Soms gebeur dit dat die lewe mense platslaan. Maar as God se liefde deur sy mense weer in so ’n stuk doodsheid invloei, kom daar nuwe lewe. Dan staan so iemand op en blom hy of sy weer. Jannie Pelser vertel so ’n verhaal.
Een besorgde lidmaat vertel van ’n man met twee kinders wat by die plaaslike Spar op ’n sogenaamde Dawid-harp liedjies speel. Die man beweer hy is ’n musikant wat musiekinstrumente vervaardig. Hy bly in die omgewing op ’n terrein wat aan ons bekend is. Die terrein is vervalle en het in onbruik verval.
Ek en Wimpie, my kollega, klop ’n uur of wat later aan die deur van ’n rondawel. ’n Vriendelike maar duidelik verwaarloosde man nooi ons binne. Ons leer hom eers ken as Solomon, maar kom later agter hy is ook soms William, of Glen.
Twee pragtige kinders – ’n seun van om en by sewe en ’n dogtertjie van vyf – is skamerig op ’n afstand. Hulle lê op ’n dubbelbedmatras op die vloer en speel tergend met mekaar.
Tasse staan die hele wêreld vol met wasgoed en boeke wat oral uitpeul. Iewers staan ’n gasstoof met verskeie eierdoppe daaronder.
Liefde vir musiek
Die man vertel van sy liefde vir Afrika-musiek, reise in Afrika, optredes saam met bekende musikante. Uiteraard begroet ons die inligting met huiwering. Immers, dis nie die eerste keer dat ’n mens goedgelowig mislei word deur ’n kansvatter nie. Hy maak daarop aanspraak dat hy ’n BMus-graad het, onderwys studeer het en musiekinstrumente vervaardig.
Versigtig, sonder dat hy dit agterkom (miskien het hy) vra ek verkennende vrae. Hy vertel van sy kwalifikasies aan die Universiteit van Kaapstad (BMus, HOD), die tyd toe hy ingestaan het vir ’n kollega en doseer het, sy liefde vir Afrika en die vasteland se musiek.
Hy trek ’n klein xilofoon nader en verduidelik hoe melodieë daarop gespeel word. Dis duidelik dat hierdie man óf baie vooraf huiswerk gedoen het, óf inderdaad alles is waarop hy aanspraak maak.
Hoe dan die verwaarloosde toestand en kinders wat steeds geen formele skoolopleiding ondergaan het nie? Hierdie vrae moet oorstaan totdat ons vertroue tussen ons gevestig het.
Die gemeente en ander weldoeners sorg dat daar basiese meublement kom, beddens, matrasse en komberse. Klere vir homself en die kinders, kos en ander benodigdhede.
Sy storie
Ek raak bevriend met hierdie stukkende musikant. Hy vertel van verbale en fisiese mishandeling aan die hand van sy eggenote en haar vriende. Meer as een tand het in die slag gebly in die proses. Vir een of ander rede kon hy lank nie die innerlike krag vind om daaraan te ontsnap nie.
Later vlug hy letterlik van hierdie mense af weg. Die instrumente wat hy gemaak het asook sy gereedskap bly in die slag. Sy menswaardigheid is tot so ’n mate afgetakel dat hy bykans weerloos op straat beland.
’n Universiteitsvriend vertel hom van die rondawel waar hy hom en sy twee kinders later bevind.
Nou volg ’n proses van inligting verifieer. Telkens is hy onbeskaamd eerlik en gee sy volle samewerking. Afskrifte van sy kwalifikasies word van die universiteit aangevra. Sy motorlisensie wat lank reeds verval het, word hernu.
Die kinders word in ’n skool geakkommodeer, nie sonder probleme nie. Hulle het ’n buitengewone verantwoordelikheidsin teenoor hul pa en wil hom nie alleen los nie.
Ek ontmoet sy suster. Sy, ’n senior persoon by die vervoerdienste en duidelik baie bekwaam, bevestig alles wat William vir ons vertel het. Haar broer is buitengewoon begaafd maar het moed opgegee. William het ’n ruk lank by hulle tuisgegaan maar die reëling kon nie werk nie.
Ek nooi William om van ons musiekoefeninge by te woon. Hy skuif agter die klavier in en dis duidelik dat dit nie die eerste keer is nie. Hy maak hom tuis agter die perkussieseksie en iets in hom begin lewe. Hy kyk skrams na my en glimlag selfvoldaan.
Onverwagse oproep
Dan kry William ’n onverwagse oproep van ’n vorige kollega. Daar is ’n pos beskikbaar by ’n departementele musiekskool in Stellenbosch. Hy vertrek bykans oornag en laat die kinders vir eers in sy suster se sorg.
Ek besoek William ’n maand of drie later. Sy glimlag strek van oor tot oor. Hy vertel hoedat die gemeente se omgee sy menswaardigheid herstel het. Die saam kuier, gesels, raadgee en luister het baie gehelp. Hy het in ’n beskeie huis ingetrek en tref reëlings dat die kinders by hom kon aansluit.
Ek wonder oor myself. Waar het ek my geloof in ander verloor? Hoekom wantrou ek mense wat swaarkry en waarom vermoed ek dat daar ’n stuk onwilligheid om te verander by hulle teenwoordig is?
William het my duidelik verkeerd bewys. Een gemeente se geloof, omgee en goeie bedoelings het ’n gesin van desperaatheid gered.
Naskrif: William, in Pretoria vir ’n musiekkonferensie, stuur vir my ’n boodskap: “Jannie, I am now reunited with Aaron and Hanna (sy twee kinders) and am returning to Cape Town with them. Things are really moving from strength to strength since we met and started experiencing the overwhelming support from your congregation. Thank you for your prayers and support.”
▶ Ds Jannie Pelser is predikant van die gemeente Prisma, vroeër bekend as Rant-en-Dal in Krugersdorp.