Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Christo en Miems de Klerk by die ingang tot NaEden. Foto’s: Neels Jackson

By NaEden leer jy om te ‘dans met God’


In die dorpie Munster aan die suidkus van KwaZulu-Natal is daar ’n retraitesentrum wat vir baie mense nuwe sin gebring het. Neels Jackson het besoek gaan aflê by Christo en Miems de Klerk by NaEden.


Ek wens ek kon hulle spiritualiteit hê,” sê dr Christo de Klerk terwyl hy beduie na Simson en Tanya, die twee honde wat stertswaaiend opgewonde is oor die vroegoggend se afstap strand toe.

Die lewensvreugde straal uit hulle uit met hierdie daaglikse stukkie roetine by NaEden, die retraitesentrum wat Christo en sy vrou Miems in Munster aan die KwaZulu-Natalse suidkus bedryf.

Christo was vroeër gemeentepredikant. In Malelane by die VGKSA, in Clarens in die Vrystaat en toe in Monumentpark-Wes in Pretoria. In ’n stadium was hy baie betrokke by egskeidingsbemiddeling.

Maar in 2012 het hy vroeg geëmeriteer. In ’n groot huis in Munster wat “in ons skote geval het” het hy NaEden begin.

Hy verduidelik die naam op twee maniere. Enersyds is ons almal mense wat in die gebroke werklikheid ná Eden leef. Maar aan die ander kant is gelowiges ook in Christus op pad na Eden toe, op pad om nuut te word en heel te word.

“Ek wil mense help om die lewe te geniet. God roep ons om die lewe te geniet,” sê Christo.

As hy dit sê, kom die prentjies uit die oggend se stap langs die see by ’n mens op. Simson en Tanya wat uitgelate die water instorm as Christo ’n stok in die vlak branders ingooi. Die louter vreugde van die oomblik.

Dans met God

’n Oppervlakkige pleisterplak is nie Christo se benadering nie. Ook nie ’n resep vir dit, of ’n kitskuur vir dat nie. Die manier waarop Christo met mense werk is ingebed in ’n diep spiritualiteit, in deurleefde teologie wat uiteindelik gaan oor die vraag: Hoe leef ek saam met God?

’n Muurversiering by NaEden – maar ook baie meer as dit. Geloof, hoop en liefde is belangrike temas by dié retraitesentrum.
’n Muurversiering by NaEden – maar ook baie meer as dit. Geloof, hoop en liefde is belangrike temas by dié retraitesentrum.

Dít, dié “dans met God”, is volgens Christo die wese van die Christelike godsdiens. En die beeld van ’n dans, wat uit die vroeë kerk kom, is veelseggend. Dit vertel van ’n intieme verbintenis van ’n gelowige met God. Dit vertel van saam beweeg, op dieselfde ritmes. Dit sê soveel van die vreugde van ’n lewe saam met God.

Baie mense, sê Christo, meen ons geloof gaan net daaroor dat Christus gesterf het vir ons sonde en dat ons uit dankbaarheid leef.

“By all means – maar dit is graad een!” voeg hy by.  “Sondevergifnis is nie die somtotaal van die geloof nie. Dis die toegangskaartjie tot die dans.”

Hy gee ’n voëlvlug oor aspekte van die Christelike spiritualiteit.

So is daar sosiale geregtigheid, die tradisie van die profete, van mense soos aartsbiskop Desmond Tutu. Dis die tradisie om Jesus in die armes te ontmoet, soos Matteus 25 leer. Sonder God word dit egter blote politieke aktivisme of maatskaplike werk.

Daar is die evangeliese tradisie van mense soos Billy Graham wat oproep tot bekering, maar sonder intimiteit met God, in harde, koue fundamentalisme ontaard.

Die sakramentele spiritualiteit leef in verwondering van die alledaagse, maar sonder God word dit sekularisme.

Die charismatiese tradisie lê klem op die buitengewone, maar sonder God word dit ’n soeke na buitensporige ervarings.

