Middestadsbedieninge soos dié van Mes, is soms ingewikkelde werk met baie fasette. Maar in die hart daarvan is mense wat met mense werk – en die oneindige liefde van die Here. Neels Jackson vertel.
Hope Hill? Nee, sê die mense van Mes, hulle noem hierdie stukkie park teen die hang van Hillbrow liewer Hope Hill.
Jare gelede sou dit ’n mooi plek gewees het, ’n lieflike park met ’n uitsig. Die soort plek waarheen ’n verliefde jong man sy meisie kon bring vir ’n romantiese kuiertjie terwyl ’n kombers van stadsliggies vir hulle flikker.
As kinders het hulle daar gespeel, selfs geswem, vertel Tebza Mabye, ’n jong man wat in die omgewing grootgeword het, en nou by Mes werk.

Nou het dit ’n hool geword. Oral lê gemors rond. Teen die heinings het mense van plastiek en wie weet wat nog vir hulle slaapplekke geprakseer. Plek-plek staan groepies mans rond en gesels.
Vir die oningewyde oog is dit nie altyd duidelik wie die dwelmhandelaars is en wie hulle kliënte nie.
’n Jong meisie met die medalje van ’n vervloë Spar Ladies Race om die nek dwaal rond, klaarblyklik in ’n dwelmwaas. Elke nou en dan vertrek haar gesig in woede en sy spoeg ’n onontsyferbare woord of twee uit. Haar wêreld is ’n slegte plek.
Soms, so word vertel, blaas iemand ’n fluitjie en dan storm almal in daardie koers. Dan word daar gratis dwelms uitgedeel, soos aas waarmee die visse gelok en aan die hoek gekry word.
Reddingsboeie
Dis in hierdie wêreld dat Mes ’n verskil maak. Dié organisasie wat dekades gelede as ’n sendingaksie van die NG Kerk begin het en nou steeds reddingsboeie bied vir mense vir wie daar waarskynlik geen ander opsies sou wees nie.
Maar Mes is nie maar net ’n organisasie nie. Dis mense. Passievolle mense wat hulle lewe gee om ander mense te help.
Mense soos Ree Shabalala. Vroeër was hy ’n doelskut vir Witbank Black Aces. Maar hy het besluit om ’n ander doel na te streef. Hy wil mense help.

Op Dope Hill is Ree ’n bekende gesig. Hy weet om eers by die “American” te gaan groet en verlof te kry dat ons kan foto’s neem. Die “American” is op ’n manier baas van die plaas. Hy het sy bynaam glo te danke aan sy aksent.
Saam met Ree begelei Pieter Bosch ons. Pieter is een van daardie wit, Afrikaanse dominees wat sy lewe daaraan gewy het om mense van ander kulture en agtergronde te bedien. In die proses het hy ’n wysheid en sagtheid ontwikkel waarmee hy altyd ander mense vorentoe stoot om erkenning te kry.
Hope Hill is vir Mes soms ’n eerste kontakpunt met die swaarkrymense van die gemeenskap. Terwyl ons deurstap vra iemand vir Pieter vir ’n stuk klere. Iemand anders wil by Ree kos hê.
Ja, is die antwoord telkens, Mes kan help, maar daarvoor moet hulle na die Assessment Centre toe kom. Dit is Mes se kantoor aan die onderpunt van die heuwel.
Ontwikkelingsplan
By die Assesment Centre verduidelik Bongani Nxumalo hoe hulle help. Dis duidelik dat Mes nie net sommer kos en klere uitdeel nie. Die gedagte is om mense te help sodat hulle hulleself kan help.
Daarom word daar met elkeen wat kom aanklop om hulp ’n behoorlike onderhoud gevoer. Daar word ’n individuele ontwikkelingsplan opgestel.
Mense word gehelp om weer kontak te maak met familie, sodat daar ’n ondersteuningstelsel vir hulle kan wees. Dis nie altyd maklik nie. Soms is verhoudings erg versteur en dan word daar bemiddel om dit te herstel.
Hulle word gehelp om aansoek te doen vir identiteitsdokumente.
Daar word kospakkies gegee vir gesinne met kindertjies.
’n Verskeidenheid opleidingsprogramme word aangebied.
Daar is baie mans op straat wat kinders het, vertel Bongani. Dikwels voel hulle nutteloos omdat hulle nie geld het om by te dra tot hulle kinders se sorg nie. Vir hulle is daar byvoorbeeld kursusse oor vaderskap, sodat hulle kan leer dat daar ook ander maniere is om ’n bydrae tot hulle kinders se lewe te maak.
Grow
’n Belangrike projek is Grow. Grow is ’n akroniem vir God Restores Our World en dit is die naam vir ’n rehabilitasieprogram vir werkloses. Pleks dat sulke mense hulle wend tot klein diefstal of aggressiewe bedelary, word hulle betaal om die strate te vee of geboue skoon te maak.

