Pres Jacob Zuma moet bedank.
Toe ʼn groep van kerklike en ander burgerlike organisasies hierdie oproep op 6 April by die Konstitusionele Hof in Johannesburg gedoen het, was dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, een van die leiers wat deur sy teenwoordigheid hom met hierdie oproep vereenselwig het.
Ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, het by navraag gesê die NG Kerk se teenwoordigheid by hierdie oproep kom as deel van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke wat onlangs ʼn sterk bewoorde verklaring uitgereik het ná die Konstituionele Hof se uitspraak in die Nkandla-saak.
Janse van Rensburg sê die dagbestuur van die ASM het hulle volledig met hierdie verklaring vereenselwig. Die verklaring self vra nie in soveel woorde dat Zuma moet bedank nie, maar uiteindelik is dit die implikasie van die verklaring. Daarna het Zuma ʼn verskoning aangeteken waarin hy die waarheid verdraai het.
Teen dié agtergrond vereenselwig hy hom ook met die oproep dat Zuma moet bedank en hy is seker die dagbestuur van die ASM sal ook so voel, sê Janse van Rensburg.
Die kerk staan vir geregtigheid en waarheid, en waarheid word hier aangetas. Die hele gebeure om Zuma bring vrede en geregtigheid in Suid-Afrika in gedrang. Die gevolg is dat mense ly. Daarom is die kerk betrokke hierby, het Janse van Rensburg gesê.
Claassen het gesê die NG Kerk word gereken as ʼn belangrike deel van die burgerlike samelewing waaruit hierdie oproep tot Zuma se bedanking gedoen word. Daarom dat die kerk genooi word om deel te neem aan sulke aksies. Hy meen lidmate kan vrymoedigheid neem om betrokke te raak by verdere aksies van hierdie veldtog.
