Rassewrywing en rasseherries vlam deesdae gereeld in Suid-Afrika op – veral op die universiteitskampusse en in sosiale media. In Worcester herleef daar deesdae ’n Christelike inisiatief om die verdelingslyne van die verlede te oorkom. Jacobie M Helena vertel.
Die geografiese grense tussen mense van verskillende rasse soos dit deur die apartheids-regering getrek is, is steeds duidelik sigbaar. Dit is dié grense tussen mense van verskillende rasse- en klassegroepe wat deur die konsep van koinonia aangespreek word.
Die Griekse woord koinonia verwys daarna dat jy iemand ’n vriend noem, om te deel met iemand of na gemeenskaplikheid. Dit word in die praktiese teologie gebruik om iets van die gemeenskap tussen gelowiges weer te gee.
Maar dit is, ongelukkig, dikwels presies waar dit bly. En dit is presies wat die koinonia-maaltydgeleenthede wil verander sodat die pad na versoening in opregte en eerlike verhoudings, koinonia tussen mense, gewortel kan wees.
Nico Smith
Die idee van koinoniamaaltye het by prof Nico Smith begin.
Smith, ’n professor in sendingwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch, het sy huis in dié lowerryke dorp verruil vir ’n huis in die stowwerige township Mamelodi, by Pretoria, toe hy in die vroeë 1980’s na ’n gemeente van die destydse NG Kerk in Afrika beroep is.
Hy vertel die verhaal van Koinonia, die organisasie wat hy gestig het om die klowe tussen wit en swart te oorbrug, in sy boek Die dood van die God van my vaders.
Smith skryf hoe wit Engelssprekendes hom een dag gevra het oor sy lewe in die township Mamelodi. “Waarom vra hulle my om van Mamelodi te kom vertel? Waarom gaan hulle nie sélf na Mamelodi om persoonlik iets van die woonbuurt te beleef nie? Ek besluit toe om hulle aan die einde van my vertelling uit te daag om self Mamelodi te besoek,” skryf Smith.
Dié eerste besoek het nie sonder oorreding en gebed plaasgevind nie, maar was op die ou end vir die betrokkenes ’n wonderlike ervaring. Die aanvanklike pare was so opgewonde oor die maaltye dat hulle ’n organisasie met die naam Koinonia gestig het.
Smith skryf oor die invloed van die tipe maaltye: “Daardie aand het ek huis toe gegaan en geweet dat so ’n persoonlike ontmoeting tussen wit en swart en dan veral rondom ’n etenstafel, ’n psigiese invloed op mense het waardeur hulle persepsies van mekaar geheel en al opgehef kan word.”
Hulle het begin om maaltydgroepies te vorm: tipies twee wit en twee swart gesinne wat om die beurt by mekaar se huis kuier en saam eet en kuier.
Die maaltye het ook na die jongmense oorgespoel en hulle het in restaurante ontmoet. Dít op sigself was ’n uitdaging omdat baie restaurante in 1982/1983 nie swart mense toegelaat het nie. Die wit jongmense het die geleentheid gehad om te ervaar waaraan swart mense in openbare plekke in daardie jare blootgestel is.
Die pad na versoening deur koinoniamaaltye is nie ’n maklike pad nie. Steeds ná 34 jaar sedert die ontstaan van die maaltye sit die groot meerderheid in die samelewing steeds met die stereotipiese idees oor mekaar se lewe.
Koinonia in Worcester
Koinoniamaaltye in Worcester is deur ds Fanie en Mada Engelbrecht van Mercy Ministries International begin. Hulle het die konsep vir koinoniamaaltye, soos dit deur prof Smith ontwerp is, verwerk en aangepas om dit op die Worcester-gemeenskap van toepassing te maak.
Die agt ontmoetingsgeleenthede van Smith het hulle na vier geleenthede aangepas. “Ons het ondervind dat vier geleenthede beter in Worcester werk omdat mense hulle nie altyd vir so ’n lang tyd kan verbind nie,” sê Mada.
Sy voeg by: “Dit is belangrik om te besef dat dit nie net ’n kuiergeleentheid is nie, maar ’n gestruktureerde geleentheid wat gefasiliteer moet word. Tesame met die ligte geselskap en grappies moet daar ook vir dieper geselskap plek gemaak word.”