Daar is die heiligheidstradisie wat klem daarop lê dat mense die vrugte dra wat by die bekering pas. Sonder God word dit farisese skynheiligheid.


Labirint

Een van die geestelike dissiplines waaraan Christo sy besoekers blootstel, is die stap van die labirint. ’n Labirint is nie ’n doolhof met doodloopstraatjies waarin ’n mens verdwaal nie. Dis ’n enkele pad wat van buite af inkronkel, soms naby aan die sentrum verby beweeg voordat dit weer uitkronkel, maar uiteindelik lei na ’n ruspunt in die middel, die simbool dat God die middelpunt van ons lewens is.

Dit is ’n ou verskynsel wat reeds vroeg in die Christelike tradisie voorkom, maar ook deur ander godsdienste gebruik word.

Die labirint is ’n metafoor vir die lewenspad wat jou inlei na ’n ontmoeting met God toe. Op pad in dink jy aan wat jy moet aflê, en na die ontmoe­ting met God, op pad uit, dink jy aan wat jy moet opneem.

By NaEden is daar ’n reghoekige labirint met takke uitgelê op gras op ’n oop erf langs die huis. In die sentrum staan ’n houtkruis.

Daar is mense vir wie dit baie waardevol is. Hy vertel van ’n man met ’n huwelikskrisis wat in die eie tyd een middag die labirint gaan stap het, dalk ’n halfuur lank by die kruis in die sentrum vertoef het, en getransformeerd daar uitgekom het. Daar het hy vir sy huwelik gekies … en die huwelik is gered.


Die verwaarloosde stiefkind

En dan is daar die mistiek. Die “verwaarloosde stiefkind,” noem Christo dit. Die mistiek gaan oor die innerlike, direkte en onbemiddelde ervaring van God binne jou. Daar, in hierdie intimiteit met God wat ander spiri­tualiteite voed, vind transformasie plaas.

Dit is hiermee dat Christo vir mense help: met die groter bewussyn van God se teenwoordigheid.

Dit is nie iets wat vir mense uit die Afrikaanse kerklike tradisies sommer maklik kom nie. Hy vertel dat hy in ’n stadium ’n geestelike begeleier gehad het, ’n Katolieke non, wat vir hom gevra het: “Do you feel the Trinity dancing in you?” Toe hy vir haar vra wat sy daarmee bedoel, het sy net gesê: “Let’s move on …”

Die begrip vir wat sy bedoel het, moes by hom groei.

Hy verduidelik op ’n ander manier. “Daar is mense wat graag vra: Wat sou Jesus gedoen het?”

Dis eintlik ’n dom vraag, sê Christo. As jy in ’n Christelike huis grootgeword het, sou jy geweet het wat Jesus sou doen. Hy sou mense ingesluit het in sy kring. Hy sou die tweede myl geloop het. Hy sou liefgehad het.

Die regte vraag om te vra, is: Hoe het Jesus dit reggekry? En die antwoord daarop is: Deur ’n intieme verhouding met die Vader.

Hoe word ’n mens meer bewus van God se teenwoordigheid? Christo sê daar is verskillende maniere. Een is deur die natuur.

As ’n mens vroegoggend op die strand gaan stap en kyk hoe die son bo die see verskyn en ’n nuwe dag gebore word, verg dit nie veel verdere verduideliking nie.

’n Ander manier is deur die geestelike dissiplines.

Daaglikse ritme

Daarom dat daar ’n ritme is in die gebeure by NaEden.

Die dag begin met die vroeë stap langs die see, die indrink van die skoonheid van die skepping, Simson en Tanya se spel in die vlak water. Daar is ’n ontspanne rustigheid.

Terug by die huis is daar ’n tydjie om te stort en skoon te maak en dan is daar ’n eerste sessie in die huis se bovertrek of kapel, ’n vertrek wat net onder die dak ingerig is.

Daar word die dag begin met ’n Lectio Divina, ’n eeue-oue Christelike manier van omgaan met die Woord. Dit is ’n geestelike dissipline wat ingeoefen word tydens ’n mens se verblyf by NaEden.