Die geld wat hulle daardeur verdien is min, maar Mes help hulle om dit oordeelkundig te gebruik, byvoorbeeld deur te spaar om uiteindelik vir ’n identiteitsdokument te kan aansoek doen – wat op sy beurt weer nuwe deure oopmaak.
En daar is verhale soos dié van die man wat met geld wat hy so verdien het, vir die eerste keer in drie jaar weer huis toe kon bel. So word die legkaart van mense se lewe stukkie vir stukkie aanmekaar gesit.
Honderde mense is al op dié manier gehelp, maar daar word ook nog gesoek na maniere om mense verder op hulle voete te help kom.
’n Entjie van die Assessment Centre af is nog een van die boustene van ’n gesonde lewe: Mes se vaardigheidsopleiding.
Petros Ndlovu vertel van die kortkursus in lewensvaardighede. In ’n klas sit daar groepies jong mense om tafels. In twee weke leer hulle ’n klompie basiese vaardighede aan wat hulle sal help om deur die ingewikkeldhede van die lewe te navigeer.
In ’n ander lokaal sit rye studente agter hul rekenaarskerms. Hier word basiese rekenaarvaardighede aan jongmense oorgedra.
Hulle het al ander kursusse ook aangebied, vertel hy: sekuriteitswerk, naaldwerk, administrasie en meer. Dit hang onder meer af van die geld wat beskikbaar is.
Kleuters
In die gebou langsaan is die Dinaledi Créche. Petros se vrou, Judith Ndlovu, neem daar die leiding.
Om ’n gesonde gemeenskap te bou, is dit noodsaaklik dat die grondslae vroeg reg gelê word. En die 126 kleuters in Dinaledi kry ’n gesonde mengsel van voeding (ontbyt en middagete), allerlei kreatiewe aktiwiteite waardeur basiese vaardighede gevorm word, speeltyd en slaaptyd.
Dis kinders wat in die omgewing bly, vertel Judith. Party se skoolgeld word deur beurse gedra. Ander se ouers het die vermoë om self te betaal.
Af in die straat en om ’n hoek kom ’n mens uit by ’n stewige staal-traliedeur. Dit is Mes se Ekhaya-oornagskuiling.
In die middel van die oggend is die plek verlate. Al mens wat daar is, is Stephen Skosana, die bestuurder.
Soms word mense wat van die straat af kom, van die Assessment Centre af hierheen verwys vir slaapplek. Ander kere is Ekhaya Mes se eerste kontakpunt met mense. Dan verwys Stephen hulle na die Assessment Centre vir verdere hulp.
So 20 tot 30% van die mense wat daar slaap, bly net vir een nag, vertel Stephen. ’n Mens mag hoogstens vir vier maande daar bly. Teen R15 per nag kry jy ’n bed en plek om te stort. Daar is ook ’n TV-area.
Die Hyenas
Maar dis as Stephen van die Hyenas vertel dat sy oë begin blink. Dit is die skaakklub wat hy op die been gebring het. Vir hom is skaak ’n wonderlike manier om mense op te hef.
Hy vertel dat hy die skuiwe vroeg al geleer het, maar toe die lewe hom in Hillbrow laat uitspoel het, het hy by die skaakspelers van Joubertpark geleer van strategie en taktiek. Uiteindelik het hy ’n topspeler geword, en die Hyenas is die huidige Gautengse ligakampioene.
As ’n mens soek na ’n storie van iemand wat op straat beland het, maar vir wie skaak gehelp het om weer doel in die lewe te kry, hoef ’n mens nie verder as na hom self te kyk nie, sê Stephen.
En op ’n manier som dit ook Mes se werk op. Hulle begin op plekke soos Hope Hill met mense ’n pad stap. Hulle help met die basiese dinge soos kos en klere, maar ook met soveel meer. Hulle help met vaardighede, met opleiding, met geleenthede, en as die mense die geleenthede benut, kan hulle, soos die Hyenas, sukses behaal.
As dit gebeur, as iemand die geleenthede wat Mes bied, aangryp en uitstyg bo die gat van ellende, as so iemand iets van sy of haar lewe begin maak, dan, sê Ree, is dit soveel lekkerder as om ’n doel op die sokkerveld te skop.
Impilo sorg vir die armstes
Itumeleng Moetsela is “ons wonderwerk”.
So sê Hermien Owens-Collins, bestuurder van Impilo, die program waardeur Mes gesondheidsorg bied aan van die mees verwaarloosde mense in Johannesburg.

