In gemeenskappe soos Ebony en Ivory-Park speel oumas ’n sleutelrol. Hulle word ondersteun deur maatskaplike werkers wat ondersteuning uit die kerk nodig het. Ilse Ferreira vertel.
Hulle dag begin lánk voor sonop. Haan se kind en sy maters is nog besig om hul vere reg te skud en hul keel skoon te skraap, dan is die oumas van Ebony Park en Ivory Park, suid van Pretoria, al op die been.
Teen ligdag is hul spannetjies reeds kant en klaar met die voorbereidings vir die dag en pak die pad aan skool toe: party te voet, ander met minibustaxi’s.
In hulle oë lees jy die omgee – en in hul belynde gesigte sien jy die swaarkry wat elke dag toevou. Baie min van hierdie oumas vind kans om te rus – omdat die uitgebreide gesinne waarvoor hulle verantwoordelik is, se vele behoeftes hulle dae propvol planne maak, harde werk en aanhoudende besigwees verg.
Aftree en ouetehuis is twee woorde wat nie op hierdie strydervroue van toepassing is nie: nie nou nie en ook nie later nie.
Al die kinders
En tog is hulle praat nie net swaarkry-praat nie. Daar is tog nog tyd vir stories deel en lekker lag, so oor ’n beker tee en ’n toebroodjie. En dan die vertel van hoe hul lewe werk. Nie net hul eie kleinkinders nie, maar familie se kinders en kleinkinders, en enigeen verbonde aan ’n familielid wat self nie hul kind kan versorg nie, kry blyplek by so ’n ouma wat haar hart en huis vir ’n kind oopmaak. Baie kinders word so grootgemaak, deur vroue wat eenvoudig die kind inneem en grootmaak, ongeag bloedverwantskap of formele hofbevele. En ’n groot aantal van hierdie vroue is in die silwer jare van hul lewe.
In gesprek met Caroline, een van hierdie oumas wat ses kinders in haar sorg het, word die alledaagse struikelblokke duidelik. Die huishouding het omtrent geen inkomste nie: een van die ouer kinders doen stukwerk waar hy kan, en nog ’n ander een wat matriek geslaag het, soek nog werk. Elke dag is ’n uitdaging in hierdie huishouding. Niks is vanselfsprekend nie.
Kry sy dan nie ’n pleegsorgtoelaag ofte wel ’n “Granny Grant” van die regering nie? Sy verduidelik dat een van die kinders wel kwalifiseer vir ’n toelaag, maar nie ’n geboortesertifikaat het nie.
Lucky Makgopa, ’n maatskaplike werker van die Christelik-Maatskaplike Raad (CMR) Ivory Park wat die familie bystaan, verduidelik dat die proses om aansoek te doen vir so ’n toelaag, lank en uitgerek is. Baie papierwerk moet eers gedoen word.
Lucky verduidelik dat geen toelaag uitbetaal kan word sonder die nodige dokumentasie nie. En in informele omgewings is daar dikwels nie die begrip dat die geboorte van ’n kind geregistreer moet word nie, en in meeste gevalle, nie die geld om die dokumente te bekom nie. Sy dink dat die koste van dokumentasie ’n baie groot struikelblok is – en ure, selfs jare se werk sou voorkom kan word indien dit meer bekostigbaar sou wees.
Die werklikheid is dat ’n baie groot persentasie kinders deur iemand anders as hulle biologiese ouers grootgemaak word, of op informele wyse versorg word. Lucky verduidelik dat probleme ontstaan wanneer kinders by skole ingeskryf moet word, en mediese hulp nodig het en identiteitsdokumente nodig het.
Dit is juis met hierdie struikelblok van geen dokumente wat die CMR van Gauteng-Oos se maatskaplike werkers, wat kantore regoor Pretoria het, ’n groot verskil maak deur die oumas en ander familielede wat die kinders in pleegsorg wil neem, te ondersteun.
Oumas wat maande of jare gelede langs die grafte van hul dogters moes staan en ten spyte van die hartseer, met omgee aangaan en sonder ophou planne maak vir onskuldige kleinkinders in nood.
Die CMC
Ds Ryno Meyer, leraar van die NG gemeente Pierre van Ryneveld en bestuurslid van die CMR Lyttelton, verduidelik dat Ivory Park se kantoor, weens munisipale grense, nie langer as deel van CMR Lyttelton kan funksioneer nie.
Dus word daar nou ’n nuwe organisasie sonder winsoogmerk geregistreer wat as die Christian Social Council Midrand die werk sal voortsit. Daar is tans twee maatskaplike werkers en twee maatskaplike hulpwerkers, maar dit is ontoereikend, verduidelik hy. “Die werklading is so groot dat ons eintlik ses voltydse mense nodig het.”
Hy sê dat die grootste huidige uitdaging is dat die werk reaktief plaasvind, en daar aan die grootste krisisse aandag gegee word, iets wat nie die langtermyndoelwit is nie. Hy voorsien pro-aktiewe programme, opheffing, werkswinkels, groenteverbouing, buitemuurse aktiwiteite, huiswerkhulp en naskoolsentrum-aktiwiteite – en les bes, uitstappies om veral kinders beter toe te rus as wat tans die geval is.
Henda van der Merwe, direkteur van CMR Gauteng-Oos, benadruk dat fondse altyd benodig word. “Met meer fondse kan nie net die getal maatskaplike werkers aangevul word nie, maar ook programme aangepak word. Ons het egter volhoubare, langdurige befondsing nodig. Ons is al in die proses om uit te reik na plaaslike besighede, en gaan hande vat met die nuutgestigte besigheidsforum in Midrand.
Sy stem met Meyer saam dat vrywilligers ook ’n belangrike rol gaan speel. Enige persoon wat sy tyd en kennis wil kom deel – op watter vlak ook al – daar is geleentheid om hierdie mense se lewe positief aan te raak.
Hoe kan gemeentes help?
In die gemeenskap van Ivory Park is armoede een van die grootste uitdagings en is daar altyd ’n behoefte aan kos, veral aan nie-bederfbare produkte en babakos/benodighede. Tans bedien twee voltydse maatskaplike werkers en twee maatskaplike hulpwerkers en een halfdag bestuurder intensiewe maatskaplike werk dienste aan meer as 500 gesinne in nood. CSC Midrand benodig kundige vrywilligers om te dien op hul nuwe bestuur. Jy is welkom om enige tyd die kantoor te besoek.
▶ Kontak die bestuurder, Prisca Mathabatha, by 076 699 2630 of die direkteur, Henda van der Merwe, by 072 801 0092.