Daarna volg ontbyt en ’n tweede sessie in die bovertrek. Christo volg nie ’n vaste resep nie, maar het ’n arsenaal van temas waaruit hy vir elke groep volgens hulle behoefte kies en wat hy met hulle deurwerk. Soms gebruik hy ’n gedig of musiek. Teologies word daar groot klem gelê op die Drie-eenheid.

En as dit vir ’n spesifieke persoon nodig is, kom daar iets soos handwerk of houtwerk op die program.

In die middel van die dag, aan weerskante van middagete, is daar geleentheid om die dissipline van stilte en afsondering te ontgin. Daar kan leeswerk of ander “huiswerk” wees wat uit die oggendsessie voortspruit, maar laatmiddag volg die derde sessie.

Na aandete, wat dalk ’n piekniek op die strand kan wees, volg die laaste sessie wat die dag weer met Lectio Divina afsluit.

’n Naweek is eintlik te kort vir ’n retraite, sê Christo. Hy verkies dat mense vir minstens drie of ideaal gesproke vir vyf dae kom.

Daar kom baie mense met trauma van verskillende soorte na NaEden toe. Huweliksverbrokkeling en egskeiding is ’n groot tema. Maar dit kan ook wees dat iemand ’n kind aan die dood afgestaan het, of ander trauma beleef het.

Die ideaal is egter dat mense nie wag vir trauma nie, dat hulle byvoorbeeld vir huweliksvoorbereiding kom, of vir geestelike groei, sodat hulle beter voorbereid is om trauma te hanteer as dit die dag gebeur.


Lectio Divina

Christo onderskei ses fases in die Lectio Divina. Dit begin met ’n tydjie van stilword voor God, ’n tyd waarin ’n mens tot God nader en jouself voor Hom stel.

Die tweede beweging is die lees van ’n teksgedeelte. Maar dis ’n ander soort lees as koerantlees. Dit gaan nie in die eerste plek oor die kry van inligting nie. Dis ’n stadige lees waarin God aan die Woord is, ’n luister met die oor van die hart eerder as die verstand, het een van die kerkvaders gesê.

Die derde beweging staan bekend as “meditatio” of nadenke. Dit is in hierdie fase dat Christo ruimte sien vir die krities-historiese lees wat teologiestudente op fakulteit aanleer. Lectio Divina se nadenke is egter ook meer as net ’n proses van die verstand. Dis ’n nadenke met die oog daarop dat die Woord van God ook al meer deel van ons hart word.

Dan volg “oratio” of gebed wat antwoord op die hoor van God se Woord. Dis ’n persoonlike gebed, maar nie ’n selfgerigte gebed nie. Die gedagte is om deur die gebed dieper in die lewe van Christus in te groei.

Die vyfde fase is kontemplasie. Dan kom ’n mens tot rus by God. Daar is iets van Psalm 37:7 se “in die stilte vertrou op die Here” daarin.

En pleks van die einde van die proses, dui dit op ’n nuwe begin, want die proses van Lectio Divina loop uit op die sesde en laaste fase, naamlik transformasie. Dis ’n beweging van duisternis na lig, van slawerny na vryheid, van twyfel na geloof, van onsekerheid na hoop, van vrees na vreugde, van selfgesentreerdheid na Christusgesentreerdheid.


Veerlig

’n Retraite onder leiding van Christo de Klerk is ’n verfrissende belewenis. Die getuienisse van vernuwing, van transformasie, sien ’n mens oor en oor as jy besoekers se kommentaar in NaEden se besoekersboek lees.

“You have opened my eyes about me, Christianity and the love of God …” het iemand geskryf.

Daar is getuienisse van mense wat sê hulle het rus en vrede gevind, van mense wat sê daar het nuwe diepte gekom in hulle verhouding met God, van mense wat op verskillende maniere te kenne gee dat hulle weer hoop gevind het.

Miskien word dit alles saamgevat deur hierdie opmerking: “I arrived with a heart as heavy as a rock, I leave with a heart as light as a feather.”

▶ Kyk ook na naeden.co.za

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top