Hoewel hy in ’n stadium sy geloof verloor het, beskryf Barnabé Anzuruni Msabah steeds sy lewe as ’n “reis van hoop”. Psalm 118 is sy skuil-gebed. Barnabé beteken: die bemoediger. Die aand voordat hy sy doktorsgraad in Teologie van die Universiteit Stellenbosch ontvang het, het Annalise Wiid hierdie merkwaardige man ontmoet.
Hy probeer die vlugtery sagter stel: Relocate. Tog beskryf hy dit as: “We were literally running – civilians from rebels.”
Op 16, ná jare in ander lande, vlug Barnabé, saam met sy broer (20) en hul ouma oor die Tanganjika-meer na Tanzanië. Sonder sy ouers en sussies. “No destination!” Onverdunde vrees. Saam met hordes ander in ’n klein, gevaarlik oorlaaide houtbootjie ingebondel, vlug hulle in die nag, onder dekking van die donker.

Hy onthou so goed: Op 16 Desember 1996, om twee-uur die middag, klouter hulle iewers in Tanzanië agterop ’n oorvol lorrie – moeg, siek, beangs, gedisoriënteerd. Hulle word 260 km verder in die boendoes by ’n vlugtelingkamp afgelaai. Daar is slange en leeus.
Hulle mag vir hulself ’n grondjie uitmeet: 15 by 25 treë. Hulle kry ’n panga en ’n stuk seil. En ’n koskoepon vir ’n sak mieliemeel, ertjies, sout, olie, seep en (altyd te min) water – net eenmaal elke twee weke.
Hulle kap bome af. Timmer ’n soort van huisie aanmekaar. Barnabé en sy broer sorg vir hul ouma. Mettertyd vul daardie kamp op met 80 000 mense!
Skool onder ’n boom
Later begin hulle ’n skool onder ’n boom. Sy broer het reeds matriek gehad. Hy leer hulle alles wat hy weet. Nog later bou hulle ’n skool van hout. Dit trek aandag. Hulle kry onverwagse en baie welkome hulp van Unicef en Unesco.
In 1998 kom sy ouers en sussies uiteindelik ook by die kamp aan. Hulle kry mekaar sowaar tussen die derduisende mense. Ná twee jaar van absoluut geen kontak nie, is hul hereniging onbeskryflik.
Hemel-weet-hoe kry sy pa, ’n onderwyser, kibali – spesiale toestemming dat Barnabé na Kigoma se ambassade-skool kan gaan vir matriek. Net drie kinders uit die 80 000 mense kry kibali.
Barnabé is sewe tale magtig. Jy leer dit noodgedwonge aan so ver jy vlug. Ná matriek, vertel hy, “we jumped the rivers to South Africa”.
Hy werk in Durban as karwag, haarsalon-assistent, tuinier. Hy stap sekuriteitpatrollie deur die industriële gebied. Verkoop goeters by verkeersligte. Hy wil so graag verder studeer, maar “the challenge of money …” Hy glimlag nou gelate daaroor, met opgetrekte skouers. “It slipped away like that.” Sy droom. Om méér te word!
’n Koreaanse sendeling, dr Kim, word wonderbaarlik sy weldoener. Hy stuur Barnabé Bybelskool en later Fort Hare toe. Barnabé verwerf sy graad in Teologie – die vlugteling-seuntjie wat eens onder ’n boom skool gegaan het. Later verwerf Barnabé sy meestersgraad in Teologie aan die Universiteit Stellenbosch in gemeenskapsontwikkeling. Hy bly ses jaar lank in Stellenbosch.
Daar word hy deel van die leierskap van die Stellenbosch International Student Fellowship, ’n bediening van die NG Kerk. Die gemeente word sy familie. Ds Jurie Goosen beskryf hom as ’n “briljante student en toegewyde gelowige”.
’n Doktorsgraad
Vanjaar verwerf Barnabé sy PhD in Teologie. Hy fokus op The Empowerment of Hope.
Hoop het vir hom onuitwisbaar werklik geword in 2011, toe hy met lewensbedreigende nierversaking gediagnoseer is. Hoe behou ’n mens lewensmoed as dít jou ook nog tref, ná alles wat jy reeds deurgemaak het?
Ná twee jaar op dialise waarsku die dokters dat hy moontlik nog net ses maande sal oorleef sonder ’n nieroorplanting. Hoe verval ’n mens dan nie in volslae wanhoop en mismoedigheid nie? Hy sê inteendeel: “That was when hope came alive for me.”
Barnabé was, uitsonderlik en onverklaarbaar, die eerste mens met vlugtelingstatus wat op Suid-Afrika se oorplantingslys geplaas is. Hy is nou nog verstom daaroor. Dat hy “nie soos ’n weggooimens behandel is nie”.
Ná ’n lang soektog het hulle ’n geskikte skenker gekry, maar toe die dokters hom weer voor die operasie toets, bevind hulle hom gesond. “By God’s grace,” glimlag Barnabé baie breed. Hy is steeds oorweldig deur die wonder. “It increased my hope. Me … a mere refugee.”
Vlugtelinge verstaan onvoorspelbaarheid. Tydelikheid. Hulpeloosheid. Baie van hulle verloor, ná jare van intense stryd om oorlewing, alle hoop. Nie begenadigde Barnabé nie. Hy wil juis nou, ná sy studies, mense – veral vlugtelinge – bemagtig en bemoedig met hoop.
Barnabé se vriende sê: “Hy het hierdie verrassende joy. Hy staar hom nie met ’n slagoffer-gesindheid blind teen die onoorkomelike nie. Hy laat hom eenvoudig nie van beperkinge onderkry nie. Hy sien nie die muur nie. Hy sien die venster!”
