedeelte oor hoe eienaars hul slawe moet hanteer (6:4-9) lees en aanvaar dat al was slawerny ’n integrale deel van die Grieks-Romeinse ekonomie, dit nie beteken dat ons steeds slawe mag hê nie.
Ons sal mekaar ook waarskynlik min of meer vind oor die verhouding tussen ouers en kinders (6:1-4).
Oor die verhouding tussen mans en vrouens (5:21-33) loop die menings egter dikwels sterk uiteen. Sommige wil die verhouding inrig soos in die Bybelse tyd deurdat vroue aan hul mans onderdanig is. Ander beklemtoon weer 5:21 wat die wedersydse onderdanigheid van beide aan mekaar beklemtoon.
Dit is eers as ons verskil oor die betekenis van ’n teks dat ons bewus raak dat ons hermeneutiese leesbrille se voorskrifte van mekaar s’n verskil.
Dit verskil, want ons ervarings, opvoeding en persoonlikhede is nie dieselfde nie. Dit is daarom belangrik dat ons nie net die Bybel lees nie, maar ook bewus moet wees van ons hermeneutiese leesbrille se lense waardeur ons dit lees.
Die uitdagende tye wanneer die kerk oor die uitleg van die Bybel verskil is daarom kosbare tye waarin alle Bybellesers weer ons leesbrille se voorskrifte moet nagaan.
▶ Dr Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.
