Een van die mees indrukwekkende kunswerke van die twintigste eeu is die massiewe muurbehangsel, Christ in Glory, in die Coventry-katedraal in die Verenigde Koninkryk. Dit is deur die Britse kunstenaar, Graham Sutherland (1903-1980) ontwerp en was destyds toe die nuwe katedraal in 1962 ingewy is, met sy afmetings van 22 meter by 12 meter die grootste geweefde tapisserie in die wêreld.

Die nuwe katedraal in Coventry is reg langs die bouval van die vorige katedraal opgerig nadat daar besluit is om dié gebou uit die middeleeue, wat tydens ’n bomaanval in die Tweede Wêreldoorlog in puin gelê is, nie te herbou nie maar in sy beskadigde vorm te behou. Die oue en die nuwe is op só ’n wyse naas mekaar geplaas dat die blik van die Christusfiguur in die tapisserie gerig is op die behoue ruïne wat as blywende simbool van die verskrikking van oorlog dien.
Die kunswerk beeld die verheerlikte Christus uit wat hoog bo die omringende werklikheid uittroon en uitdrukking gee aan die goddelike triomf oor alle aardse magte van chaos en vernietiging. Dit is egter nie koue, afsydige triomf wat uitgebeeld word nie: die Christusfiguur is geklee in wat klaarblyklik bedoel is om die kleed en voorskoot van ’n nederige skrynwerker voor te stel. In sy hande hou hy ’n reghoekige figuur vas wat lyk soos die model wat deur ’n vakman vir sy handewerk gebruik word.
Ook die merke van die kruiswonde in die hande en voete van Christus herinner daaraan dat die oorwinning wat Hy behaal het, deur sy pynlike dood aan die kruis heen geskied het. Hierdie motief word versterk deur die uitbeelding van die kruisiging in die heel onderste deel van die tapisserie, met twee engele weerskante van die kruis wat hulle gesig bedek om nie die ontsetting van die kruisgebeure te aanskou nie.

Die opdrag aan Sutherland het onder andere bepaal dat die gelaat van die Christusfiguur uitdrukking moet gee aan “victory, severity and great compassion”. Daarmee word aangedui dat Christus se oorwinning aan die een kant verstaan moet word as ’n felle oordeel oor die Bose, maar aan die ander kant ook as bevestiging van die oormag van God se liefde en ontferming.
Weerskante van die Christusfiguur is daar wat in die Christelike kunstradisie bekend staan as ’n tertramorf, oftewel ’n voorstelling van die vier evangeliste. Die wyse waarop hulle uitgebeeld word, is ook in lyn met die tradisie en is gebaseer op die beskrywing van die vier lewende wesens rondom die troon van God in Openbaring 4:6 en 7: Markus word verteenwoordig deur ’n leeu, Matteus deur ’n bulkalf, Lukas deur die figuur van ’n mens en Johannes deur ’n arend. Die oorwinning van Christus word op hierdie wyse aangedui as die hart van die evangelieverhaal en dus ook as “goeie nuus” (euangelion).
Regs van die Christusfiguur (tussen die arend en die leeu) sien ons ’n voorstelling van die oorwinning van die aartsengel Migael in sy stryd teen die Bose (sien Op 12: 7 en 8). Die verband tussen hierdie oorwinning oor die Bose en Christus se kruisdood word aangedui deur die nagmaalbeker reg onder die Christusfiguur: In die beker is daar die figuur van ’n draak – ’n simbool van die Bose – wat verswelg word deur die “bloed van die Lam” (Op 12:11).

Aan die bokant van die tapisserie is daar ’n uitbeelding van ’n duif wat op die Christusfiguur neerdaal en wat wys op die doop van Christus waar Hy deur die Heilige Gees bekragtig is as die geliefde Seun van God. Sowel die kruisdood van Christus as sy oorwinning oor die dood en die chaosmagte van die Bose word hiermee in verband gebring met die ewige bedoeling van God soos dit in Christus en deur die Heilige Gees geopenbaar word.
Tussen die voete van die Christusfiguur is daar ’n mensefiguur. Enersyds dui dit op die oorweldigende grootsheid van Christus in vergelyking met die mensdom, maar andersyds ook op die beskerming wat deur Christus aan mense gebied word.
In een reusagtige, samehangende werk het die kunstenaar dit reggekry om op verbeeldingryke wyse die kern van die evangelieverhaal vas te vang: sowel die vernedering as die verheerliking, nie net die neerlaag aan die kruis nie, maar ook die oorwinning oor die mag van die Bose. In die konteks van die Coventry-katedraal dien dit op aangrypende wyse as bevestiging van God wat in Christus steeds teenwoordig is en triomfeer oor alle destruktiewe magte wat poog om sy liedesbedoeling met die mensdom te ondermyn.
▶ Dr André Bartlett is die hoof van Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.