“Die haweloses, die brandarmes, die vreemdelinge – almal vir wie niemand wil hê nie,” som Hermien dit op. “Ons probeer die mense vang wat deur die krake val.”
Vir party mense beteken dit bloot dat Impilo ’n plek is waar hulle met waardigheid kan sterf. Dis wat hulle gedink het met Itumeleng gaan gebeur, maar toe word sy beter, soveel beter dat daar al sprake is van huis toe gaan.
Daar is diegene wat soveel beter word dat hulle na Mes se Assessment Centre toe kan gaan, dalk kan opleiding kry.
Impilo het ook twee mobiele klinieke, een wat spesifiek na mense omsien met weerstandige tering.
Vir Hermien het dit jare gelede begin toe sy vir Mes ’n mobiele kliniek begin het om na straatkinders om te sien.
“Ek het altyd ’n passie gehad vir mense wat platgeslaan is deur die lewe,” sê sy. “Dit is my roeping van God. Ek is in ’n posisie om Jesus met mense te deel.”
Alan se hart is in die stad
Alan Childs (43) het in die middestad van Pretoria grootgeword. As skoolseun het hy reeds aan woonstel-uitreike deelgeneem. Later het sy pad deur kerkplanting in Skotland en studentebediening in Pretoria geloop, maar op ’n manier was middestadbediening altyd op sy radar.
Daarom pas sy nuwe posisie as bestuurshoof van Mes hom eintlik soos ’n handskoen.
Dis ’n omvattende bediening waarvoor hy nou, op 43, verantwoordelik is. Dit sluit in voedingsprojekte, opheffing en opleidingswerk, kleuterskole met vroeë kinderontwikkeling, statutêre en ander maatskaplike dienste, gesondheidsdienste, oornagskuiling en ander behuisingsprojekte – en deur dit alles geestelike werk, die blye boodskap van Jesus Christus.

Die werk is versprei oor Johannesburg en tot in Soweto, in Kemptonpark, Kaapstad en Port Elizabeth.
“Mes is gebore uit die hart van NG mense wat ’n verskil wou maak,” sê Childs.
Sedertdien het Mes ’n selfstandige organisasie geword, maar die verhouding met die NG Kerk is steeds belangrik. Die finansiële steun uit die kerk word kleiner, sê Childs, maar deur die Christelik-Maatskaplike Rade en deur geestelike werk is daar nog heelwat betrok-kenheid van die kerk by Mes se werk.
Oor sy personeel praat hy met die grootste respek: “passievolle, selflose mense” noem hy hulle. Daar is van hulle wat self van die straat af kom, wat onder bokse geslaap het, vertel hy. Mense wat later self agente van verandering word.
Daar is buitelanders wat hulleself kom uitgiet vir ander. Kinders sien dit raak, sê Childs, en dit word ’n teenvoeter vir xenofobie.
Waar hy nou is, sien hy hoe mense se lewe verander. Hy is gelukkig. Hy kan sy missionale passie uitleef.
