Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Otto Dix se triptiek Metropolis.

Ellende wag vir die rykes


’n Kunswerk wat nie met die eerste oog-opslag as religieuse kuns beskryf sou kon word nie, is die skilderwerk Metropolis (Groot Stad) van die Duitse skilder Otto Dix (1891-1969). Hy was veral bekend vir sy meedoënlose uitbeelding van die brutaliteit van oorlog en van sosiale omstandighede in die Weimar-republiek in Duitsland ná die Eerste Wêreldoorlog.

Haglike ekonomiese omstandighede in dié samelewing het aanleiding gegee tot groot ongelykhede tussen mense wat hulle in die uiterstes van rykdom en armoede bevind het – met feitlik geen middelklas om die skreiende kontras tussen ryk en arm te versag of te verbloem nie.

Werkloosheid, kosskaarste en bedelary was aan die orde van die dag, terwyl groot getalle oorlogverminktes in die strate van die meeste stede in Duitsland aangetref kon word.

Met sy Metropolis gee Dix uitdrukking aan hierdie omstandighede en lewer hy tegelyk felle sosiale kommentaar op die skreiende ongelykheid in die samele­wing van sy tyd. (’n Mens het natuurlik nie ’n groot verbeelding nodig om die parallelle tussen die destydse situasie in Duitsland en die omstandighede in Suid-Afrika vandag en die toepaslikheid van Dix se sosiale kommentaar raak te sien nie.)

In die middelste paneel van sy werk gee Dix ’n uitbeelding van ’n tipiese dekadente dansparty van ’n groep superrykes. Die vroue is in helderkleurige en uitspattige aandgewaad geklee en behang met ’n oordaad juwele. Blêrende dansmusiek gee die toon vir ’n plesierige gefuif aan.

Die oorheersende atmosfeer is dié van sorgelose hedonisme sonder enige klaarblyklike bewustheid van die omstandighede wat in die sypanele uitgebeeld word.

In die twee sypanele sien ons tonele uit die teenoorgestelde kant van die samelewing. Anders as in die middelste paneel is die atmosfeer hier dié van uiterste armoede en ellende. In albei panele tref ons prostitute en verminkte soldate aan.

Die figure in die regterkantste paneel lyk so effens beter daaraan toe as dié aan die linkerkant: die prostitute aan die regterkant dra dieselfde soort klere as die vroue in die middelste paneel, terwyl dié aan die lin­ker­kant klere van baie goedkoper materiaal dra. Ook die oudsoldaat regs wat nog ’n poging aanwend om te sa­lueer, lyk minder ellendig as die twee in die linkerpaneel.

Die toneel links is donker en somber, met die prostitute wat hulself in ’n straat onder ’n brug beskikbaar stel, terwyl die regterkantste toneel iets van die skel lig van die middelpaneel vertoon in ’n goedkoop poging om die dekadensie van die rykes na te boots.

Die enigste aanduiding dat Dix met sy skildery op subtiele wyse aansluiting vind by die Christelike kunstradisie, is die feit dat die werk in die vorm van ’n triptiek geskep is. Hierdie soort kunswerk wat in drie (meesal afsonderlike) seksies verdeel is, met die middelste paneel gewoonlik groter as die twee sypanele, was in die Middeleeue die standaardformaat vir altaarskilderye in kerke dwarsoor die Christendom.

Die middelste paneel is in die meeste gevalle ’n uitbeelding van een van die sentrale gebeurtenisse uit die heilsgeskiedenis (soos die kruisiging, opstanding, of hemel­vaart van Jesus), terwyl daar in die sypanele gewoonlik figure uitgebeeld word wat die gebeure in die middelste paneel gadeslaan.

Deur sy skildery op dié wyse in te klee verdiep Dix sy sosiale kommentaar tot die vlak van ernstige morele kritiek – byna godsdienstig van aard. Die dekadensie van sy tyd word as ’t ware uitgebeeld as die omgekeerde van die groot heilsgebeure van die geloofstradisie.

’n Mens sou hierdie kunswerk dus kon beskryf as ’n soort “onheilsgeskiedenis” waar die verlossingsgebeure vervang word met die teendeel daarvan: onreg en verontmensliking.

Vir my roep hierdie skildery met sy kontrasterende taferele Lukas se weergawe van Jesus se saligsprekinge in herinnering. Anders as in Matteus 5 word die saligsprekinge in Lukas 6:20-26 aangevul met ’n reeks ellende-uitsprake oor die rykes wat hulle vol eet, terwyl ander honger ly, en wat sorgvry leef, terwyl ander swaarkry.

Soos in Dix se skildery lewer Lukas hiermee ook skerp kritiek op die gruwelike onreg van ’n situasie waar ongelykheid tussen groepe mense deur samelewingstrukture en -prosesse in stand gehou word.

Hierdie tema met die Dix-triptiek as begeleidende kunswerk kan goedskiks iewers in Koninkrykstyd aangespreek word. Die koninkryk van God wat deur Jesus aangekondig is, is immers ’n koninkryk waar die ongelyke behandeling van mense gekonfronteer en getransendeer word en waar die radikale gelykwaardigheid van alle mense gevestig word.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top