Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Versoeningswerk is nou nodig


Verpligte militêre diensplig het ’n geweldige impak gehad op die lewe van ’n hele generasie wit mans. Baie van hulle dra steeds die geestelike letsels daarvan en sukkel om hulle eie geskiedenis te verwerk. Tydens ’n onlangse simposium oor dié kwessie wat aangebied is deur die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie aan die Universiteit Stellenbosch, was dr Theresa Edlmann een van die sprekers. Jacobie M Helena het met haar gesels.


Die Afrikaanse woord ‘versoening’ is soveel meer beskrywend as die Engelse woord ‘reconciliation’. Versoening beskryf die intimiteit, die soen, die gebed en die nabyheid tussen mense wat die woord reconciliation net nie doen nie.”

Só gesels dr Theresa Edlmann, ’n akademikus en versoeningswerker met ’n Anglikaanse agtergrond, oor die kern van haar navorsing oor grensoorlogsgeweld.

Theresa Edlmann
Theresa Edlmann

Haar reis met dié gelaaide en omvattende tema en met haar PhD-studie daaroor, het op 19 November 2004 begin.

Edlmann, wat ’n vurige ondersteuner van geweldloosheid in die oorgangsjare van die demokratiese Suid-Afrika was, het gegaan om ’n groep Oos-Kaapse boere oor die tema van “rasseversoening in die post-apartheid era” toe te spreek.

Na afloop van haar praatjie het ’n plaaslike boer met haar kom gesels. In dié gesprek het sy bewus geword van die intense effek wat die man se betrokkenheid in die grensoorlog in Namibië en Angola op hom gehad het.

Hy het nie woorde gehad het om sy ervarings volledig te beskryf nie, maar Edlmann kon aan sy liggaamstaal agterkom dat dié belewenisse na al die jare stééds by hom spook. Hy het die gesig onthou van élke persoon wat hy doodgemaak het.

Dit is dié ontmoeting wat gelei het tot haar passie vir versoeningwerk onder die verskeie groepe mense wat deur dié grusame tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis geraak is.

Almal is geraak

“Mans is opgeroep om aan die grensoorloë deel te neem. Dit het nie net hulleself nie, maar ook hul vrouens, hul kinders én hul teenstanders betrek. Hoe gemaak as die oorlog skielik huis toe kom?” vra Edlmann.

“Teenstanders in die oorlogstye is vandag kollegas by die werk of bure in die straat. Grense is tussen rasse, klasse en etniese groepe opgestel. Dáárom is dit belangrik om nie mense as oortreders en slagoffers te klassifiseer nie, maar om te besef dat oorlog álle mense slagoffers maak. Dit laat niemand onaangetas nie,” sê sy.

Niemand vra wat dit aan moeders gedoen het om hul seuns oorlog toe te laat gaan nie. Só baie mense is deur die ideologiese sisteem van apartheid stilgemaak. Versoeningswerk probeer vir die slagoffers moed terug te gee om te besef dat hulle wél ’n stem het.

Bevind ons onsself vandag steeds binne ’n grensoorlog?

“Nee en ja,” sê Edlmann.

“Nee, omdat mans nie meer gedwonge vir diensplig opgeroep word nie. Mans het vandag ’n keuse of hulle hulleself aan oorlogsgeweld wil blootstel. Ja, want die hoë misdaadsyfer kan amper beskou word as die burgeroorlog wat ons nooit gehad het nie. Die grense van segregasie wat steeds tussen mense in ons land heers, is skokkend ná meer as twintig jaar sedert die amptelike beëindiging van apartheid.”

Tekens van hoop

Maar sy voeg dadelik by dat daar in die jonger geslagte soveel stories van hoop gesien kan word. “Hoe het die land se studente nie onlangs met die #feesmustfall-veldtog saamgestaan nie? Jongmense het die voorreg om sonder die gedwonge grusaamhede van die verlede anders na mense wat anders as hulleself is te kyk.”

Edlmann is opgewonde oor samewerking met die Worcester Hope and Reconciliation Process, ’n orga­nisasie wat hulleself aan versoeningswerk in Worcester toewy.

“Worcester Hope is ’n rolmodel van mense wat werklik versoening nastreef al is dit moeilik en pynlik”, sê sy.

Daarmee saam noem sy ook die onlangse simposium oor diensplig in Stellenbosch. Die belangstelling in die nuwe projekte wys dat die lae van seerkry en traumatisering deur die grensoorloë nog diep lê, maar tog steeds sigbaar is.

Maar hoe kan ons by die versoeningswerk betrokke raak sonder om organisasies te stig of simposiums by te woon?

Edlmann glo dat die wysheid tot versoening reeds in elkeen van ons opgesluit is. “As jy ’n lewe van gebed nastreef, sal jy die woorde en wysheid om te weet wat jy moet doen, binne jouself vind”, sê sy.

“Jy is verantwoordelik vir die keuses wat jy nóú maak. Apartheid het baie mense se keuses vir hulle gemaak, maar nou kan jy self kies om anders op te tree. Wanneer jy die wysheid in jouself gevind het om ’n verskil te maak, word dit ook belangrik om in dialoog met mense oor hul seerkry en pyn van die verlede betrokke te raak. Ons moet die grense binne onsself konfronteer. Maar albei die prosesse is belangrik. Watter een eerste gebeur maak nie saak nie,” sê sy. 

Sy keer weer terug na die woord versoening. “Dís hoekom versoeningswerk nodig is. Ons het taal nodig om oor versoening, maar ook oor die grusame verlede te praat. Versoening roep ’n weerloosheid op wat ryk en net pragtig is,” voeg sy by.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top