Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In Hosea word die verhouding tussen God en sy volk deur die metafoor van ’n huwelik uitgedruk. God as eggenoot maak sy ontroue eggenote, sy volk, die hof. Ten spyte van Israel se ontrou, bly God getrou aan sy ontroue “vrou” en verklaar Hy sy onvoorwaardelike liefde aan haar.
Hosea 11:8-9 is ’n getuienis van God se onvoorwaardelik verbintenis aan sy mense. In die voorafgaande verse word in beeldryke taal verduidelik hoe lief die Here sy volk het en hoe Hy hulle van kleins af gedra het. Ten spyte daarvan weier die volk om hulle tot God te bekeer. Dan volg ’n oordeelsaankondiging (11:7).
Skaars is die oordeel aangekondig, of die Here verander van plan. Die volk wil hulle nie tot die Here bekeer nie en dan “bekeer” sy hart Hom tot die volk.
In die Hebreeus staan daar letterlik in Hosea 11:8 “self hy het hom omgedraai – meer nog – my hart; daarmee saam – hulle het warm geword my medelye/passie”. Die volk weier om na God te draai, toe draai God se hart maar weg van sy woede.
Adma en Sebojim (11:8) was twee stede wat saam met Sodom en Gomorra vernietig is. Israel se ontrou is so erg dat die Here met hulle behoort te doen wat Hy met die vyf stede gedoen het, naamlik om dit totaal en al met vuur en swael te vernietig.
Tog kan God dit nie oor sy hart kry nie. Die ironie hier is dat hoewel daar nie by Israel ’n draai, of omkeer kom nie, daar wel by die Here ’n omkeer kom. Hy keer Homself om van sy woede. Hy draai weg van sy woede en laat sy liefde seëvier.
Slegs in Hosea 11:9 word daar in dié boek na die Here se heiligheid verwys. Dit hou verband met sy verlossing, genesing, sy liefde vir Israel en nie met sy woede of oordeel nie. Dit gebeur “omdat Hy God is en nie ’n mens nie”. God is anders as mense daarin dat waar mense met woede reageer, daar reageer Hy met liefde.
Ons dink ons bring mense nader én ons handhaaf God se heiligheid, deur die ander uit te sluit. Volgens Hosea 11 word God se heiligheid nie in sy straf geopenbaar nie, maar in sy liefde.
▶ Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.
