In die ou bedeling was baie dienspligtiges bereid om hulle lewe te gee vir hulle land – en party het. Noudat die land hulle weer nodig het, moet hulle nie op die pawiljoen gaan sit nie.
So gesels Jan Malan, afgetrede kolonel, in sy kantoor in Lynnwood, Pretoria. Dis ’n hanetreetjie van Lynnwood se NG Kerk, waar hy lidmaat is.
As voorsitter van die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV), ’n veteranevereniging, en in samewerking met die land se kerke, help hy beplan aan die versoeningsaksie wat saamval met die herdenking van die 1976-onluste in Soweto – en wat onder meer ’n groot saamtrek op die Orlandostadion op 11 Junie insluit.
Sy rol is onder meer om die dienspliggenerasie – wit mans wat nou tussen 40 en 70 jaar oud is – te betrek.
As gevegsoffisier het hy in die 1980’s baie oorlog gemaak in Angola. Die troepe onder sy bevel was hoofsaaklik dienspligtiges. Hulle was onder meer verantwoordelik vir die vernietiging van Fapla se 21-brigade, vertel hy.
Na die politieke oorgang in Suid-Afrika was hy twee jaar lank hoofinstrukteur van die stafkursus in die destydse Voortrekkerhoogte. Onder die offisiere wat hy opgelei het, was drie latere hoofde van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag: genl Siphiwe Nyanda, genl Godfrey Ngwenya en genl Solly Shoke.
Malan het die oorlog en die vrede gesien, die ou SAW en die nuwe SANW. As hy gesels, herinner dit soms aan die boodskap van Prediker 3: Daar is ’n tyd vir alles. Daar is ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede, ’n tyd om te breek en ’n tyd om te bou.
Nadat hy weg is uit die weermag, het hy anders as baie kollegas nie sy militêre vernuf in Afghanistan of in Afrika gaan verkoop nie. “Ek het te veel oorlog gesien. Dis nie ’n idille nie,” sê Malan.
Hy was sedertdien onder meer betrokke by die skep van verskeie veiligheidsbuurte, maar het ook voorsitter geword van die SAWV.
Wêreldwyd hou veterane hulleself veral met drie dinge besig, sê Malan. Dit is die herdenking van gebeure in die verlede, die gee van erkenning, en met versoening. Juis omdat hulle oorlog gesien het, weet veterane ’n mens moet ’n ander pad kies, sê Malan.
In die gesprekke met die kerke het hy ook die leiers van die June 16 Foundation leer ken, en begin om met hulle saam te werk. Hulle het skole in Soweto besoek waar die opstande destyds begin het, en daar is planne om hierdie skole te help om baie beter skole te word.
Sy gedagtes gaan baie verder as versoening. Dit gaan oor die bou van die toekoms.
’n Mens kan nou ’n debat voer oor wie die oorlog destyds gewen het, sê Malan, maar die belangrike ding is dat Suid-Afrika nog nie die vrede gewen het nie. Niemand is tevrede met hoe die land nou lyk nie. Dis waar veterane nou kan help, sê hy.
Telkens as hy praat oor bou aan ’n nuwe toekoms, noem hy sy twee kleinkinders vir wie hy dit doen.
Vir mense wat bang is hulle gaan verneder word of voel hulle gaan van voor af in die beskuldigdebank staan, sê Malan dat hierdie ’n Christelike aksie is. Dit dra die boodskap van hoop en versoening. Politici word glad nie betrek of genooi nie.
Dis nie nou die tyd om op die pawiljoen te sit en te kritiseer nie. Dis nou tyd om ’n verskil te maak waar jy is.
Daarom nooi hy destydse dienspligtiges: Kom woon die byeenkoms in die Orlandostadion by. En as iemand vrae het of betrokke wil raak, kan hulle met die SAWV by sawv@milvets.co.za skakel.
