Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Boek vir twyfelaars wat glo

DIT KOS GUTS OM TE BLY GLO – Hoe om in moeilike dae God ernstig op sy Woord te neem.
Deur Stephan Joubert
Heruitgawe uitgegee deur Lux Verbi, 2015


Geloof in God Drie-enig kom nie aldag maklik nie. Geloof bestaan nie maar uit ’n paar maklike stappe of ’n klinkklare formule wat ’n mens moet toepas as ’n kortpad na geluk nie. Geloof is meermale ’n opdraande stryd. Dit verg moed om Christus te vertrou in ’n deurmekaar wêreld – veral wanneer die lewe ’n paar harde houe na jou kant toe slaan. Dan is dit meer as betekenisvol om goed vertroud te wees met die kern van die Woord en nie vir kitsoplossings te val nie.

Hierdie publikasie wil die leser se oë rig op ’n besonderse faset van die evangelie: ’n boodskap wat reke­ning hou met al die swaarkry, onsekerheid, teleurstel­lings, vrees, skuldgevoelens en pyn in die werklikheid van ons daaglikse bestaan.

Die begeleiding wat Joubert gee, word in agt hoofstukke met prikkelende titels aangebied: Gewone gelowiges maak ’n verskil; Om in ’n hoek in God te glo; Daar is plek vir twyfelaars by God; Vers 2 van die evangelie: Swaarkry!; Geloof agter die doringdraad; Die moed om in God te glo; ’n Stroom-op geloof; Toets God.

Die styl van Stephan Joubert is nie teoreties nie, maar baie prakties en verstaanbaar. Soos wanneer hy skryf dat die Bybel gelowiges nie teken as supermense wat ’n paar senti­meter bokant die werklikheid sweef nie. Of: “Ware geloof vra na­tuurlik ook dat jy God nou en dan trompop moet kan nader en eerlik met Hom praat totdat die wolke voor jou eie stukkie son uiteindelik begin wegskuif.”

Hierdie boek is ’n moet-lees vir Christene wat deur donkertes gaan en wat verlang na antwoorde en deurbrake op die pad van geloof.

▶ Dr Ernst van der Walt is onder meer ’n Nuwe-Testamentikus. 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top