Die kerk is nou midde in Paastyd. Hemelvaart en Pinkster lê om die draai. Met die oog op Pinkster kyk André Bartlett na ’n skildery wat iets oor hierdie baken op die kerklike kalender sê.
Die verhaal van Pinkster wat die uitstorting van die Heilige Gees weergee, speel ’n belangrike rol in die oorgang van die lewenswerk van Jesus na die voortgesette werk van sy volgelinge. Pinksterfees, wat vanjaar op 15 Mei gevier word, is nie net ’n historiese herdenking van hierdie gebeurtenis nie, maar ook ’n herbevestiging van die roeping van die kerk om dit wat Jesus tot stand gebring het, verder gestalte te laat kry in die wêreld.
’n Baie treffende uitbeelding van die Pinkstergebeure is die skildery Pinkster van die Duits-Deense skilder Emil Nolde (1867-1956). Hy was een van die belangrikste eksponente van die Duitse Ekspressionisme en is veral bekend vir die ekspressiewe gebruik van kleur in sy skilderye – soos ook die geval is in die skildery wat ons hier onder oë neem.
In die skildery beeld Nolde ’n groep van elf manspersone uit wat redelik naby aan mekaar rondom ’n tafel sit. Die uitdrukking op die meeste van die figure se gesig getuig van verwondering en vreugde met hulle oë en mond wyd oop. Judas is opvallend nie meer deel van dié kring van dissipels nie en Petrus neem duidelik ’n sentrale leiersposisie in.
Vreugde
Die vreugde en verwondering word verder versterk deur die gebruik van ’n helder geel vir die meeste van die gesigte en ook vir die kleur van die tafel. Die misterievolle aard van die gebeure word daarteenoor uitgebeeld deur die violet-rooi van die vlamme bokant die koppe van die dissipels en die donkerblou van die agtergrond.
Opvallend is die talle ooreenkomste van hierdie skildery met ’n skildery wat min of meer dieselfde tyd deur Nolde geskilder is en wat ’n uitbeelding is van die laaste Nagmaal van Jesus en sy dissipels. Die plasing van die dissipels is soortgelyk in albei skilderye. Die grootste verskil is dat Petrus in die Pinksterskildery die leiersposisie inneem wat Jesus in die Nagmaalskildery beklee. In die Nagmaalskildery is Judas ook nog in die prentjie, hoewel hy eintlik reeds duidelik besig is om hom van die res van die groep te distansieer.
Uitreik
Treffend in albei skilderye is die wyse waarop die figuur links voor met sy arm uitreik en die hand van die effens bedremmelde figuur regs voor vashou. Laasgenoemde is waarskynlik ’n uitbeelding van Tomas wat nog besig is om tot verhaal te kom ná sy ervaring met Jesus wat hom in sy vertwyfeling ná die opstanding tegemoet gekom het.
Die skildery gee uitdrukking aan verskillende aspekte van die Pinkstergebeure: die vreugde en verwondering van Jesus se volgelinge, die voortsetting van Jesus se werk deur die kerk onder leiding van Petrus en die ander dissipels.
Vir my persoonlik is die mees treffende van hierdie skildery die wyse waarop Pinkster uitgebeeld word as ’n gebeurtenis wat gemeenskap tussen mense tot stand bring. Dit vind uitdrukking in die nabyheid van die figure aan mekaar, maar veral deur die beklemtoning van die gebaar van uitreiking na Tomas toe. In die kring van gelowiges word niemand uitgeskuif omdat hy of sy op ’n ander manier tot geloof kom as die res nie. Die een wat meer sukkel om te glo, word juis bemoedig en met ’n hand wat uitreik vasgehou.
In ’n tyd van toenemende individualisme – wat ook toenemend in die kerk posvat – behoort die gemeenskapskeppende aard van die Pinkstergebeure sterker beklemtoon te word en behoort ons mekaar ook daaraan te herinner dat ons veronderstel is om mekaar vas te hou in die geloof.
▶ Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit Pretoria.