Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Mnr Adriaan Vlok. Foto: Neels Jackson

Vergifnis vra bring vryheid, sê Vlok


Voor in die Bybel wat oudminister Adriaan Vlok vir vader Michael Lapsley gegee het, staan sy versoek om vergifnis in groot, duidelike letters: “I have sinned against the Lord and against you!” En verder aan: “I am sorry – please forgive me!”

Lapsley het onlangs by die bekendstelling van Uiteindelik vry, die Afrikaanse vertaling van sy bekroonde boek Redeeming the past, aan sy gehoor op die Tukkie-kampus vertel van Vlok se verskoning dié oggend aan hom.

Vlok was minister van wet en orde in die ou bedeling, Lapsley ’n Anglikaanse priester wat hom by die ANC aangesluit het. Drie maande nadat mnr Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat is en die verbod op die ANC opgehef is, het Lapsley in Harare ’n briefbom gekry wat albei sy hande en sy een oog weggeskiet het.

Hy het gesond geword en het nou ’n bediening van versoening, een waardeur hy mense help om die trauma van die verlede te verwerk.

By navraag sê Vlok hy het nie die opdrag vir die bom gegee nie. Hy weet nie wie dit gestuur het nie. Maar hy het apartheid bevorder en beskerm – en dié briefbom was deel van die uitwasse van daardie bedeling.

Daarom vra hy verskoning. Daarom het hy ook Lapsley se voete gewas soos hy vroeër die voete gewas het van dr Frank Chikane, van tien vroue in Mamelodi en van soveel ander mense.

Lapsley het voor hom gesit, sonder hande, sonder sy een oog – en sy enigste “sonde” was dat hy teen apartheid was.

“Ek het gevra: ‘Kan jy my vergewe?’ En hy het gesê: ‘Ja’,” vertel Vlok.

Is dit nie vernederend om so en so herhaaldelik om vergifnis te pleit nie?

“Jy stel jouself elke keer bloot,” sê Vlok. “Jy moet jouself verloën.” Maar hy is bereid om dit te doen, want hy is regtig jammer.

As hy vergifnis vra, probeer hy homself nooit regverdig nie. “Vergifnis vra het nie ’n ja-maar nie,” sê Vlok.

Saam met die vergifnis het hy Lapsley se voete gewas “omdat dit die pad van Jesus is,” sê Vlok. Jesus het liefde betoon. Jesus het Homself ondergeskik gestel.

Die boodskap wat oudminister Adriaan Vlok voor in ’n Bybel vir vader Michael Lapsley geskryf het. Foto: Neels Jackson
Die boodskap wat oudminister Adriaan Vlok voor in ’n Bybel vir vader Michael Lapsley geskryf het. Foto: Neels Jackson

En die gevolg was nog nooit dat iemand hom vertrap het nie. Chikane het dit nie gedoen nie, die mamas van Mamelodi het nie. Lapsley ook nie.

“Jy staan daar op met ’n gevoel van vryheid,” sê die oudminister.

Oor die argument dat wat nou in die land gebeur ook nie reg is nie, sê Vlok al is dit waar, geld dit nie. Jy moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat jy verkeerd gedoen het.

Matteus 5:23-24 sê duidelik jy moet gaan regmaak met iemand wat iets teen jou het. Daarna kan jy met God regmaak.

Die vryheid wat sy skulderkennings vir Vlok gebring het, het ook gevolge, sê hy. Nou wil hy mense help. Hy is nou lief vir hulle. Dis nou al agt jaar lank dat hy betrokke is by projekte om vir armes kos te gee.

Dis dié betrokkenheid wat vir Lapsley oortuig het dat Vlok se berou eg is.

Vlok sê hy doen dit nie om iets te koop of iets te wen nie. As dit ’n mens se motief is, kan jy nie volhou nie. Hy doen dit vir die liefde en vreugde daarvan. Daarom kan hy volhou.

Sy lewe is nou totaal anders as toe hy ’n minister was. “Nou is ek nie meer ’n meneer nie. Nou is ek niks,” sê hy. “Maar dis soveel beter.”  Sy lewe is nou ryk aan liefde.

Hy het in praktyk geleer wat beteken Jesus se woorde dat dié wat hulle lewe ter wille van Hom verloor, sal dit terugkry.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top