Die eerste koinoniamaaltyd wat hulle gehad het, was in 2013. Daar was een wit paartjie, een swart paartjie en twee bruin paartjies. “Dit was ’n ongelooflike ervaring om te sien watter verskil dit in mense se lewe maak om net mekaar te leer ken en saam te eet,” sê Fanie.
“Hy sê vir my dat die Here hom maar kan kom haal, want hy het nie gedink hy sal vir ’n wit man so lief word nie,” lag Fanie oor sy swart vriend se opmerking.
Mada voeg by: “Koinoniamaaltye gaan oor verhoudings bou. Dit skep die geleentheid om deur die vooropgestelde idees oor mekaar te breek. Ons sit mekaar in boksies en glo die stereotipiese idees van mekaar, sonder om mekaar te leer ken.”
Tydens só ’n geleentheid in Worcester word mense van verskillende geografiese en klassegroepe bymekaargebring. Dit word tans deur Fanie en Mada vanaf Worcester Hope and Reconciliation Process en tussen NG Kerk Worcester-Vallei en VGK Worcester-Suid gereël en gefasiliteer.
Hoewel die maaltye nie in die eerste plek oor geloof gaan nie, maar oor versoening, is dit ’n metode wat hopelik ook versoening tussen kerke en gemeentes kan bewerkstellig. Geloof vind tog eers werklik stelling in wanneer dit vanaf ’n plek van versoening gedoen word. Versoening binne jouself en die “ander” se lewe.
Die kos en die aard van die geleentheid word in die hande van die gasheer en gasvrou oorgelaat. Die idee is om kos te maak wat eie aan hul kultuur is.
Geelrys en hoender
By een so ’n aand word ’n feesmaal van geelrys met groente, hoender en verskeie vrugtesoorte voorgesit. ’n Nagereg van maaskaastert en koek. Die waardering word in die oë rondom die tafel sigbaar. Die deelnemers kry só die geleentheid om mekaar se kulturele verskille maar ook ooreenkomste te ontdek.
Daar word gesels oor die gewone en gedeelde dinge in die lewe soos sport, koor, kinders, kerk en dorpsake en aktuele sake. Die verhouding tussen die vriende wat reeds oor die afgelope weke gebou is, is duidelik sigbaar. Daar heers ’n opsigtelike gemaklikheid en gevoel van opregtheid tussen die deelnemers.
Na ete kry die gasheer en gasvrou die geleentheid om hul storie met die res van die groep te deel. Waar hulle grootgeword het, wat hulle al in hul lewe gedoen het, die worstelinge en struikelblokke wat hulle al deurgemaak het.
In dié tyd word die geleentheid geskep vir eerlike gesprekke. “Watter invloed het die miskraam op jou gehad?” word gevra.
“Sjoe, dit moes seker moeilik gewees het om na jy op skool swanger geword het weer terug te keer skool toe?” volg daarop.
Dit is duidelik dat dit nie maklike gesprekke is nie. Die deelnemers is soms stomgeslaan oor die trauma wat hul nuwe vriende reeds ervaar het.
“Wanneer het jy jou werk verloor?” word gevra. “Kan julle saam met my bid vir my werk?” versoek ’n ander.
Daar word genoeg tyd gegee om die gasheer en gasvrou hierdie eerlike vrae oor hul lewe te vra. Dit is tydens hierdie deel van die aand wat daar dieper en met deernis na mekaar gekyk word. Die geleentheid word geskep om mekaar se emosies te sien en te ervaar. Die muur van vooropgestelde idees, apartheid en agterdog word stadig maar seker afgebreek.
Hoewel die konsep van koinonia dieselfde by elke geleentheid is, is elke geleentheid uniek, omdat die hart van koinoniamaaltye oor mense gaan. Dit gaan oor mense se verskillende eerlike stories.
“Dit gaan ook oor liefde. Ek het nooit gedink ek sou opregte liefde só beleef nie,” sê Clive. Roger voeg by: “Dit gaan nie oor ras nie, maar oor opregte fellowship, om mekaar te leer ken, gasvryheid en één Here. Die verskil wat ons kan maak is so groot. Die klein vlammetjie wat ons hier het, het die potensiaal om ’n groot vuur te word.”