Die probleem met die Emmausgangers was nie dat God nie teenwoordig was by hulle nie. Die probleem was dat hulle nie teenwoordig was nie. Hulle gedagtes was by die ontstellende gebeure van die vorige dae in Jerusalem.
So het dr Frederick Marais Maandag 29 Februarie gesê tydens die eerste sessie van die NG Kerk in KwaZulu-Natal se jaarlikse predikantekonferensie.
Dit is die vierde en laaste predikantekonferensie in die termyn tussen twee sinodes waartydens die kerk in KwaZulu-Natal werk met die metafoor van die Emmausgangers wat saam met Christus op pad was.
Marais het in sy inleidingsessie onder meer gepraat oor die rol van opstanding van Christus in die pad wat gelowiges loop. Dit het hy gedoen aan die hand van aanhalings uit die Nuwe Testamentikus NT Wright se boek Surprised by Hope: Rethinking Heaven, the Resurrection and the Mision of the Church.
Wright het beklemtoon hoe belangrik die Christelike lewe is om hoop te bring. Hieroor het Marais onder meer gesê een van die mees konkrete vorme van ongeloof is die oortuiging dat die verlede beter is as die toekoms.
Marais het ook gepraat oor die probleem dat daar in die kerk dikwels op teorie gekonsentreer word en dat die praktiese uitlewing daarvan afgeskeep word.
Hy het vertel dat toe hy ‘n teologiestudent was, was daar kommer dat die studente nie genoeg bid nie. Die antwoord was om vir hulle ‘n reeks lesings oor gebed te gee. Hulle is egter nie prakties geleer om te bid nie. Jare later het hy dié leemte in sy eie lewe ervaar.
Marais het gesê dat dit belangrik is om nie net vir lidmate teorie te leer nie, maar dat hulle praktiese lewensvaardighede moet aanleer om saam met Christus op pad te wees.
Hy het verwys na vaardighede soos luister en bid, maar ook na iets soos die vaardigheid om vriendskappe met vreemdelinge aan te knoop.
Marais het gesê daar is baie gemeentes wat missioinaal wil wees, maar hy dink nie die kerk het dit al as lewenspraktyk deurdink nie.
